YouVersion Logo
Search Icon

Matteus 6

6
Doen goeie dinge vir ander op die regte manier
1“Wanneer julle besluit om goeie dinge vir ander mense te doen, moet julle eers seker maak hoekom julle dit doen. Moenie ’n openbare skouspel daarvan maak sodat ander julle kan raaksien nie. As julle op soek is na die applous van ander mense, skuld God julle niks meer nie. Dan het julle klaar julle beloning gekry.
2“Moenie ’n ophef daarvan maak as jy ’n arm persoon help nie. Net skynheilige mense doen dit. Hulle maak ’n groot bohaai wanneer hulle die armes help sodat almal dit kan raaksien en mooi dinge oor hulle kan sê. Onthou: God skuld hulle nou niks meer nie.
3“Wanneer jy mense help, mag niemand daarvan weet nie. 4Jy moet dit stil-stil doen. Jou linkerhand moet nie eens weet wat jou regterhand doen nie. Onthou: jou hemelse Vader sien wat jy vir ander doen. Hy sal wel sorg dat jy jou hemelse beloning kry.”
Hoe om te bid
5“As jy bid, moet jy nie soos die skynheiliges maak nie. Hulle bid graag voor ander mense tydens godsdienstige byeenkomste sodat hulle moet hoor hoe mooi hulle bid. God skuld sulke mense niks meer nie. Hulle het mos klaar hulle prys hier op aarde gekry.
6“As jy bid, gaan dan na ’n stil plek toe waar niemand jou kan sien nie. Trek die deur agter jou toe en praat daar eenkant opreg met jou hemelse Vader. Hy sal sorg dat jy jou hemelse beloning kry.
7“Moet ook nie dieselfde rympie oor en oor sê wanneer jy bid nie. Party mense wat God nie reg ken nie, bid so. Hulle dink dat hulle Hom met ’n stortvloed woorde kan ompraat om na hulle te luister. 8Moenie soos hulle maak nie. Onthou: jou Vader in die hemel weet presies wat jy nodig het. Nog voordat jy bid, weet Hy al lankal wat in jou kop aangaan.
9“Hier is ’n voorbeeld hoe jy moet bid:
Ons Vader in die hemel, laat almal op aarde groot eerbied vir u heilige Naam hê. 10Laat u nuwe wêreld tog gou aanbreek. Almal in die hemel doen wat U sê. Gee dat almal hier op die aarde ook doen wat U wil hê. 11Gee ons vandag genoeg om van te leef. 12Vergeef ons waar ons nie doen wat U van ons vra nie, net soos ons ander mense vergeef wat nie reg teenoor ons optree nie. 13Help ons om nooit te swig voor versoekings nie, en pas ons op wanneer die duiwel ons wil verlei om verkeerde dinge te doen.
14“As julle ander mense vergewe wanneer hulle iets verkeerds teen julle gedoen het, sal julle hemelse Vader ook julle sondes vergeef. 15Moet egter nie dink God sal julle sondes vergewe as julle nie bereid is om ander mense te vergeef nie.”
Hoe om te vas
16“Wanneer julle julle so ernstig aan God toewy dat julle nie eens wil kos eet nie, moet julle nie soos die skynheiliges maak nie. In sulke tye loop hulle met ’n lang gesig rond sodat almal kan sien hulle vas. Ek sê weer: sulke mense het klaar hulle beloning weg. 17Moenie ’n spektakel van julle godsdiens maak nie. Gaan normaalweg aan met julle lewe wanneer julle vas: kam julle hare, was julle gesigte. Lyk netjies sodat niemand agterkom dat julle besig is om ernstig te bid nie. 18Slegs julle hemelse Vader hoef dit te weet. Hy sal wel sorg dat julle julle hemelse beloning kry.”
Maak julle rekening op die regte plek oop
19“Hou op om van die oggend tot die aand agter geld aan te hardloop. Niks hou hier vir altyd nie. Diewe breek oral in en steel, motte en goggas vreet alles op en ouderdom laat dinge vergaan. 20Maak eerder vir julle ’n bankrekening daar by God in die hemel oop. Geen dief kan ooit daar inbreek om iets te probeer steel nie.
21“Die dinge waarmee jy jou van vroeg tot laat besig hou, sê wat die belangrikste in jou lewe is. Jou lewe wys waar jy jou ‘rekening’ oopgemaak het.
22“As jy hemelse skatte wil opgaar, sorg dan dat jy jou oë deur die Here laat instel sodat jy op die regte manier daarmee kan kyk. Jou oë is soos ’n lig. As jy op die regte manier daarmee kyk, maak dit alles in jou lewe helder. 23Maar as jy jou oë nie deur God laat instel nie, maak jou oë jou hele lewe pikdonker. As daar geen goddelike lig in jou lewe skyn nie, is dit regtig nag binne-in jou.
24“Niemand kan vir twee base werk nie. Jy sal lojaal teenoor een wees en die ander een afskeep. Moet daarom nie eens daaraan dink om God en die geldgod saam te probeer dien nie. Jy moet kies in wie se diens jy wil staan.”
Hou op om julle te bekommer
25“Moenie gedurig loop en julle bekommer nie. Moenie van vroeg tot laat vra: ‘Gaan ek genoeg hê om te eet?’ of: ‘Gaan ek genoeg hê om aan te trek?’ nie. Die lewe gaan tog oor baie meer as kos en klere. 26Kyk ’n slag na die voëls: hulle het nie groot skure waarin hulle elke dag hulle kos bêre nie. Tog is hulle nooit honger nie. God sorg dat hulle elke dag genoeg het om te eet. Weet julle, julle is baie meer werd vir God as al die voëls in die hemel. 27Daarom help al julle bekommernis net mooi niks. Dit gaan nie julle lewe met een enkele dag verleng nie. Allesbehalwe!
28“Julle moet ook nie sit en tob oor wat julle elke dag moet aantrek nie. Kyk gerus ’n bietjie in die veld hoe mooi die lelies lyk wat daar groei. Hulle werk nie van vroeg tot laat om so deftig te lyk nie. 29Tog was nie eens daardie skatryk koning Salomo ooit so mooi aangetrek soos een van hulle nie.
30“As God soveel aandag gee aan hoe die veldgras lyk, wat vandag nog groei en môre weer dood is, sal Hy mos vir julle ook sorg. 31Hou dan op om so kleingelowig te wees! Hy sal sorg dat julle genoeg het om aan te trek. Hou op om te sê: ‘Wat gaan ons vandag eet en drink?’ of: ‘Wat gaan ons vandag aantrek?’ 32As julle dit doen, tree julle op soos mense wat God glad nie ken nie. Julle het mos ’n Vader in die hemel wat presies weet wat julle nodig het. Hy sal sorg dat julle dit alles kry.
33“Stel God se koninkryk eerste. Doen net daardie dinge wat vir Hom belangrik is. Hy sal vir die res sorg. Hy sal elke dag vir julle genoeg kos en klere gee. En los môre se probleme vir die dag van môre. Van probleme het elke dag immers oorgenoeg. Leef vandag voluit vir God!”

Currently Selected:

Matteus 6: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy