YouVersion Logo
Search Icon

Matteus 27

27
Judas kom sy fout agter
1Met sonsopkoms het die Joodse leiers hulle besluit beklink: Jesus moes doodgemaak word. 2Daarom het hulle Hom geboei en na Pilatus, die goewerneur, gestuur.
3Judas, wat Hom verraai het, het alles mooi dopgehou. Toe hy agterkom wat die Joodse leiers oor Jesus besluit het, het hy vreeslik sleg gevoel. Sy gewete het hom begin pla. Hy het die omkoopgeld gevat en dit vir die Joodse leiers gaan teruggee. 4“Dè, vat! Ek het ’n groot fout gemaak. Ek het ’n onskuldige man in die moeilikheid laat beland.”
“Dit is jou saak. Dit pla ons nie,” sê die Jode. 5Judas gooi toe die geld net daar in die tempel neer en hardloop weg. Later het hulle hom gekry waar hy homself opgehang het.
6Die priesters het die geld gevat en gesê: “Dit is jammer, maar ons kan nie hierdie geld as kollekte vir die tempel vat nie. Dit is mos geld wat vir iemand se lewe betaal is.” 7Hulle het besluit om die geld te gebruik om ’n begraafplaas aan te skaf vir vreemde mense wat nie familie in Jerusalem gehad het om hulle te begrawe nie. Hulle het ’n stuk grond by ’n pottebakker gekoop. 8Daarom is daardie begraafplaas tot vandag toe nog bekend as “Bloedgrond”.
9Dit was net soos die profeet Jeremia lank terug gesê het:
“En hulle het die 30 stukke silwer gevat, die prys wat die Israeliete op sy kop gesit het, 10en dit vir die grond van die pottebakker betaal. Dit is die Here se instruksies aan my.”
Die Jode kies Barabbas teen Jesus
11Jesus het daarna voor die goewerneur verskyn. “Is jy die koning van die Jode?” vra die goewerneur.
“Ja, u sê dit self,” antwoord Jesus. 12Hy het egter niks gesê op die aanklagte van die Joodse leiers nie.
13Pilatus gaan toe voort: “Luister net wat hierdie mense alles oor jou sê. Wil jy nie jouself verdedig nie?” 14Tot die goewerneur se verbasing wou Jesus nie ’n woord sê nie.
15Die goewerneur het gewoonlik met die fees ’n gevangene vir die mense losgelaat. Hulle kon self kies wie. 16Daar was toe juis ’n sekere Jesus Barabbas in die tronk. Hy was ’n baie berugte terroris. 17Pilatus sê vir die mense: “Ek gee julle die keuse. Wie wil julle hê moet ek loslaat, Jesus Barabbas of Jesus, die een wat Christus genoem word?” 18Pilatus het diep in homself geweet dat die Joodse leiers net jaloers was op Jesus. Om hierdie gevoel van hom te versterk het iets anders ook nog gebeur. 19Terwyl die hofsaak aan die gang was, het Pilatus se vrou hom laat weet: “Ek het vannag die verskriklikste nagmerrie oor daardie man gehad. Hy is onskuldig. Los hom!”
20Die Joodse leiers het intussen die mense omgepraat om te vra dat Barabbas losgelaat en Jesus doodgemaak moes word. 21Pilatus vra hulle: “Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat?”
“Barabbas!” skreeu hulle.
22“Wat moet ek dan met Jesus, wat Christus genoem word, doen?”
“Kruis toe met hom!” skreeu hulle soos een man. 23Pilatus vra: “Vir wat is julle so kwaad vir hom? Wat het hy dan gedoen om dit te verdien?”
Hulle het hulle nie aan sy vraag gesteur nie, maar net harder geskreeu: “Kruis toe met hom!” 24Pilatus het agtergekom dat hy dit nie gaan regkry om Jesus los te laat nie. Die mense het net al hoe rumoeriger geword. Hy het besef dat dit ’n oproer kon veroorsaak. Hy kry toe ’n bak water en was sy hande daar voor almal. “Ek wil niks meer met die saak te doen hê nie. Wat verder gebeur, is nie my skuld nie. Gaan doen julle nou wat julle wil.”
25Die hele volk roep daarop: “Moenie bekommerd wees nie. Ons sal die verantwoordelikheid dra, ons en ons kinders!”
26Pilatus het Barabbas losgelaat en Jesus laat gesel. Daarna het hy gesê dat hulle Jesus maar kon kry om Hom te kruisig.
Jesus word gekruisig
27Die goewerneur se soldate het Jesus in Pilatus se paleis ingevat en ’n klomp ander soldate geroep. 28Hulle pluk toe sy klere van Hom af en trek vir Hom pers klere aan. 29Hulle vleg ook ’n kroon van doringtakkies en druk dit op sy kop. In sy regterhand stop hulle ’n stok. Dit was kamma sy septer. Toe begin hulle met Hom gekskeer. Hulle buig voor Hom en sê spottend: “Goeiedag, U Edele, o koning van die Jode!” 30Hulle het Hom ook bespoeg en Hom met sy “septer” oor die kop geslaan.
31Nadat hulle hulle genoeg vermaak het met die spottery, het hulle die pers klere teruggevat en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Daarna het hulle die pad gevat na die plek toe waar hulle gewoonlik die mense gekruisig het. 32Op pad kry hulle vir Simon. Hy het uit Sirene in Afrika gekom. Voor hy hom kom kry, moes hy Jesus se kruis verder dra. 33So is hulle na die plek wat Golgota, oftewel “Plek van die Kopbeen”, genoem is. 34Hulle wou vir Jesus wyn wat met galbitter kruie gemeng is as pynstiller gee. Toe Jesus dit proe, wou Hy dit nie drink nie.
35Hulle het Jesus toe daar gekruisig.
Die soldate het Jesus se klere onder mekaar verdeel deur lootjies te trek. 36Daarna het hulle naby die kruis gaan sit en wag. 37Bokant Jesus se kop was ’n nota vasgesit: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.” 38Twee terroriste is ook saam met Hom gekruisig, een aan elke kant van Hom.
39Die mense wat daar verbygeloop het, het net hulle kop geskud. Hulle het Jesus bespot en die lelikste dinge oor Hom gesê. 40“Jy het so gespog dat jy die tempel sal afbreek en in drie dae weer sal opbou. Toe, wys nou wat daar in jou steek! As jy regtig die Seun van God is, red jouself. Klim daar van die kruis af, as jy natuurlik kan.” 41Die Joodse leiers en geleerdes het ook lekker saamgespot: 42“Hy het ander gered. Nou is hy self in die moeilikheid en kan skielik niks doen nie. Ja-nee, dit is nou vir jou die ‘koning van Israel’, nè! As hy nou daar van die kruis afkom, sal ons sowaar in hom glo. 43Hy was so seker dat God aan sy kant is. Hy het selfs beweer dat hy die Seun van God is. Wel, laat ons nou sien. God sal hom mos kom help as al hierdie dinge waar is.” 44Die terroriste langs Hom het ook nie op hulle laat wag nie. Hulle het Jesus lekker saam met die ander gekoggel.
45Skielik word alles oor daardie hele gebied donker. Tussen twaalfuur en drie-uur was dit donker. 46Teen drie-uur skreeu Jesus hard: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” oftewel: “My God, my God, waarom het U My alleen gelaat?”
47Van die omstanders het Hom gehoor en gesê: “Hy roep Elia!” 48Een van hulle gaan haal ’n spons met suur wyn en gee dit vir Hom op ’n stok. 49“Wag so ’n bietjie,” sê ’n ander, “laat ons kyk of Elia hom nie dalk sal kom afhaal nie.” 50Al wat egter gebeur het, was dat Jesus hard geskreeu het en toe dood is.
51Net toe het die gordyn wat die vertrekke in die tempel verdeel het, middeldeur geskeur van bo na onder. Die aarde het gebewe en rotse het verkrummel. 52Grafte het oopgegaan en baie gelowige mense wat reeds begrawe was, 53het uit die grafte gekom. Hulle is Jerusalem in. Daar het baie mense hulle gesien.
54Die offisier en die ander soldate wat daar by die kruis diens gedoen het, het hierdie aardbewing en al die ander dinge wat gebeur het, staan en bekyk. Dit het hulle baie bang gemaak. “Hy was sowaar die Seun van God,” het hulle gestamel. 55Heelwat vroue het op ’n afstand gestaan en kyk. Hulle het Hom van Galilea af gevolg en vir Hom gesorg. 56Onder hulle was Maria Magdalena, Maria, die ma van Jakobus en Josef, asook die ma van die Sebedeus-broers.
Jesus word begrawe
57Dit het al laat begin word. ’n Ryk man, Josef van Arimatea, wat ook ’n volgeling van Jesus was, het daar aangekom. 58Hy het vir Pilatus die liggaam van Jesus gaan vra. Pilatus het beveel dat die liggaam vir hom gegee moes word.
59Josef het die liggaam in skoon linnedoeke toegedraai en 60dit in ’n graf gaan begrawe. Die graf het aan hom behoort. Dit was ’n nuwe graf wat hy self in die rots laat uitkap het. Omdat die graf byna soos ’n grot was, het hy ’n groot rots voor die ingang gerol. Daarna is hy weg. 61Maria Magdalena en die ander Maria het egter voor die graf bly sit.
62Die volgende dag, net na die voorbereidings vir die paasfees, is die Joodse leiers en die Fariseërs na Pilatus toe. 63“U Edele,” het hulle gesê, “iets het ons intussen bygeval. Toe daardie bedrieër nog geleef het, het hy beweer dat hy na drie dae uit die dood opgewek sal word. 64Wees asseblief so vriendelik om opdrag te gee dat die graf drie dae lank goed opgepas word. Sy dissipels sal hom dan nie kan kom steel en die storie vir almal vertel dat hy uit die dood opgewek is nie. So ’n storie sal baie erger wees as die een dat hy opgewek gaan word!”
65Pilatus sê vir hulle: “Nou maar goed; julle het julle wagte. Gaan pas die graf so goed op as wat julle kan.” 66Hulle is toe daar weg om die graf te gaan oppas. Hulle het nie slegs die ingang met die klip toegemaak nie, maar ook wagte daar gelos.

Currently Selected:

Matteus 27: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy