Parallel
38
Juda en Tamar
1In hierdie tyd het Juda besluit om weg te gaan. Hy het sy broers gegroet en is na Gira in Adullam. 2Daar het hy op ’n Kanaäniet, Sua, se mooi dogter verlief geraak. Hy het met haar getrou en by haar geslaap. 3Na ’n ruk het sy verwag en toe haar eersteling gebore is, het hulle hom Er genoem. 4Sy het weer verwag en haar tweede seun Onan genoem. 5Toe haar derde kind gebore is, het sy hom Sela genoem. Hy is gebore toe hulle in Kesib was.
6Juda het vir Er, sy oudste seun, ’n vrou gekry. Haar naam was Tamar. 7Er was egter ’n slegte mens wat die Here seergemaak het. Die Here het hom vroeg laat sterf.
8Juda het Onan eenkant toe geroep en gesê: “Jy is nou vir jou broer se nageslag verantwoordelik. Gaan slaap by sy vrou en bou so sy nageslag.”
9Onan wou nie eintlik nie. Hy het goed geweet dat elke kind wat gebore word, nie syne sou wees nie, maar aan sy broer sou behoort. Hy het toe wel ’n paar keer by Tamar gaan slaap, maar hy het elke keer sy saad op die grond laat val en nie binne-in haar nie. So het hy gesorg dat sy broer se nageslag nie uitgebou word nie. 10Dit het die Here baie ongelukkig gemaak. Hy het Onan ook vroeg laat sterf.
11Juda het bang geword en vir sy skoondogter gesê: “Miskien moet jy maar weer by jou pa gaan bly. Omdat jy ’n weduwee is, kan jy mos teruggaan. Wag dan daar tot my jongste, Sela, groot is.” Juda het dit gesê omdat hy bang was Sela gaan ook soos sy twee ouer broers vroeg sterf. Tamar het toe al haar goedjies gevat en is terug na haar pa toe.
12Lank hierna is Juda se vrou, die dogter van Sua, ook dood. Toe hy klaar oor haar gerou het, is hy saam met sy vriend, Gira van Adullam, Timna toe. Hy wou gaan kyk hoe hulle met die skeer van sy skape gevorder het. 13Iemand het egter vir Tamar gaan sê: “Jou skoonpa is op pad Timna toe. Hy wil gaan kyk hoe dit met die skeerdery gaan.” 14Tamar het vinnig opgestaan en haar donker rouklere uitgetrek. Sy het ’n sluier gevat en dit om haar gegooi sodat niemand haar kon herken nie. Toe het sy by die poort van Enaim gaan sit, want dit was op die pad na Timna toe. Sy het dit gedoen omdat sy gesien het dat Sela al groot was en hy het nog nie met haar getrou nie.
15Toe Juda haar sien, het hy gedink sy is ’n prostituut, want haar gesig was toegemaak. 16Hy het reguit na haar toe gestap waar sy langs die pad sit en vir haar gesê: “Kom, ek wil by jou gaan slaap.” Juda het natuurlik nie geweet dis sy skoondogter nie.
Sy het gevra: “Hoeveel sal jy my betaal?”
17Juda het geantwoord: “Ek sal vir jou ’n boklam uit my kudde stuur.”
Tamar het gesê: “Dis nie genoeg nie. Los iets as waarborg dat jy die boklam sal stuur.”
18Juda het haar gevra: “Wat wil jy hê moet ek los?”
“Jou seëlring met sy kettinkie en jou kierie,” het sy gesê. Hy het dit vir haar gegee en by haar gaan slaap. Tamar het toe ’n kind by hom verwag.
19Na ’n ruk is Tamar weer terug huis toe. Sy het haar sluier afgehaal en weer die klere van ’n weduwee aangetrek. 20Juda het toe sy vriend, Gira van Adullam, met die boklam gestuur. Hy moes ook Juda se besittings terugbring. Gira kon Tamar egter nêrens kry nie. 21Hy het naderhand die plek se mans begin uitvra: “Waar is die prostituut wat by Enaim langs die pad gesit het?”
“Daar was nog nooit ’n prostituut hier nie,” het hulle geantwoord.
22Gira is toe met boklam en al terug en het vir Juda gesê: “Ek het oral gesoek, maar ek kon haar nie kry nie. En die ergste is dat die dorpsmense sê daar was nog nooit ’n prostituut daar nie.”
23Juda het geantwoord: “Nouja, dan moet sy maar die goed hou. As ons langer soek, gaan die mense net vir ons lag. Ek het my deel gedoen en die boklam gestuur, maar jy kon haar nie kry nie. Ons kan nou niks meer doen nie.”
24Ongeveer drie maande later het hulle vir Juda van Tamar kom vertel. “Jou skoondogter,” het hulle gesê, “het haar soos ’n prostituut gedra en nou verwag sy nog boonop ’n kind.”
Juda was woedend en het geskreeu: “Gaan haal haar sodat sy verbrand kan word.”
25Hulle het Tamar gegryp en haar nader gesleep. Gelukkig kon sy betyds vir haar skoonpa ’n pakkie met ’n boodskap daarby stuur. “Meneer,” het sy gesê, “die man aan wie hierdie goed behoort, is die pa van die kind. Kan Meneer dalk vasstel aan wie die seëlring met sy kettinkie en die kierie behoort?”
26Juda het dit onmiddellik herken en gesê: “Los die vrou uit! Sy is hoegenaamd nie skuldig nie. Sy was reg en ek verkeerd. Ek moes Sela, my derde seun, aan haar gegee het, maar ek het dit nie gedoen nie. Ek is dus die skuldige. So, laat haar gaan.” Juda het nooit weer by Tamar geslaap nie.
27Toe die wagtyd verby was en Tamar geboorte moes skenk, het hulle ontdek daar is ’n tweeling. 28Terwyl sy geboorte gee, het een van die kinders sy hand uitgesteek. Die vroedvrou het ’n pers garingdraadjie om sy arm gebind en gesê: “Hy gaan eerste gebore word.”
29Net toe het hy weer sy hand teruggetrek en sy broer is eerste gebore. Die vroedvrou het gesê: “Jy het jou kans benut en jy is eerste gebore.” Hulle het die seun Peres genoem.
30Toe is sy broer gebore. Hy het nog steeds die pers garingdraadjie om die arm gehad. Hulle het hom Serag genoem.