YouVersion Logo
Search Icon

Prediker 8

8
1Wie is regtig slim? En wie het die antwoord op al die vrae? Die mens wat baie weet, se gesig straal van vriendelikheid.
2Doen wat die regeerder sê. Moenie haastige beloftes aan God maak nie. 3Omdat ’n regeerder kan doen wat hy wil, moet jy nie te lank by hom bly of ’n slegte saak ondersteun nie. 4Die regeerder se woord is wet. Wie kan hom aanspreek oor wat hy doen? 5Solank jy maar doen wat die regeerder sê, is jy veilig. Die wyse weet wat om op die regte tyd te sê en te doen. 6Vir alles is daar ’n tyd en ’n uur, maar die mens ken dit nie. 7Niemand weet wat gaan gebeur nie en niemand kan jou ook vertel wat voorlê nie. 8’n Mens is magteloos. Hy kan nie die wind keer nie, hy kan nie sy sterfdag uitstel nie, hy kan nie militêre diens vermy nie en hy kan nie alles met sy rykdom regkry nie.
Is daar nog iets soos geregtigheid?
9Toe ek oor alles in die lewe nagedink het, het ek besef sommige het baie mag en sommige nie. Dié wat nie mag het nie, moet altyd ly onder dié wat mag het. 10Ek het gesien hoe slegte mense begrawe word en hoe mense hulle prys, terwyl goeie mense uit hulle stad moet vlug en vergeet word. Dit wys net hoe sinloos en deurmekaar die lewe is.
11Mense doen maklik verkeerde dinge omdat dit lank vat voordat die skuldiges gestraf word. 12’n Slegte mens kan selfs 100 misdade pleeg en nog steeds lank leef. Die mense sê mos altyd: “As jy vir God bang is, sal dit met jou goed gaan. 13Slegte mense wat God nie dien nie, sal net teëspoed ervaar. Hulle lewe is soos ’n skaduwee en hulle lewensjare min.” 14Dit is egter verkeerd. Net die teenoorgestelde gebeur. Met goeie mense sal dit sleg gaan en met slegte mense goed. Dit wys net weer hoe absurd die lewe eintlik is.
15Ek het daarom besluit dat wat die mens eintlik nodig het, vreugde is. Niks is beter as om te eet en te drink en die lewe te geniet nie. Dít kan die mens help om die sinloosheid te verwerk van hierdie lewe wat God ons gegee het.
16Ek het dag en nag gewerk om die lewe en die dinge wat in die wêreld gebeur, te probeer begryp. 17Uiteindelik moes ek opgee, want die mens kan nooit God se werk deurgrond nie. Al probeer hy hoe hard, sal hy die sin van die lewe nooit kan ontsluit nie.

Currently Selected:

Prediker 8: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy