Genesis 45
DB
45
Josef sê uiteindelik wie hy is
1Josef kon dit nie meer langer hou nie en het vir die ander gesê om uit te gaan. Niemand anders was by nie toe Josef begin praat. 2Na ’n paar woorde het hy in trane uitgebars. Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars dit gehoor het. Selfs die mense in die farao se huis het dit gehoor. 3Na ’n ruk het hy weer probeer: “Ek is Josef! Leef Pa werklik nog en is dit waar dat hy nog gesond is?” Sy broers was totaal en al stomgeslaan.
4“Kom ’n bietjie nader,” het hy vir hulle gesê. Stadig en bang het hulle nader geskuifel. Toe het hy weer gepraat: “Ek is julle broer Josef. Julle onthou nog die dag toe julle my verkoop het? 5Moenie bang wees nie en moet julleself ook nie meer verwyt nie. Eintlik was dit God wat alles so laat gebeur het. Hy het my Egipte toe laat kom sodat ek julle in hierdie honger jare kan help. 6Twee verskriklike jare van hongersnood is al verby en vyf moeilike jare lê nog voor. Niemand sal op die lande werk nie en daar sal ook geen oes wees nie. 7God het my solank Egipte toe gestuur sodat ek vir julle kos kon bêre. So kon julle en ook Pa eet en bly leef. Hoe wonderlik werk die Here tog nie! 8My broers, dit is nie julle wat my hierheen laat kom het nie, maar God. Hy het my Egipte toe laat kom om vir die farao amper soos ’n pa te wees. Hy het my toe die hoof van sy hele administrasie gemaak en my oor die hele land laat regeer. 9Gaan dadelik na Pa toe en sê vir hom: U seun Josef sê: Pa, ek leef nog! God het my oor die hele Egipte aangestel en ek wil hê Pa moet onmiddellik na my toe kom. 10Ek wil hê Pa moet sommer hier naby my by ’n plek wat ons Gosen noem, kom bly. Al Pa se kinders en kleinkinders moet saamkom. En bring ook al die vee en alles wat Pa besit saam. 11Hierdie hongersnood het nog skaars begin en dit sal nog vyf jaar aanhou, maar ek sal vir Pa-hulle sorg. Vir al die kinders en al die werkers ook.’ 12Julle moet al hierdie dinge vir Pa gaan vertel. Julle almal en ook Benjamin het self gesien dat ek leef en dat dit ek is wat met julle praat. 13Sê vir Pa ek is onderkoning en vertel hom van al die wonderlike dinge wat julle hier gesien het. Julle moet reguit huis toe gaan en vir Pa gaan haal.”
14Josef het Benjamin toe omhels en begin huil. Benjamin het Josef ook omhels en op sy skouer gehuil. 15Toe het hy al sy broers omhels en hulle gesoen. Josef was baie bewoë. Die broers het tot verhaal gekom en met Josef begin praat. 16Gou het die goeie nuus van Josef se broers versprei en die farao het dit ook gehoor. Hy en al sy mense was baie bly daaroor.
17Die farao het Josef toe laat kom en vir hom gesê: “Jy moet vir jou broers sê hulle moet die diere pak en reguit Kanaän toe gaan. 18Hulle moet jou pa en hulle families vat en sonder versuim na Egipte toe terugkom. Ek sal hulle die beste deel van die land gee. Daar kan hulle lekker bly en daar sal altyd volop kos vir almal wees.” 19Die farao het voortgegaan: “Jou broers moet ook van ons Egiptiese waens saamneem sodat hulle die vroue en kinders daarop kan laai. Jou pa moet hulle ook op ’n wa sit en dan gou terugkom. 20Al hulle besittings kan hulle maar daar los, want die beste van Egipte wag hier vir hulle.”
21Die broers het toe gemaak soos die farao gesê het. Josef het hulle die Egiptiese waens gegee asook genoeg kos vir die pad. 22Vir elke broer het Josef ook nuwe klere gegee. Benjamin het meer gekry. Josef het vir hom 300 stukke silwer gegee asook vyf pakke nuwe klere. 23En vir sy pa het Josef sommer ’n klomp goed gestuur: tien swaargelaaide donkies met die allermooiste goed uit Egipte. Op tien donkiemerries was daar genoeg graan, brood en ander kos vir sy pa se reis na Egipte. 24Josef het sy broers gegroet en vir hulle gesê: “Gaan nou reguit Kanaän toe en moenie op pad aan’t stry raak nie!”
Jakob hoor van Josef
25Die broers is daar weg en het die kortste pad Kanaän toe gevat. Hulle wou so gou moontlik by hulle pa, Jakob, uitkom. 26By die huis aangekom, het hulle dadelik vir Jakob gaan sê: “Pa, Josef leef nog! En hy is die man wat oor die hele Egipte regeer.” Jakob was stomgeslaan en wou hulle eers nie glo nie.
27Hulle moes hom toe alles oor en oor vertel. Toe hy al die waens sien wat Josef saamgestuur het om hom te kom haal, het hy hulle begin glo. En dit was of hy ’n nuwe mens geword het. 28Tot dié mate dat hy gesê het: “Ons het nou genoeg gepraat. My seun leef en ek wil hom nog sien voor ek sterf. Kom, laat ons onmiddellik Egipte toe gaan.”

2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.

Learn More About Die Boodskap