Parallel
48
Jakob seën vir Efraim en Manasse
1Na ’n ruk het hulle vir Josef kom sê dat sy pa baie siek is. Josef is dadelik soontoe. Hy het ook sy twee seuns, Manasse en Efraim, saamgeneem. 2Toe hulle vir Jakob sê dat Josef-hulle daar is, was Jakob so bly dat hy sommer sterk gevoel en regop in die bed gesit het.
3Jakob het weer vir Josef sy lewensverhaal vertel. “Lank gelede,” so het Jakob begin, “het die almagtige God na my toe gekom in Lus (dit is Bet-El), in die land Kanaän. Daar het Hy my geseën en wonderlike dinge vir my gesê. 4Hy het beloof dat ek ’n groot nageslag sal hê en dat hulle uit verskillende volke sal bestaan. Verder het Hy gesê dat my nageslag nog eendag in die land Kanaän sal woon en dat hulle die land vir altyd sal besit. 5Hierdie twee seuns van jou, Efraim en Manasse, wat in Egipte gebore is lank voordat ek hier aangekom het, sal soos my eie kinders wees. Net soos Ruben en Simeon my eie kinders is, sal jou twee seuns ook myne wees. 6Jou seuns wat na hulle twee gebore is, sal joune wees en hulle sal deel van Efraim en Manasse se stamme wees en in hulle erfenis deel. 7Ek sal jou twee seuns seën ter wille van jou ma, Ragel. Sy is destyds op pad van Paddan-Aram af na Kanaän toe dood, tot my groot verdriet. Net duskant Efrata (wat ons vandag Betlehem noem) is sy dood en ek het haar daar langs die pad begrawe.”
8Jakob het dofweg twee seuns langs Josef gesien en gevra: “Wie is die seuns daar langs jou?”
9Josef het geantwoord: “Dis die seuns wat God vir my hier in Egipte gegee het.”
En Jakob het gesê: “Bring hulle nader dat ek hulle kan seën.”
10As gevolg van sy hoë ouderdom was Jakob se oë baie swak en kon hy skaars sien. Josef het toe die seuns nader gebring en Jakob het hulle omhels en gesoen. 11Jakob het vir Josef gesê: “Ai, Josef, ek het nooit gedink dat ek jou ooit weer sou sien nie, en nou sien ek ook jou twee seuns.”
12Josef het die kinders van Jakob se skoot afgetel en in eerbied voor sy pa gebuig. 13Josef het Efraim aan Jakob se linkerkant en Manasse aan sy regterkant laat staan. 14Jakob het toe sy hande oorkruis geplaas met sy regterhand op Efraim, die jongste broer, se kop. Sy linkerhand het hy op Manasse, die oudste, gesit.
15Jakob het Josef toe geseën: “Mag die God vir wie Abraham en Isak baie lief was, naby aan hierdie twee seuns wees. En mag die God wat altyd by my was en my in alles gehelp het, julle gelukkig maak.
16“Mag die God wat my altyd uit alle gevare gered het, by julle wees. Mag my naam en die geloof van Abraham en Isak in hierdie twee seuns voortleef. Mag hulle baie kinders en ’n groot nageslag hê.”
17Josef was omgekrap toe hy sien sy pa het sy regterhand op Efraim se kop gesit. Hy het sy pa se hand gevat, dit op Manasse se kop gesit en toe gesê: 18“Nee, Pa, nie so nie. Manasse is mos die oudste. Sit nou Pa se hand op sy kop.”
19Halfkwaad het Jakob gesê: “Ek weet, my seun, ek weet wat ek doen. Manasse se kinders sal inderdaad ’n groot nasie word, maar Efraim, sy jonger broer, sal die grootste wees en sy nageslag die belangrikste, ’n groot nasie.”
20Met hierdie woorde het Jakob sy kleinseuns geseën. “Omdat dit met julle twee goed sal gaan,” het hy verder gesê, “sal dit ook met die hele Israel goed gaan. As mense mekaar groet, sal hulle sê: ‘Ek hoop dit gaan met jou so goed soos met Efraim en Manasse.’” Jakob het Efraim belangriker geag as Manasse.
21Jakob het toe na Josef toe gedraai en gesê: “Soos jy sien, is ek besig om te sterf. Moenie bang wees nie, want die Here is met jou. Eendag sal Hy jou na die land van jou eie mense terugneem. 22Ek gee Sigem vir jou. Dit is die plek wat ek destyds nog met swaard en boog van die Amoriete afgeneem het. Dit sal joune wees en joune alleen.”