Parallel
22
Abraham se groot toets
1’n Ruk hierna wou God vir Abraham toets. Hy het hom geroep en Abraham het gesê: “Hier is ek.”
2God het toe vir hom gesê: “Vat jou seun Isak, die een vir wie jy baie lief is, en gaan na die land Moria toe. Daar moet jy hom op een van die hoë plekke op een van die berge as ’n brandoffer gaan offer. Ek sal jou daar wys waar jy hom moet offer.”
3Abraham het niks gesê nie, maar gedoen wat die Here vir hom gesê het. Vroeg die volgende oggend het hy ’n donkie ingespan en die hout vir die brandoffer gekap. Abraham het ook twee slawe saamgeneem, saam met sy seun Isak. Toe is hy weg na die plek wat die Here vir hom sou wys. 4Op die derde dag het Abraham die plek van ver af gesien. 5Toe het hy vir sy werkers gesê: “Bly julle hier. Pas die donkie en al ons goed mooi op. Ek en die seun gaan net daar anderkant offer en as ons klaar is, kom ons terug.”
6Abraham het die hout van die brandoffer gevat en op Isak se rug vasgemaak. Abraham het ’n groot mes gedra asook die vuurklip waarmee hulle die hout moes aansteek. Saam-saam het hulle na die plek toe aangestap.
7Na ’n ruk het Isak die stilte verbreek. “Pa?” het hy gevra.
“Ja, seun,” het Abraham geantwoord.
“Pa, hier is nou wel hout en vuurklip om dit aan te steek, maar waar is die skaap vir die brandoffer dan?”
8Abraham het geantwoord: “Moenie bekommerd wees nie, seun. God sal self nog vir ons ’n skaap gee om te offer.” Die twee het verder gestap. 9Uiteindelik het hulle by die plek gekom waarvan God gepraat het. Abraham het dadelik afgepak, ’n altaar gebou, die hout gevat en dit op die altaar gesit. 10Toe gryp hy vir Isak, druk hom op die altaar bo-op die hout vas en met sy ander hand vat hy die mes, die groot mes wat hy die hele pad saamgedra het en waarmee hy Isak wou doodmaak.
11Op daardie oomblik het die Engel van die Here uit die hemel geroep: “Abraham, dit is Ek. Hou dadelik op. 12Los die mes en moenie die seun seermaak nie. Ek weet nou dat jy My liefhet, want jy was bereid om jou lieflingskind, jou enigste seun, vir My te offer.”
13Net toe Abraham opkyk, hoor hy ’n geritsel tussen die takke. Dit was ’n ram waarvan die horings in die digte takke vasgehaak het. Hy het nader gestap, die ram geslag en dit as ’n brandoffer op die altaar geoffer. So is die ram toe in Isak se plek geslag. 14Abraham het die plek “Die Here voorsien” genoem. Vandag nog gebruik mense die uitdrukking: “Op die berg van die Here sal Hy altyd voorsien.”
15Die Here het weer deur sy Engel uit die hemel gepraat en gesê: 16“Vandag was jy bereid om hierdie lieflingskind van jou te offer; daarom beloof Ek jou 17dat Ek jou sal seën. Jou kinders sal so baie wees soos die sterre in die hemel en die sand van die see. Jou kinders sal ook nog eendag hulle vyande se sterk stede oorneem. 18In al die nasies sal mense nog oor jou praat. Dit sal met hulle goed gaan omdat hulle jou ken en deel van jou nageslag is. Al hierdie dinge sal gebeur omdat jy vandag weer gewys het dat jy My liefhet.”
19Abraham en Isak het na die werkers toe teruggestap en hulle is saam Berseba toe. Abraham het ’n lang ruk in Berseba gebly.
Nahor se nageslag
20’n Ruk later het Abraham gehoor dat sy broer, Nahor, wat destyds met Milka getroud is, ’n klomp kinders het. 21Daar was Us, die oudste, en dan was daar nog sy broer Bus, asook Kemuel, die voorvader van die Arameërs, 22en ook nog Kesed, Gaso, Pildas, Jidlaf en Betuel. 23Betuel was die pa van Rebekka. Dit was dan die agt seuns wat Milka vir Abraham se broer, Nahor, in die wêreld gebring het. 24Nahor het ook ’n byvrou gehad. Haar naam was Reüma en sy het ook kinders gehad: Tebag, Gagam, Tagas en Maäka.