YouVersion Logo
Search Icon

Prediker 10

10
Dwaasheid het slegte gevolge
1Dooie vlieë wat in ’n apteker se medisyne beland, kan dit alles laat sleg word sodat dit begin stink. So maak ’n dwase mens ook. Met net ’n bietjie dwaasheid kan hy ’n goeie naam deur die modder sleep.
2Die wyse se pad loop op die roete van vreugde en geluk. Die dwaas se pad loop op die roete van ellende en ongeluk. 3’n Dwaas leef op so ’n manier dat almal sy dwaasheid agterkom.
4As die regeerder hom vir jou vererg, moet jy nie jou goed vat en loop nie. Bly eerder kalm sodat die situasie nie vererger nie. 5Daar is een slegte ding wat ek in die lewe gesien het en wat my bly hinder. En dit is iets wat magsfigure doen. 6Hulle stel dwase mense in hoë posisies aan terwyl die ware kundiges vernederende werkies moet verrig. 7Ek het slawe op perde gesien, terwyl vername mense soos ’n slaaf met hulle voete moes loop.
8Wie ’n gat vir iemand anders grawe, kan self daarin val. Wie ’n muur afbreek, kan deur ’n slang gepik word. 9Wie stene losbreek, kan beseer word. Wie hout kap, kan seerkry. 10As die byl stomp is omdat niemand dit geslyp het nie, moet ’n mens dubbel so hard werk. Wat help wysheid en kundigheid ’n mens nou in sulke gevalle? 11As die slang eerste byt, is die slangvanger se werk nutteloos. Ook hier help vaardigheid niks.
Dwaasheid is gevaarlik
12’n Wyse se woorde is aangenaam om na te luister. ’n Dwaas vernietig homself deur sy woorde. 13As ’n dwaas begin praat, hoor jy sommer die domheid. Hoe meer hy praat, hoe waansinniger word dit. 14’n Dwaas praat aanmekaar, maar niemand weet wat môre of na die dood gaan gebeur nie. Daarom is dit beter om stil te bly. 15Die dwaas maak hom so moeg met sy gepraat dat hy nie eens die pad huis toe kan kry nie.
16Dit gaan sleg met die land wie se regeerder ’n kind is en wie se raadgewers vroegdag al begin partytjie hou. 17Gelukkig is die land wie se koning die regte dinge doen en wie se leiers op die regte tyd met die fees begin en dit met waardigheid en sonder dronkgelag kan vier.
18Luiheid veroorsaak dat die dak begin insak en dat dit aanmekaar lek.
19’n Fees maak jou gelukkig en wyn beur jou op, maar albei kos geld.
20Moenie die koning selfs eens in jou gedagtes kritiseer nie. En moenie die magtiges eens in jou slaapkamer slegsê nie, want die voëltjies kan dit dalk hoor en jou woorde aan hulle gaan oorvertel.

Currently Selected:

Prediker 10: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy