Parallel
41
Josef se verklaring van drome red baie mense
1Twee lang jare het verbygegaan, maar niks het gebeur nie. En toe, een aand, het die farao ’n droom gehad. Hy het gedroom hy staan langs die Nyl. 2Skielik kom daar sewe koeie uit die water. Hulle was mooi en rond van die vet, en het van die groen gras aan die oewer begin vreet. 3Na ’n ruk het sewe ander koeie uit die water gekom. Hulle was maer en lelik, en het tussen die ander koeie op die Nyloewer gewei. 4En die lelike, maer koeie het die sewe vet koeie opgevreet. Toe het die farao wakker geskrik.
5Hy het weer aan die slaap geraak en nog ’n droom gehad. Sewe mooi, vol koringare het aan een stingel opgeskiet. 6’n Entjie verder het sewe ander koringare opgeskiet. Hulle was dun en is deur die warm oostewind verskroei. 7En die sewe dun are het die sewe vol are opgeëet. Toe het die farao weer wakker geword en besef dit was net ’n droom.
8Die volgende oggend was die farao baie onrustig. Hy het al Egipte se geleerde en wyse manne bymekaargeroep en vir hulle van sy drome vertel. Niemand kon egter sy drome verklaar nie.
9Toe het die hoofskinker van Josef onthou. “Ek wil u vandag van iemand vertel,” het hy gesê. 10“Op ’n keer was die koning vir my en die hoofbakker kwaad en het ons albei in die tronk gestop.
11“Een aand het ek en die hoofbakker elkeen ’n droom gehad. Twee aparte drome met twee aparte betekenisse. 12Saam met ons in die tronk was daar ’n jong Hebreër. Hy het die hoof van die tronkbewaarders met allerlei takies gehelp. Toe ons hom van die drome vertel, het hy dit sommerso uitgelê. Elkeen se droom het hy vir hom uitgelê. 13En presies soos hy gesê het, het dit toe gebeur. Ek het weer my ou pos teruggekry, maar die bakker is opgehang.”
14Die farao het onmiddellik mense gestuur om Josef te gaan haal. Hulle het hom haastig uit die donker tronk geruk, sy hare geskeer, nuwe klere vir hom aangetrek en hom na die farao toe gevat.
15Die farao het kortaf vir Josef gesê: “Ek het twee drome gehad, maar niemand kan my sê wat dit beteken nie. En toe hoor ek by die hoofskinker dat jy drome kan uitlê die oomblik wat jy dit hoor.”
16“Eintlik is dit nie ek nie, Meneer,” het Josef gesê, “maar God wat u drome kan uitlê.”
17Die farao het toe dadelik sy drome aan Josef vertel: “In my droom het ek net hier anderkant op die Nyloewer gestaan. 18Skielik klim daar sewe koeie, mooi en vet, uit die Nyl en begin van die gras op die oewer te vreet. 19Net agter hulle kom daar toe sewe ander koeie uit. Maer, uitgeteer en net vel en been. Nog nooit het ek sulke misvormde koeie in Egipte gesien nie. 20En daar vreet hierdie sewe maer koeie die sewe mooi koeie op. 21’n Snaakse ding gebeur toe. Nadat die sewe koeie die ander opgevreet het, was hulle nog net so maer en uitgeteer soos vroeër. Toe het ek wakker geword.
22“In my ander droom het ek sewe mooi, vol koringare gesien wat aan een stingel opskiet. 23Agter hulle het sewe ander koringare opgeskiet. Dor, dun en deur die warm oostewind verdroog. 24En daar vreet die dun are toe die vol are op. Ek het albei drome vir die towenaars vertel, maar hulle kon dit nie uitlê nie.”
25Josef het toe vir die farao gesê: “Albei drome het dieselfde betekenis. Deur die drome wou God u vertel wat Hy in Egipte gaan doen.
26“Die sewe vet koeie dui op sewe jaar. So ook die sewe vol are. Albei beteken dieselfde ding. 27Die sewe maer en uitgeteerde koeie sowel as die sewe dor en droë are vertel van sewe jaar van hongersnood.
28“Dis net soos ek vir die koning sê: dit is wat God vir die farao deur hierdie drome wil vertel.
29“Daar is ook nog iets anders. Die sewe jaar wat binnekort begin, is jare van groot oorvloed vir die hele Egipte. 30Daarna volg sewe slegte jare. Oral sal daar hongersnood wees en die mense sal die goeie jare gou vergeet. 31Dag vir dag sal die land deur hongersnood verwoes word en van die goeie jare sal niks oorbly nie, so verskriklik sal hierdie hongersnood wees.
32“U het twee keer dieselfde ding gedroom omdat God u wil verseker dat alles wel so gaan gebeur. En boonop sal dit alles gou gebeur.
33“Farao moet daarom ’n slim man soek met goeie politieke en administratiewe insigte wat oor die hele Egipte kan regeer. 34U moet ook bekwame bestuurders oor die hele land aanstel. Hulle moet ’n belasting van ’n vyfde van alles wat die land produseer, hef tydens die goeie jare. 35Tydens die sewe goeie jare moet hulle voedselvoorrade opbou. Met u hulp moet hulle koring in voorraadstede opberg en dit dan goed bewaar. 36Uit hierdie voedselvoorrade moet die mense dan gedurende die sewe honger jare leef. So sal die land hierdie verskriklike ramp oorleef.”
37Josef se planne het die farao en al sy amptenare sommer baie beïndruk. 38Die farao het vir sy amptenare gesê: “Waar is daar nog ’n man soos Josef in wie die Gees van God is? Iemand met so ’n gawe sal ons nooit weer kry nie.”
39Toe het die farao vir Josef gesê: “Jou God het jou al hierdie dinge vertel; daarom is daar nêrens iemand so slim en wys soos jy nie. 40Van vandag af sal jy in beheer van my paleis wees en al my mense sal na jou luister. Net ek sal meer mag hê as jy. 41En ek gee jou alle mag om oor die hele Egipte te regeer.”
42Op daardie oomblik het die farao sy seëlring afgehaal en dit aan Josef se vinger gesteek. Hy het hom ook fyn linneklere laat aantrek en ’n goue ketting om sy nek gehang.
43Toe het hy Josef in die wa van die onderkoning laat klim en hom deur die strate gelei terwyl almal skreeu: “Gee pad voor!” So is Josef, die seun van Jakob, dan oor die hele land aangestel.
44Die farao het verder vir Josef gesê: “Alhoewel ek die farao is, sal niemand in hierdie land ’n vinger verroer of ’n voet versit sonder jou toestemming nie.”
45Die farao het vir Josef ’n ander naam gegee en hom Safenat-Paneag begin noem. Hy het hom ook ’n vrou gegee en haar naam was Asenat. Sy was die dogter van Potifera, die priester van On. Josef het deur die hele Egipte gereis. 46Hy was 30 jaar oud toe die farao van Egipte hom oor die land aangestel het. Hy het die farao gegroet en met ’n lang reis deur die hele Egipte begin.
47Gedurende die eerste sewe goeie jare was daar ’n enorme oorvloed kos in die land. 48Josef het egter presies geweet wat om met die ryk oeste te doen. Met groot kundigheid het hy die kos in stede gestoor. In elke stad is die oeste van die omgewing opgeberg. 49Josef het massas koring opgegaar. Dit was naderhand so ontelbaar soos die sand van die see. Josef het later opgehou om van alles boek te hou, want dit was onmoontlik.
50Voor die swaar jare gekom het, het Josef twee seuns gekry. Dit was die seuns wat Asenat, die dogter van Potifera, die priester van On, vir hom in die wêreld gebring het. 51Josef het die oudste Manasse genoem, want, het hy gesê, “God het my al die swaarkry in Egipte asook my ouerhuis laat vergeet”.
52Die tweede seun het hy Efraim genoem, want, het hy gesê, “God het my vrugbaar gemaak in die land van my ellende”.
53Egipte se sewe goeie jare het verbygegaan. 54Toe het sewe moeilike jare gevolg, net soos Josef gesê het. In al die lande was daar hongersnood, maar in Egipte het die mense kos gehad. 55Telkens wanneer die honger Egipte se mense gepak het, het hulle by die farao kos gaan vra. Dan het hy vir hulle gesê: “Gaan na Josef toe en doen presies wat hy vir julle sê.”
56Toe die hongersnood op sy ergste was en daar omtrent geen kos in die land meer was nie, het Josef die groot voorraadkamers oopgemaak en vir elke Egiptenaar sy deel afgemeet. Die hongersnood het dag vir dag vererger. 57Van oor die hele wêreld het mense kos by Josef kom koop. Hulle kon nie anders nie, want die hongersnood het die hele wêreld in sy greep gehad.