YouVersion Logo
Search Icon

Prediker 9

9
Geniet die lewe, want jy kan dit nie verander nie
1Ek het die lewe ondersoek en besef dat alles voorafbepaal is. God beheer wyse mense en hulle dade, asook hulle gevoelens van liefde en haat. Niemand weet wat môre of oormôre gaan gebeur nie.
2Dieselfde lot tref almal. Dit maak die lewe sinloos. Of iemand nou goed of sleg is, en of iemand offer of nie offer nie, maak nie eintlik saak nie. ’n Goeie mens is nie in ’n beter posisie as ’n slegte mens nie en iemand wat beloftes voor God aflê, is nie beter as iemand wat dit nie doen nie. 3Daar is ’n slegte ding in hierdie wêreld en dit is dat almal dieselfde lot deel. Mense gee hulle aan sinlose dinge oor en bedink allerlei booshede. Daarna gaan hulle dood. 4Almal wat leef, het egter ’n skrale troos; amper soos die waardelose voordeel van ’n brandsiekhond wat nog leef teenoor ’n sterk leeu wat klaar dood is. 5En dit is dat die lewende weet hy gaan sterf, terwyl die dooie dit nie weet nie. Die dooie kan niks meer geniet nie. Hy word heeltemal vergeet. 6Selfs sy liefde, haat en jaloesie gaan saam met hom dood. Hy het geen deel meer aan enigiets wat op aarde gebeur nie.
7In sulke omstandighede moet jy jou kos met vreugde geniet en jou wyn met blydskap drink. God het dit lank gelede al so bepaal. 8Dra die regte klere om te wys hoe gelukkig en bly jy is. Laat jou klere wys dat jy die lewe tot ’n fees verklaar het. 9Geniet die lewe met die vrou vir wie jy lief is. Geniet haar elke dag in die sinlose lewe wat jou gegun is. Sy sal jou troos wees in hierdie sinlose wêreld waarin jy jou dag en nag moet afsloof. 10Werk hard en probeer dit geniet. Doen wat jou hand vind om te doen, want in die blyplek van die dooies waarheen jy op pad is, werk niemand nie. Daar is ook geen kennis of wysheid nie.
11Daar is nog iets wat my baie omkrap. En dit is dat die vinnigstes nie altyd die resies wen of die sterkstes die geveg nie. Verder het daardie mens wat reg leef, nie altyd kos nie; ’n skrander mens is ook nie altyd ryk nie en slimmes word nie altyd bevorder nie. Slegte dinge tref almal. 12Niemand weet wanneer iets slegs met hom gaan gebeur nie. Soos wanneer voëls skielik in ’n wip beland, of visse in ’n net, net so vinnig en onverwags tref ongeluk die mens.
Mense steur hulle nie aan wysheid nie
13Ek het in hierdie wêreld gesien dat mense nie veel van wysheid dink nie. 14Op ’n keer was daar ’n klein dorpie met ’n paar inwoners. ’n Groot sterk koning het teen die dorpie opgetrek. Hy het dit omsingel en die mure begin afbreek. 15Binne-in die dorpie was daar ’n arm man, maar baie wys. Deur sy kennis en insig het hulle die koning se aanslag afgeweer. Maar na ’n tydjie het niemand meer aan dié wyse man gedink nie. 16Toe het ek vir myself gesê dit is tipies van die lewe. Wysheid is baie beter as krag en mag, maar die arm wyse sal altyd verag word. Niemand luister na hom nie. 17Om rustig na die diep gedagtes van ’n wyse te luister is baie beter as die geskree van ’n politieke leier in die geselskap van dwase mense. 18Wysheid is beter as oorlogswapens. ’n Dwaas kan egter alle goeie dinge met een woord vernietig.

Currently Selected:

Prediker 9: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy