YouVersion Logo
Search Icon

Ester 8

8
1Op daardie selfde dag het koning Ahasveros al Haman, wat die Jode se vyand was, se eiendom vir koningin Ester gegee. Ester het ook vir die koning vertel dat Mordegai familie van haar was. Die koning het Mordegai na hom toe laat kom. 2Die koning het toe sy seëlring, wat hy van Haman af teruggevat het, afgehaal en dit vir Mordegai gegee. Ester het vir Mordegai beheer gegee oor al Haman se bates.
Die koning help die Jode
3Ester het weer met die koning gaan praat. Sy het op haar knieë voor hom gaan staan en by hom gehuil. Sy het hom gesmeek om die slegte plan van Haman, die afstammeling van koning Agag van die Amalekiete, teen die Jode stop te sit. 4Die koning het weereens sy goue septer na Ester toe uitgesteek. Sy staan toe op en sê vir hom: 5“As dit met die koning reg is en as u van my hou, skryf asseblief ’n koninklike brief om Haman, die seun van Hammedata en ’n afstammeling van koning Agag van die Amalekiete, se opdragte te stop. Hy het beveel dat die Jode in al die provinsies doodgemaak moet word. 6Hoe sou ek dit kon verdra om te sien hoe my volk deur so ’n ramp getref word en my eie familie uitgeroei word?”
7Toe sê koning Ahasveros vir koningin Ester en vir Mordegai die Jood: “Kyk, ek het Haman laat ophang oor sy komplot teen die Jode en al sy bates vir Ester gegee. 8Skryf julle nou ’n brief aan die Jode, soos julle goeddink, en stuur dit aan hulle in my naam en verseël dit met my seëlring. Onthou: ’n brief wat in die koning se naam geskryf is en met sy seëlring verseël is, kan nie teruggetrek word nie.”
9Hulle het toe dadelik die koning se skrywers laat kom. Dit was 25 Junie. Mordegai het briewe gedikteer vir al die Jode, die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs en al die beamptes in die 127 provinsies wat vanaf Indië tot by Soedan gestrek het. Die briewe is aan elke provinsie in hulle eie taal en skrif gestuur sodat hulle dit kon verstaan. Ook die Jode het hulle briewe in hulle eie taal en skrif gekry. 10Mordegai het die briewe in die naam van die koning geskryf en dit met sy seëlring verseël. Daarna het hy die briewe met boodskappers uitgestuur wat met vinnige perde uit die koning se stalle gery het. 11Volgens die briewe het die koning aan die Jode in al die stede die reg gegee om saam te staan en hulleself te verdedig. Hulle het nou die reg gehad om enige gewapende mag van enige volk of provinsie wat hulle aangeval het voor die voet dood te maak, vroue en kinders inkluis. Hulle kon selfs hulle aanvallers se besittings as buit vir hulleself vat. 12Die dag waarop hierdie koninklike opdrag in al die provinsies in werking sou tree, was 7 Maart die volgende jaar. 13Hierdie proklamasie moes in elke provinsie as ’n wet afgekondig word en almal moes daarvan weet. Dit sou verseker dat die Jode gereed sou wees om wraak te neem op hulle vyande wanneer daardie dag aanbreek.
14Die koninklike perderuiters is toe op bevel van die koning haastig daar weg. Hierdie koninklike bevel is ook in die stad Susan aangekondig. 15Mordegai het die paleis verlaat, geklee in ’n koninklike mantel van blou en wit en met ’n pragtige goue kroon op sy kop. Bo-oor die mantel het hy ’n kleed van fyn linne en pers stof gedra. Die stad Susan het met vreugde die nuwe proklamasie gevier. 16Die Jode was opgeruimd en vrolik. Hulle het gevoel dat hulle weer waardige mense was. 17In elke stad en provinsie waar die koning se proklamasie uitgevaardig is, het die Jode gejuig en reg deur die dag feesgevier. Baie mense het by die Jode aangesluit omdat hulle bang was vir wat die Jode nou aan hulle sou doen.

Currently Selected:

Ester 8: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy