Genesis 14
DB
14
Abram red vir Lot en ontmoet vir Melgisedek
1Op ’n dag het Amrafel (die koning van Sinar), Arjok (die koning van Ellasar), Kedorlaomer (die koning van Elam) en Tidal (die koning van Gojim) besluit om oorlog te maak teen 2Bera (die koning van Sodom), Birsa (die koning van Gomorra), Sinab (die koning van Adma), Semeber (die koning van Sebojim), en Soar (die koning van Bela). 3Bera en die ander konings het toe ’n bondgenootskap gevorm en in die Siddimvlakte (vandag is dit die Soutsee) bymekaargekom. 4Twaalf jaar lank moes hulle Kedorlaomer dien, maar in die dertiende jaar het hulle net besluit om te rebelleer. 5’n Jaar later het Kedorlaomer en sy bondgenote met ’n militêre veldtog begin. Blitssnel het hulle die Refaïete in Asterot-Karnajim, die Sussiete in Ham, die Emiete in die Kirjatajimvlakte 6en die Goriete in die Seïrberge tot by El-Paran aan die randjie van die woestyn vernietig.
7Toe het hulle vinnig omgedraai en na die fontein van Oordeel (dit is Kades) teruggekeer. Kedorlaomer-hulle het onverwags op die Amalekiete toegeslaan en hulle gebied verower. Al die Amoriete wat destyds in Gaseson-Tamar gewoon het, is ook onderwerp.
8Toe die konings van Sodom, Gomorra, Adma, Sebojim en Bela (dit is Soar) van Kedorlaomer-hulle se opmars hoor, het hulle in die Siddimvlakte bymekaargekom en vinnig hulle troepe vir die geveg opgestel. 9Teenoor hulle het die gevegsmagte van koning Kedorlaomer van Elam, koning Tidal van Gojim, koning Amrafel van Sinar, en koning Arjok van Ellasar stelling ingeneem. Hierdie vier konings moes toe teen die ander vyf se magte veg.
10Kedorlaomer-hulle het gou die oorhand gekry en die mense het begin vlug. Oral in die Siddimvlakte was daar asfaltgate, en soos die mense gevlug het, het hulle daarin geval. Sodom en Gomorra se konings het ook daarin geval. Die res het berge toe gevlug. 11Daarna het Kedorlaomer-hulle op Sodom en Gomorra toegesak en alles gevat. Hulle het al die kos weggevat en sommer ook ’n klomp mense saam met hulle geneem. 12Een van hierdie mense was Lot, die broerskind van Abram. Hy het destyds in Sodom gebly. Hulle het al sy besittings gevat en hom gedwing om saam met hulle te gaan.
13Iemand wat die geveg oorleef het, het vir Abram van Lot gaan vertel. Abram het in dié tyd by die groot bome van die Amoriet Mamre, ’n broer van Eskol en Aner, uitgekamp. Hierdie mense was Abram se bondgenote. 14Toe Abram hoor dat sy broerskind gevang is, het hy onmiddellik opgetree. Hy het 318 van sy eie werkers geneem en die vyand in die rigting van Dan agtervolg. 15In die nag het Abram sy manne stilletjies ontplooi en onverwags op die Kedorlaomermanne toegesak. Hulle het die vyand byna vernietig en die vlugtendes tot so ver as Hoba, noord van Damaskus, agternagesit. 16Abram het sy broerskind, Lot, gou opgespoor en hom met al sy besittings teruggebring. Abram kon ook al die besittings sowel as al die vroue en kinders wat Kedorlaomer se manne gevat het, terugkry.
17Nadat Abram vir Kedorlaomer en sy bondgenote verslaan het, was hy weer op pad huis toe. Naby die Sawevallei (dit is die Koningsvallei) het hy skielik die koning van Sodom gesien. Hy het gekom om vir Abram dankie te sê.
18Nog ’n ent verder het Abram vir Melgisedek ontmoet. Hy was die koning van Salem en ’n priester van die allerhoogste God. Hy het vir Abram kos en wyn gegee, hom geseën en toe gesê:
19“Die allerhoogste God,
die Skepper van hemel en aarde,
is naby jou en sal jou gelukkig maak.
20Loof Hom, die allerhoogste God,
wat jou van jou vyande gered het.”
Abram was so aangegryp dat hy Melgisedek ’n tiende van alles gegee het.
21Die koning van Sodom het toe vir Abram gesê: “Jy kan al die buit vir jou hou, maar gee die mense vir my terug.”
22Abram het toe vir die koning van Sodom gesê: “Nooit aste nimmer nie. Ek het by die Here, die allerhoogste God, die Skepper van die hemel en die aarde, gesweer dat ek niks van u sal vat nie, 23nie eers ’n garingdraad of ’n skoenveter nie. Nooit mag u sê dat u my ryk gemaak het nie. 24Behalwe vir die kos wat my manne geëet het, vra ek niks nie. Maar Aner, Eskol, Mamre en al die ander manne wat my gehelp het, moet hulle deel kry.”

2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.

Learn More About Die Boodskap