YouVersion Logo
Search Icon

Josua 11

11
Israel oorwin koning Jabin
en sy bondgenote in die noorde
1Toe die nuus van Israel se oorwinnings koning Jabin van Hasor bereik, het hy dadelik boodskappe aan die volgende konings gestuur: koning Jobab van Madon, die konings van Simron en Aksaf, 2die konings in die noordelike bergagtige gebiede, dié in die Jordaanvallei suid van Gennesaret, die konings wat in die vlakte gebly het, asook dié wat in die gebied Dor gebly het, dit is die westelike gebied tussen Karmel en Sesarea teen die kus van die Middellandse See. 3Ook aan die Kanaäniete in beide die oostelike en westelike gebiede en die Amoriete, die Hetiete, die Feresiete, die Jebusiete in die berggebiede en die Hewiete wat aan die voet van die berg Hermon gebly het, naby die gebied van Mispa. 4Al hierdie konings het onmiddellik op die boodskap gereageer en gereedgemaak vir oorlog. Hulle gesamentlike leër saam met hulle perde en strydwaens was so groot dat hulle soos die sandkorrels op die strand gelyk het. 5Hierdie gesamentlike mag het hulle kamp by die meer van Merom opgeslaan, gereed vir die oorlog teen die Israeliete. 6Maar die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie. Teen dié tyd môre gee Ek hulle oor aan Israel om hulle almal dood te maak. Jy moet hulle perde se hakskeensenings afsny en hulle strydwaens verbrand.” 7Josua en sy soldate is toe af na Merom toe, waar hulle ’n verrassingsaanval op die ander leër geloods het. 8Die Here het vir Israel die oorwinning gegee. Toe die vyand vlug, het hulle hulle agternagesit tot so ver noord as Sidon-Rabba en Misrefot-Majim en ook tot by die vallei van Mispa in die ooste. Hulle het nie opgehou voordat hulle die hele mag uitgeroei het nie.
9Josua het gedoen wat die Here gesê het hy moet doen: hy het hulle perde se hakskeensenings afgesny en hulle strydwaens verbrand. 10Daarna het Josua omgedraai, terug na Hasor toe. Ook dié stad het hy ingeneem en sy koning doodgemaak. Hasor was voorheen die magtigste van al die koninkryke in daardie omgewing. 11Die Israeliete het al die inwoners van die stad doodgemaak en die stad totaal en al afgebrand en vernietig. 12Josua het ook al die stede van die ander konings ingeneem en die konings en die mense daarin uitgeroei volgens die opdrag van Moses die Here se dienaar. 13Behalwe vir Hasor het hulle nie een van die ander ou, gevestigde stede afgebrand nie. 14Die Israeliete het die buit en al die vee van die stede vir hulleself gevat, maar die inwoners het hulle doodgemaak. 15Die opdragte wat die Here vir Moses sy dienaar gegee het, het Moses net so aan Josua oorgedra. Josua het dit alles stiptelik uitgevoer.
Die gebied wat Josua ingeneem het
16Josua het die hele land ingeneem: die bergagtige gebiede, die hele suidelike deel, asook die hele gebied van Gosen, die laerliggende dele, die Jordaanvallei en die Israelberge met hulle voetheuwels. 17-18Die gebied het gestrek van die Kaalberg in die suide, wat oploop na Seïr toe, tot by Baäl-Gad, aan die voet van die berg Hermon in die Libanonvallei in die noorde. Josua was lank in ’n oorlog met die konings van hierdie gebied gewikkel, maar hy het hulle uiteindelik almal verslaan en doodgemaak. 19Behalwe die Hewiete wat in Gibeon gebly het, was daar nie een ander stad wat met die Israeliete ’n vredesverdrag gesluit het nie. Hulle is almal in gevegte verslaan. 20Die Here het toegelaat dat hulle hardkoppig bly. Hulle het toe in oorloë met die Israeliete betrokke geraak en is voor die voet vernietig, volgens die Here se opdrag aan Moses. 21In dié tyd het Josua ook die Enakiete in die berge van Hebron, Debir en Anab, asook in die berggebiede van Juda en Israel, uitgeroei. 22Daar het geen Enakiete in die gebied van die Israeliete oorgebly nie. Hier en daar in die gebiede van Gasa, Gat en Asdod was daar klein groepies van hulle oor. 23Volgens die Here se opdrag aan Moses het Josua die hele land ingeneem. Hy het dit aan die Israeliete as hulle besitting gegee deur dit gelykop onder die stamme te verdeel. Na ’n ruk was die land uiteindelik vry van oorlog.

Currently Selected:

Josua 11: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy