YouVersion Logo
Search Icon

Hosea 10

10
Hulle is nie meer belangrik nie
1“Israel was soos ’n wingerd. Daar het swaar druiwetrosse aan hom gehang. Hoe voorspoediger dit egter met hom gegaan het, hoe meer offerplekke het hy vir die afgode gebou. Hoe groter die oeste was wat hy bymekaargemaak het, hoe mooier was die regop klippe wat hy vir die afgode in die grond geplant het. 2Israel sal gestraf word omdat hy ook afgode gedien het. Die Here sal al daardie offerplekke wat hulle gebou het, met die grond gelykmaak. Hy sal daardie klippe omgooi wat hulle ingeplant het. 3Dan sal hulle sê: ‘Ons het nie meer ’n koning nie. Ons het mos nie respek vir die Here gehad nie. Maar wat maak dit in elk geval saak? ’n Koning sou nou niks vir ons kon doen nie.’ 4Hulle praat baie maklik. Hulle maak beloftes wat niks beteken nie. Hulle sluit ooreenkomste wat hulle niks help nie. Die uitsprake wat hulle regters in die hof maak, het geen betekenis nie. Dit is soos gifplante in die veld waarmee jy niks kan doen nie.
5“Die mense wat in Samaria bly, gaan sleg voel oor die kalf by Bet-Awen wat van goud gemaak is. Die volk en die mans wat vir hom offers gebring het, sal oor hom huil. Hulle sal hardop huil omdat hy nie meer belangrik is nie. 6As hulle Assirië toe gaan, sal hulle die kalf saamvat om dit vir die koning van Assirië present te gee. Efraim sal in die skande kom. Israel gaan skaam wees dat hy ooit op die beeld vertrou het. 7Samaria sal afgebreek word. Sy koning sal weggevat word. Hy sal soos ’n stuk hout wees wat op die water wegdryf. 8Die koppies by Awen waarop Israel sy offers vir die afgode gebring het, sal kaal en verlate daar lê. Daar sal dorings en bossies groei bo-oor die altare wat hulle gebou het. Hulle sal die berge soebat: ‘Val tog asseblief op ons!’ Hulle sal vir die heuwels vra: ‘Maak ons heeltemal toe. Steek ons weg.’”
Daar kom oorlog
9“Van Gibea se tyd af het Israel maar net aangehou om sonde teen die Here te doen. Hulle het net nooit opgehou nie. Is daar dan ’n beter plek as Gibea waar die oorlog teen hierdie oortreders kan begin? 10Ek het besluit dat Ek hulle sommer self sal aanval. Die nasies sal saamstaan om teen hulle oorlog te maak. Hulle sal hulle kom straf vir alles wat hulle verkeerd gedoen het.
11“Aan die begin was Efraim soos ’n jong bees wat geleer was om oor die graan op die dorsvloer te loop om dit uit te trap. Sy was gewillig om hierdie maklike werk te doen. Ek het toe ’n juk op haar mooi nek gesit om haar te leer om ook die lande om te ploeg. Efraim sou die sooie omploeg. Juda sou agterna kom en die grond plat eg. 12Ek het vir hulle gesê: ‘Plant in die grond wat reg en billik is, en julle sal liefde daaruit oes. Breek met die ploeg nuwe grond oop. Soek in hierdie tyd na die Here. Hy sal dan kom en Hy sal alles wat goed en reg is, op julle laat kom soos reën wat val.”
13“Maar julle het alles wat vol haat is in die grond ingeploeg. Julle het toe slegte dade daarvan geoes. Julle sal moet saamleef met dit wat gevolg het toe julle ander begin bedrieg het. Julle het daarop staatgemaak dat julle reg is om in die oorlog te gaan veg. Julle het vertroue gehad in julle weermag. 14Daar gaan groot oorlog teen jou volk kom. Die skuilplekke wat jy gebou het, gaan inmekaarstort. Dit gaan ’n slagting vol bloed wees. Dit sal net so erg wees soos die dag toe Salman teen Bet-Arbel oorlog gemaak het. Toe is ma’s saam met hulle kinders doodgeslaan. 15Dit is wat met julle by Bet-El gaan gebeur. Omdat julle so baie kwaad gedoen het, gaan julle verloor. Die koning van Israel sal sommer al aan die begin van die geveg doodgemaak word.”

Currently Selected:

Hosea 10: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy