Parallel
37
Josef word verkoop
1Jakob het intussen besluit om in Kanaän aan te bly, in dieselfde land waar sy pa al die jare gewoon en rondgetrek het.
2Toe Josef sewentien was, het hy saam met sy broers, sy pa se seuns by Bilha en Silpa, skape opgepas. Josef het elke dag by sy pa oor sy broers loop en skinder.
3Jakob was baie liewer vir Josef as vir al sy ander seuns. Josef was die kind wat op sy oudag gebore is en Jakob het hom liefgehad. Hy het toe vir Josef ’n kleed met lang moue en baie kleure laat maak. 4Al die ander broers het gesien hulle pa was liewer vir Josef as vir hulle. En hulle het Josef begin haat, so erg dat hulle kortaf en onbeskof met hom was.
5Op ’n dag het Josef ’n droom gehad en sy broers daarvan vertel. Dit het hulle so kwaad gemaak dat hulle hom nog meer gehaat het. 6Hy het vir hulle gesê: “Luister, ek wil julle van my droom vertel. 7Ons was almal in die veld besig om gerwe koring vas te bind. Skielik staan my gerf regop. Julle gerwe het ook regop gestaan en in ’n kring rondom my gerf kom staan. En daar buig julle gerwe toe voor my gerf.”
8Die broers was woedend en het vir hom gevra: “Mannetjie, wil jy nou oor ons regeer? Wil jy ons baas word?” Die broers het Josef nog meer gehaat oor al sy droompraatjies.
9Josef het nog ’n droom gehad en het dit sowaar weer vir sy broers loop en vertel. “Hoor hier,” het hy gesê, “ek wil julle van ’n ander droom vertel. Hierdie keer was dit die son, die maan en elf sterre wat gekom en voor my gebuig het.”
10Opgewonde het Josef ook vir sy pa van die droom gaan vertel. Sy pa het hom egter kortgevat: “Watse dromery is dit met jou? Wat beteken al jou drome? Dink jy nou regtig ek en jou ma en al jou broers moet voor jou kom buig?”
11Al die broers was jaloers op Josef. Sy pa het sy woorde onthou en dikwels daaraan gedink.
12Op ’n dag het sy pa hom geroep. Dit was in die tyd toe sy broers die kuddes in die omgewing van Sigem laat wei het. 13Jakob het vir Josef gesê: “Jou broers is naby Sigem met die skape. Ek stuur jou na hulle toe. Jy moet gaan kyk hoe dit met hulle gaan.”
“Goed, ek sal gaan,” het Josef geantwoord.
14Jakob het verder gesê: “Jy moet gaan kyk hoe dit met jou broers gaan en wat die toestand van die vee is. Kyk mooi en dan kom vertel jy my.” Josef is toe daar weg. Van Hebron af is hy reguit in die rigting van Sigem.
15Terwyl Josef nog so in die veld stap, sien hy ’n vreemde man aankom. “Wat soek jy?” het die man gevra.
16“Ek soek my broers,” het Josef geantwoord. “Meneer weet nie dalk waar hulle die skape laat wei nie?”
17“Hulle was hier gewees,” het die vreemde man geantwoord, “maar toe is hulle weer vort. Ek het gehoor hulle is op pad Dotan toe.” Josef het toe sy broers se spoor gevat en hulle duskant Dotan ingehaal.
18Hulle het hom al van ver af sien aankom. Voordat Josef nog by hulle was, het hulle klaar besluit om hom dood te maak. 19Hulle het vir mekaar gesê: “Dit is mos die ou dromer wat hier aangestap kom. 20Hoekom maak ons nie die ou windlawaai dood en gooi sy liggaam in een van die putte nie? Ons kan sê die een of ander wilde dier het hom gevang en uitmekaargeskeur. Dan sal ons sien wat van al sy droompraatjies gaan word.”
21Toe Ruben hiervan hoor, het hy Josef probeer red. “Moet hom tog nie doodmaak nie,” het hy vir sy broers gesê. 22“Moet tog nie dat sy bloed vloei nie,” het hy gepleit. “Gooi hom eerder in ’n put êrens in die woestyn, maar moet net nie die kind doodmaak nie.” Ruben het dit gesê omdat hy ander planne gehad het. Hy sou Josef uit die put red en hom na sy pa toe terugneem.
23Toe Josef uiteindelik by hulle aankom, het hulle hom begin rondpluk en sy klere afgeruk. Dit was die klere wat sy pa nog vir hom laat maak het, dié met die lang moue en die baie kleure. 24Toe het hulle Josef gegryp en hom met geweld in die put gegooi. Gelukkig was die put leeg en Josef het op droë grond geval. 25Daarna het die broers gaan eet. Hulle het net begin toe hulle ’n stofwolk in die verte sien. Dit was ’n groep Ismaeliete wat van Gilead na Egipte op pad was. Daar was troppe kamele, swaar gelaai met gom, balsem en hars wat hulle in Egipte wou verkoop.
26Juda het toe opgespring en vir sy broers gesê: “Dit gaan ons tog niks in die sak bring as ons Josef doodmaak en hom in die sand begrawe nie. 27Ek het ’n baie beter plan. Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete, dan hoef ons hom nie dood te maak nie. Hy is darem nog ons broer, ons eie bloed.” Die ander het saamgestem.
28Intussen was die Ismaeliete met hulle kamele al baie naby en die broers het Josef vinnig uit die put opgetrek. Hulle het Josef toe vir twintig stukke silwer aan die Ismaeliete verkoop. Josef is saam met hulle Egipte toe.
29Ruben het van niks geweet nie, want hy was weg. Toe hy terugkom, is hy reguit na die put toe om Josef uit te haal, maar Josef was reeds weg. Ruben het hartseer geword en sy klere begin skeur. 30Hy het na sy broers toe gehardloop en uitgeroep: “Die seun is weg! Wat moet ek nou vir sy pa sê?”
31Hulle het toe ’n boklam geslag en Josef se klere gevat en dit daarin gedoop. 32Toe het die broers die kleed met die baie kleure en lang moue na hulle pa toe geneem en vir hom gesê: “Pa, ons het dit gekry. Kyk mooi of dit nie dalk Josef se klere is nie.”
33Hy het dit onmiddellik herken en gesê: “Dit is werklik Josef se klere dié. ’n Wilde dier moes hom aangeval en verskeur het. Josef is uitmekaargeskeur!”
34Jakob het toe opgestaan, sy klere begin skeur en ’n sak om hom gedraai. Hy was baie hartseer oor Josef se dood en het lank oor hom gerou. 35Al sy seuns en dogters het hom probeer troos, maar Jakob kon maar net nie oor Josef se dood kom nie. Hy het vir hulle gesê: “Ek sal huilend sterf en ontroosbaar begrawe word om daar saam met my seun te wees.” Dag vir dag het Jakob oor Josef bly rou.
36Intussen het Josef in Egipte aangekom, waar die Midianiete hom aan Potifar verkoop het. Potifar was die hoof van die Egiptiese koning se lyfwagte.