Parallel
18
Abraham en sy drie vreemde besoekers
1Op ’n dag het die Here weer na Abraham toe gekom. Dit was in die omgewing van Mamre naby die groot eikeboom. Abraham het by die ingang van sy tent gesit, want dit was die warmste tyd van die dag. 2Skielik sien hy drie mans voor hom. Abraham het opgespring en die mans gaan groet. 3Hy het laag gebuig en toe gesê: “Menere, kom asseblief nader. Moenie verder stap nie. Bly hier. Dit is ’n voorreg om u te ontvang. 4Ek bring vir u ’n bietjie water en dan kan u sommer daar onder die boom gaan sit en u voete was.
5“Ek kry ook gou ’n stukkie brood, dan kan u iets eet voordat u verder loop. Dit is wonderlik dat u nou juis hier by my verby moes kom.”
Hulle antwoord: “Goed dan, ons sal so ’n rukkie bly. Maak maar soos jy sê.”
6Abraham is vinnig tent toe om vir Sara te sê: “Vat gou ’n paar hande vol van jou beste fynmeel, knie dit en maak vir die mense broodrolletjies.”
7Daarna is hy op ’n drafstap beeste toe. Hy keer ’n mooi jong kalf uit die trop en vra een van sy werkers om dit vinnig te slag en die vleis gaar te maak. 8Toe die kos klaar was, het Abraham die kalf saam met botterstukkies en melk vir die gaste voorgesit. Terwyl hulle geëet het, het Abraham eenkant onder die boom gestaan.
9“Waar is jou vrou, Sara?” het hulle hom gevra. “Daar, daar in die tent,” het hy gesê.
10Een van hulle sê toe: “As ek volgende jaar op dieselfde tyd weer hier verbykom, sal jou vrou ’n seun hê.”
Sara het dit gehoor, want sy het agter hulle in die tent se ingang gestaan. 11Abraham en Sara was egter al oud en Sara lankal verby die tyd dat ’n mens ’n kind kry. 12Dit is hoekom sy gelag het toe sy die man oor ’n seun hoor praat het. Sara het vir haarself gesê: “My lyf is al veels te oud vir die genot van die liefde. En boonop is Abraham ook hopeloos te oud.”
13Die Here vra toe vir Abraham: “Waarom het Sara netnou gelag? En waarom het sy gedink sy is te oud vir ’n kind? 14Is enigiets dan vir die Here onmoontlik? Oor ’n jaar is Ek weer hier, dan sal Sara ’n seun hê.”
15Sara het skielik bang geword en ontken dat sy gelag het, maar die Here het gesê: “O ja, jy het!”
Abraham pleit vir Sodom
16Later die middag het die drie mans opgestaan en op ’n plek gekom waar hulle Sodom kon sien. Abraham het ’n ent saamgestap. 17Terwyl hulle so stap, het die Here gedink: “Sal Ek vir Abraham wegsteek wat Ek met Sodom gaan doen? 18Abraham se kinders gaan tog ’n groot en sterk nasie word en hulle sal baie mense wees. Al die volke sal Abraham ken; daarom sal dit met hulle goed gaan. 19Van alle mense het Ek Abraham uitgesoek om my spesiale boodskapper te wees. Hy het nog altyd naby my geleef. Hy sal sy kinders van My vertel en hulle sal ook naby My leef. Hulle sal weet hoe om reg te leef en die regte dinge te doen. Daarom sal Ek nog al my beloftes aan Abraham waar maak.”
20Die Here het toe vir Abraham alles vertel. “Ek is op pad Sodom en Gomorra toe,” het Hy gesê. “Hulle sonde skreeu ten hemele. Hulle doen die allerverskriklikste dinge. 21En Ek het kom kyk wat aangaan en of alles so sleg is. Ek moet uitvind of alles oor Sodom en Gomorra waar is of nie.”
22Twee van die mans het solank aangestap na Sodom toe terwyl die Here nog ’n rukkie met Abraham gepraat het.
23Abraham vra Hom toe: “Gaan U almal doodmaak, skuldiges en onskuldiges? 24Sê nou daar is 50 goeie mense in die stad; gaan U dit nogtans verwoes? Sal U nie die stad ter wille van hierdie 50 spaar nie? 25U sal mos nie goeie mense saam met slegtes laat ly nie. So iets sal U mos nie doen nie. U wat die goeie regter is van die hele wêreld, sal mos nie skuldiges en onskuldiges saam vernietig nie.”
26Die Here het gesê: “As daar 50 goeie mense in Sodom is, sal Ek die stad ter wille van hulle spaar.”
27Abraham het weer gepraat: “Voor U is ek niks nie; net maar stof en as. En tog waag ek om U weer te vra: 28Sê nou daar is nie heeltemal 50 nie, maar net 45 goeie mense. Sal U dan die stad vernietig? Gaan vyf soveel verskil maak?”
“Nee,” sê die Here toe, “as daar 45 is, sal Ek nie die stad vernietig nie.”
29“En sê maar daar is net 40?” het Abraham gevra. Weer het die Here gesê dat Hy nie die stad sal verwoes nie.
30Abraham sê toe: “Here, moet tog nie kwaad word as ek weer vra nie, maar sê nou daar is net 30?” Weer het die Here Abraham verseker dat Hy die stad sal spaar.
31Abraham het weer probeer: “Dis verwaand van my om met die Here te redeneer. Maar as daar net twintig is, Here, wat dan?” Weer het die Here gesê dat Hy die stad nie sal vernietig nie.
32En Abraham het ’n laaste keer gevra: “Here, moenie kwaad wees nie, maar as daar net tien is, wat dan?” En weer het die Here Abraham gerusgestel dat Hy die stad ter wille van hierdie tien sal spaar.
33Toe die Here klaar met Abraham gepraat het, het Hy omgedraai en in die rigting van Sodom aangestap. En Abraham het teruggegaan huis toe.