Parallel
17
’n Ooreenkoms met die besnydenis as bewys
1Toe Abram amper 99 jaar oud was, het die Here weer na hom toe gekom. “Abram,” het Hy gesê, “Ek is El Shaddai, die God wat almagtig en sterk is. Jy moet altyd naby aan My leef en net die regte dinge doen.
2“Ek sluit ’n ooreenkoms met jou dat Ek sal sorg dat jy eendag ’n groot nageslag het.”
3Terwyl God nog gepraat het, het Abram voor Hom neergeval.
4God het toe gesê: “Abram, dit is my deel van my ooreenkoms met jou: jy sal nog die pa van baie nasies en van ’n massa mense word. Ek dink baie aan hierdie belofte van My.
5“Ek gaan jou naam nou dadelik verander. Hulle sal jou nie meer Abram noem nie, maar Abraham, want Ek maak jou die pa van baie nasies.’
6“Jou kinders sal baie kinders hê. Uit hulle sal groot nasies en belangrike konings kom.
7“Ek sal my ooreenkoms met jou nakom, en met jou kinders. Wat Ek beloof het, geld vir altyd. Ek sal ook hulle God wees soos Ek joune is. 8Vir jou en jou kinders gee Ek hierdie land. Vandag is dit nog nie joune nie, maar eendag sal dit joune word en ook jou kinders s’n. Hierdie hele land Kanaän sal vir altyd hulle s’n word. Ek sal ook hulle God wees.”
9God het verder gesê: “My ooreenkoms met jou en jou kinders moet julle van julle kant af gehoorsaam. 10Daar is een ding wat julle moet doen. Julle mag dit nie vergeet nie. Jou kinders moet dit vir altyd onthou. Dit is dat al julle mans besny moet word aan hulle geslagsorgane. 11Elkeen se voorhuid moet met ’n mes besny word. Dit sal die bewys wees dat julle Myne is en dat Ek julle God is. 12Elke seuntjie moet agt dae na sy geboorte besny word. Julle moet dit vir altyd doen. Selfs die kinders van jou werkers moet besny word. En die kinders van daardie werkers wat jy van vreemdelinge gekoop het, moet ook besny word. 13Kortom: al jou werkers se kinders asook daardie werkers wat jy gekoop het, se kinders moet besny word. Aan julle liggaam sal mense dan kan sien dat julle aan My behoort en dat Ek julle God is. En dit sal vir altyd so wees. 14Iemand wat nie besny is nie, is nie deel van jou nie. Hy is ook nie deel van My en my ooreenkoms met julle nie.”
15God het ook verder met Abraham gepraat: “Jou vrou Sarai moet jy nie meer so noem nie. Noem haar eerder Sara. 16Ek sal haar seën en sy sal vir jou ’n seun baar. Ja, Ek sal haar seën, en uit haar sal daar nog baie nasies en belangrike leiers gebore word.”
17Vir Abraham was dit net een te veel. Hy het vooroor geval en saggies begin lag. Hy sê toe vir homself: “Kan ’n ou man van 100 nog ’n kind maak? En kan Sara nog ’n kind in die lewe bring? Sy is al ’n ou vrou van 90. Dit kan tog nie gebeur nie.”
18Abraham maak toe sy keel skoon en sê: “Here, daar is mos nog die ander seun, Ismael. Wil U hom nie eerder vat en vir hom goed wees nie?”
19God het egter geantwoord: “Nee, jou vrou Sara sal vir jou ’n kind in die lewe bring. En jy moet hom Isak noem (wat beteken: ‘God was goed en het geglimlag’). Ek sal my ooreenkoms met hom ook nakom. Ek verbind My vir altyd aan hom en sy kinders. Ek sal sy God en sy kinders se God wees. 20Ter wille van jou sal Ek ook vir Ismael goed wees. Ek sal vir hom goed wees en hy sal ’n groot nageslag hê. Uit sy kinders sal ’n groot nasie kom met twaalf belangrike volksleiers. 21Maar My hart is veral by Isak, by die kind wat Sara vir jou oor ’n jaar in die wêreld sal bring.”
22Toe God klaar met Abraham gepraat het, was Hy net weer weg.
23Op dieselfde dag nog het Abraham sy seun, Ismael, en al sy werkers gevat en hulle besny. Of ’n werker deel van Abraham se huishouding was en of Abraham hom later gekoop het, het nie saak gemaak nie. Elke man is besny, soos God vir Abraham gesê het. 24Abraham was 99 jaar oud toe hy besny is, 25en Ismael 13 jaar. 26Albei is saam op dieselfde dag besny, 27so ook al sy werkers. Of hulle deel van sy huishouding was en of hulle van vreemdelinge gekoop is, hulle is almal besny.