Genesis 44
DB
44
Nog meer ellende
1Toe het Josef vir die hoof van sy huis opdrag gegee: “Stop die mans se sakke tot bo toe vol met kos en sit ook elkeen se geld in die sak terug. 2Vat dan my beker, die silwer een waaruit ek altyd drink, en sit dit saam met die geld wat hy vir die koring betaal het, bo in die jongste se sak.” Die hoof van die huis het gedoen wat Josef gesê het.
3Teen dagbreek die volgende oggend is die mans met hulle swaargelaaide donkies daar weg. 4Hulle was net ’n klein entjie weg toe Josef die hoof van sy huis beveel: “Sit hulle agterna en as jy by hulle kom, moet jy sê: ‘Dit is darem nou vir jou stank vir dank! Waarom het julle die beker gevat? 5Dit is die beker waaruit meneer Josef elke dag drink en wat hy gebruik om die toekoms te voorspel. Julle het ’n verskriklike ding gedoen.’”
6Die huisheer is onmiddellik daar weg en het hulle sommer gou ingehaal. 7Toe hy al die woorde van Josef vir hulle gesê het, was hulle verslae. “Hoe kan Meneer dit sê? Ons sal dit mos nooit doen nie. 8Meneer weet tog dat ons al die geld teruggebring het wat die vorige keer in ons sakke was. Ons het dit die hele pad van Kanaän af saamgedra. Waarom sal ons dan nou silwer of goud uit meneer Josef se huis wil steel? 9As enigeen van ons die beker het, moet hy beslis doodgemaak word. Die res van ons sal dan vir meneer Josef gaan werk.”
10Die huisheer het gesê: “Dit is nie nodig nie. Net die een wat die beker gesteel het, sal as slaaf moet agterbly. Die res van julle kan maar huis toe gaan.”
11Elkeen het toe vinnig sy sak van die donkies afgehaal en dit oopgemaak. 12Josef se huisheer het toe sak vir sak ondersoek, van die oudste broer se sak tot dié van die jongste. En die beker is in Benjamin se sak gekry. 13Die broers het uit wanhoop en frustrasie hulle klere begin skeur. Toe het hulle die donkies gepak en is terug stad toe. 14Toe Juda en sy broers weer by Josef se huis aankom, was hy nog steeds daar. Hulle het voor hom op die grond geval. 15Josef het vir hulle gesê: “Julle het ’n verskriklike ding gedoen. Ek het die beker nodig om in die toekoms in te kyk en toe loop steel julle dit.”
16Juda het geantwoord: “Wat kan ons tog sê, Meneer? Ons is sprakeloos. Hoe kan ons ons onskuld bewys? God straf ons nou vir ’n misdaad van lank gelede. Hier is ons dan, Meneer. Ons sal almal hier bly en vir u werk, en nie net die een in wie se sak die beker gekry is nie.”
17“Glad en geheel nie,” het Josef gesê. “Slegs die een wat die beker gesteel het, moet my slaaf word. Die res van julle kan maar na julle pa toe teruggaan. Niemand sal julle ook meer op die pad hinder nie.”
18Toe het Juda opgestaan en gepraat: “Ek smeek u, Meneer, luister na my. Ek wil u graag iets vertel. U is net soos die farao en ’n baie belangrike man, maar u moet tog nie nou kwaad of ongeduldig word nie. 19Toe ons die eerste keer hier was, het u ons gevra of ons ’n pa het of nog ’n ander broer. 20Ons het gesê dat ons wel ’n pa het en dat hy al oud is. Ons het u ook van ’n jonger broertjie vertel wat ons pa op sy oudag gekry het. En toe het ons ook gesê die jongste se enigste broer is ’n lang ruk al dood. Hulle twee was die enigste kinders van hulle ma en ons pa was baie lief vir die jongste. 21U het toe vir ons gesê: ‘Gaan haal die jongste dat ek kan sien hoe hy lyk.’ 22Ons het vir u gesê dit is onmoontlik; die seun kan nie van sy pa af weggaan nie, het ons gesê, sy pa sal doodgaan as daar iets met hom moet gebeur. 23U het egter aangehou en gesê: ‘As julle nie julle jongste broer saambring nie, wil ek julle nie weer sien nie.’ 24Daarna is ons huis toe en ons het ons pa van alles vertel. Presies soos u gesê het. 25Na ’n ruk het ons pa gesê ons moet teruggaan om kos te koop. 26Ons het oor en oor vir hom gesê: ‘Pa weet mos ons kan nie teruggaan nie. Ons kan net gaan as ons jongste broer saamgaan. Sonder hom wil die man ons nooit weer sien nie.’ 27Ons pa het egter volgehou: ‘Julle weet tog Ragel het my net twee seuns gegee. 28Een seun het net verdwyn. Tot vandag toe het ek hom nooit weer gesien nie en moet ek maar die storie glo dat wilde diere hom verskeur het. 29As julle die ander seun ook nou van my gaan wegneem en iets gebeur met hom, sal ek van hartseer sterf.’ 30So, Meneer, as ek nou moet teruggaan na my pa toe en hierdie seun vir wie hy tog so lief is, is nie by nie, sal dit sy einde beteken. 31As ek sonder die jongste moet terugkeer, sal ons ons gryse pa van verdriet moet begrawe.
32“En, Meneer, ek het verantwoordelikheid vir hierdie seun geneem. Ek het vir my pa gesê: ‘As ek nie hierdie kind vir Pa terugbring nie, staan ek lewenslank skuldig voor Pa.’ 33Laat ek daarom eerder in die plek van die seun agterbly en ek sal lewenslank vir u werk. Laat die kind tog net saam met sy broers huis toe gaan. 34Hoe kan ek sonder die seun na my pa toe teruggaan? Ek wil tog nie sien hoe hy dag vir dag wegkwyn van verdriet nie.”

2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.

Learn More About Die Boodskap