Parallel
47
Jakob verskyn voor die farao
1Josef het toe alles vir die farao gaan vertel en gesê: “My pa en my broers het toe uiteindelik veilig uit Kanaän hier aangekom. Hulle het al hulle vee en besittings saamgebring. Hulle woon op die oomblik in die omgewing van Gosen.”
2Josef het vooraf vyf van sy broers gevra om saam met hom na die koning toe te gaan. 3Die koning het vir hulle gevra: “Wat is julle beroep?”
Hulle het gesê: “Ons boer met kleinvee, U Majesteit. Net soos ons voorouers al jare lank doen. 4Ons het Egipte toe gekom om hier ’n weiplek vir ons vee te soek. Die hongersnood in Kanaän is so erg dat daar geen kos vir mens of dier meer is nie. Eintlik is ons vreemdelinge hier, maar ons wil U Majesteit tog vra of ons nie in Gosen kan aanbly nie.”
5Die farao het hom na Josef toe gedraai en gesê: “Uiteindelik is jou pa en jou broers hier! 6Egipte lê vir hulle oop. Laat jou pa en jou broers in die beste dele van die land gaan bly. As hulle egter van Gosen hou, kan hulle daar aanbly. En as daar van jou broers is wat goeie veeboere is, kan hulle my veekuddes oppas.”
7Toe het Josef Jakob laat binnekom en hom aan die koning voorgestel. Jakob het voor hom gebuig en die koning gegroet. 8“Hoe oud is jy, Jakob?” het die koning gevra.
9“Ek is al 130 jaar oud, U Majesteit,” het Jakob geantwoord. “Dit is eintlik nie oud nie. In vergelyking met my voorvaders is my jare maar min. My lewe was egter hard en vol swaarkry.”
10Na ’n ruk het Jakob die koning gegroet en vertrek.
11Josef het sy pa en broers gehelp om in Egipte gevestig te raak. Hy het hulle in Ramses, die beste deel van Gosen, laat woon en toegesien dat hulle grondregte besit. En hy het gemaak soos die koning gesê het. 12Hy het ook elke dag vir hulle gesorg. Daar was genoeg vir almal. Van die oudste tot die jongste het kos gehad.
Die hongersnood word erger
13Intussen het die hongersnood so erg geword dat daar nêrens meer kos te koop was nie. Die mense van Egipte en Kanaän het al hoe swakker van die honger geword. 14Josef het al die geld in Egipte en Kanaän waarmee die mense vir die koring betaal het, in die paleis bewaar.
15Naderhand het die mense van Egipte en Kanaän nie meer geld gehad nie. Hulle het alles op koring en kos bestee. Die Egiptenaars het toe vir Josef gesê: “Asseblief, Meneer, gee tog net vir ons kos. Ons het niks om u mee te betaal nie, want al ons geld is op. Moet tog net nie dat ons van die honger doodgaan nie.”
16“Goed,” het Josef geantwoord, “as julle geld op is, bring dan julle veekuddes. In ruil daarvoor sal ek vir julle kos gee.”
17So het hulle dan hulle kuddes vir Josef gebring. In ruil vir hulle perde, skape, bokke, beeste en donkies het Josef vir hulle kos gegee. In daardie jaar het Josef kos vir die mense se vee begin ruil. 18Die volgende jaar het dit nog slegter gegaan en die mense het vir Josef gesê: “Meneer, ons kan dit nie meer wegsteek nie en daarom wil ons eerlik vir Meneer sê dat ons niks het nie. Al ons geld is op en al ons vee behoort aan u. Al wat ons nou nog het, is ons liggame en ons grond. 19Meneer, moet tog nie dat ons van die honger doodgaan nie. En moet tog nie dat ons landerye onbewerk en vol onkruid lê nie. Koop dan liewer vir ons en ons landerye en betaal ons met kos. Ons kan maar die koning se werkers word en hy kan maar ons grond besit. As Meneer net vir ons saad kan gee, sal ons bly leef en ons grond sal ook nie verwoes word nie.”
20Josef het al die grond in Egipte vir die koning opgekoop. Omdat die hongersnood so groot was, het die Egiptenaars geen ander keuse gehad as om hulle grond te verkoop nie. Al die grond het toe die koning se eiendom geword. 21Al die mense van Egipte het toe die koning se slawe geword. 22Slegs die priesters se grond het Josef nie opgekoop nie. Hulle het ’n toelaag en kos van die koning ontvang en dit was nie nodig om hulle grond te verkoop nie.
23Josef het vir die mense gesê: “Ek het julle en al julle grond vir die koning opgekoop. Hier is saad waarmee julle julle landerye kan bewerk. 24Wanneer die oestyd kom, moet julle ’n vyfde daarvan vir die koning gee. Die res is julle s’n. Julle kan dit as saad gebruik of vir julle gesinne en veral vir die kinders kos maak daarvan.”
25Hulle het geantwoord: “Meneer, u was baie goed vir ons en u het ons lewe gered. Ons sal graag vir die koning wil werk.”
26Josef het dit ’n landswet gemaak dat ’n vyfde van die oes aan die koning behoort. Dit is vandag nog in Egipte so. Net die priesters se tempelgronde het nie die koning se eiendom geword nie.
Jakob se versoek
27So het Jakob en al sy mense toe in Egipte gaan woon. Hulle het in Gosen gebly en baie grond en diere gekoop. In die nuwe land het hulle kort voor lank ’n groot klomp mense geword. 28Jakob het nog sewentien jaar in Egipte geleef. Hy het 147 jaar oud geword. 29Toe Jakob naby sy einde was, het hy Josef laat roep. “Josef,” het hy gesê, “as jy my werklik gelukkig wil maak, moet jy my iets beloof. Kom, sit jou hand hier op my heup en gee my jou woord dat jy my nie in Egipte sal begrawe nie. As jy dit beloof, sal dit vir my ’n teken van jou liefde vir my wees. 30As ek dood is, moet jy my liggaam uit Egipte wegneem en my in Kanaän by my eie mense gaan begrawe. Ek vra jou mooi, Josef, doen dit vir my.”
Josef het geantwoord: “Dit is goed so. Ek sal doen wat Pa vra.”
31“Nee, jy moet my jou erewoord gee,” het Jakob aangedring. Josef het sy pa weer beloof dat hy hom in Kanaän sal begrawe. Jakob het langs sy bed gebuig en die Here gedank.