Parallel
43
’n Tweede reis na Egipte
1Die hongersnood in Kanaän het vererger. 2Toe die kosvoorraad amper op was, het Jakob gesê: “Gaan terug Egipte toe en kyk of daar nog kos is vir ons.”
3Juda het egter gesê: “Ons kan nie, Pa. Die man het uitdruklik gesê ons kom nie sonder Benjamin daar aan nie. 4Eers as Pa toestem dat ons Benjamin kan saamvat, sal ons vertrek en kos gaan haal. 5Solank Pa weier, kan ons dit nie in Egipte waag nie. Die man het ons oor en oor gewaarsku om nie sonder Benjamin by hom aan te kom nie.”
6“Waarom maak julle dit vir my so moeilik?” het Jakob gevra. “Waarom het julle hom van Benjamin staan en vertel?”
7Hulle het geantwoord: “Omdat die man so knaend was, Pa. Hy het ons aanmekaar oor ons familie uitgevra. Hy wou weet of Pa nog leef en of ons nog ’n ander broer het. Daar was geen uitkomkans nie. Hoe moes ons nou geweet het dat hy sou sê dat ons ons broer na hom toe moet bring?”
8Juda het toe gesê: “Pa, gee nou die kind vir my en laat ons tog net gaan. Hoe langer ons wag, hoe erger word dit. As Pa nog wil hê dat ons en ons kinders moet bly leef, moet ons onmiddellik vertrek. 9Ek sal volle verantwoordelikheid vir Benjamin neem en ek sal vir hom sorg. U kan my verantwoordelik vir hom hou. As ek hom nie veilig terugbring nie, is ek lewenslank aan sy dood skuldig. 10As ons nie so lank getalm het nie, kon ons al ten minste twee keer Egipte toe en terug gewees het.”
11Uiteindelik het Jakob gesê: “Goed, dan moet julle hom maar saamvat. Maar vat ook vir die man in Egipte van ons beste produkte saam. Sit ’n bietjie balsem, ’n bietjie heuning, gom, hars, neute en amandels in julle graansakke. En gee dit vir die man as ’n geskenk. 12Vat ook genoeg geld saam. Al die geld wat bo in julle graansakke was, moet julle teruggee. Dit was ’n fout. 13Neem dan nou julle broer, vertrek onmiddellik en gaan reguit na die man toe terug. 14Mag die groot en almagtige God so vir julle sorg dat die man in Egipte net deernis vir julle sal hê. En mag hy julle broer Simeon vrylaat en hom saam met Benjamin terugstuur. Moenie julle oor my bekommer nie, want as ek moet swaarkry, moet ek swaarkry.”
15Die mans het die geskenk, dubbel soveel geld en vir Benjamin geneem en hulle is reguit na Josef toe in Egipte. 16Toe Josef hulle saam met Benjamin sien, het hy vir die hoof van sy huis gesê: “Laat die mense inkom en in die huis bly. Slag dan ’n dier en maak vir ons lekker kos, want ons eet vanmiddag saam.”
17Die hoof van die huis het presies gemaak soos Josef gesê het en hy het die broers huis toe geneem. 18Die broers was baie agterdogtig en het vir mekaar gesê: “Dis seker oor die geld wat in ons graansakke was dat hulle ons uitgenooi het. Hulle wil ons natuurlik terugkry; daarom het hulle ons in hierdie hinderlaag gelei. Hulle sal ons oorval, slawe van ons maak en al ons diere vat.”
19Toe het die broers na die huis se ingang gestap en daar met die hoof van Josef se huis begin praat. 20“Meneer, miskien kan u ons help,” het hulle gesê. “Ons was ’n vorige keer ook hier om kos te koop. 21Op pad terug het ons by die nagkamp ons graansakke oopgemaak en tot ons groot verbasing gesien dat elkeen se geld bo-op lê. Die presiese bedrag wat elkeen bestee het. Ons het vandag gekom om hierdie geld vir u terug te gee. 22Natuurlik het ons ook ander geld saamgebring waarmee ons kos wil koop. Meneer, ons weet regtig nie wie die geld in ons sakke gesit het nie.”
23“Alles is reg,” het die hoof gesê, “moenie bang wees nie. Al die geld wat julle moes betaal het, het ek gekry. Elke sent daarvan. Dalk was dit julle God en die God van julle pa wat die geld in julle sakke gesit het.” En hy het Simeon gaan haal en hom vir sy broers teruggegee.
24Die hoof het die broers in Josef se groot huis ingenooi en hulle ’n plek gegee waar hulle kon was en ontspan. Hy het ook vir hulle donkies kos gegee. 25Ondertussen het die broers verneem dat hulle die middag saam met Josef moet eet. Terwyl hulle vir hom gewag het, het hulle solank die geskenke reggesit. 26Toe Josef uiteindelik opdaag, het hulle laag voor hom gebuig en die geskenke vir hom gegee.
27Josef het gehoor hoe dit gaan en toe gevra: “En hoe gaan dit met julle pa, die ou man van wie julle my die vorige keer vertel het? Leef hy nog?”
28Hulle het gesê: “Dit gaan goed met u kneg, ons pa. Hy leef nog en hy is baie gesond.” Die broers het gekniel en voor Josef gebuig.
29Josef het na Benjamin, sy ma se jongste kind, gekyk en gevra: “Is dit nou julle jongste broer? Die een van wie julle my vertel het?” Hy het vir Benjamin gesê: “Mag God naby jou wees, seun.”
30Toe het Josef vinnig uitgestap, want hy wou huil. Hy het hartseer begin word toe hy sy broer weer sien. Hy het in sy slaapkamer gaan sit en huil. 31Daarna het hy sy gesig gewas en na sy broers toe teruggestap. Hy was weer in volle beheer van homself en het beveel dat die kos bedien moet word.
32Elkeen se kos is afsonderlik uitgedeel. Eers is Josef bedien, toe die broers en toe die Egiptenaars wat saam met hulle geëet het. Egiptenaars het nooit saam met Hebreërs geëet nie, want vir hulle was dit ’n skande. 33Almal het teenoor Josef gesit, maar hulle is volgens ouderdom ingedeel, van die oudste tot die jongste. Die broers was baie verbaas hieroor. Hoe sou Josef tog hulle ouderdomme geken het? 34Almal is met kos van die koning se tafel bedien. Benjamin se porsie was egter elke keer vyf keer groter as dié van die ander. Hulle het almal lekker saam met die koning geëet en gedrink.