YouVersion Logo
Search Icon

Deuteronomium 10

10
Moses ontvang weer die tien spesiale voorskrifte
1“Toe het die Here weer vir my gesê: ‘Kap twee plat klippe, net soos die eerstes wat jy stukkend gebreek het. Maak ook ’n houtark waarin jy die klippe kan sit. Klim dan weer op na My toe bo-op die berg. 2Ek sal dieselfde woorde op die plat klippe skryf as wat Ek die eerste keer daarop geskryf het. Jy moet dit dan vat en in die ark gaan sit.’
3“Ek het die ark van akasiahout gemaak en twee stene soos die eerstes gekap. 4Bo-op die berg het die Here weer die tien spesiale voorskrifte neergeskryf net soos Hy dit destyds in die vuur by Horeb vir ons gesê het. 5Toe die Here klaar geskryf het, het Hy die plat klippe gevat en dit vir my gegee. Ek is weer bergaf met die klippe onder my arms. Net soos die Here gesê het, het ek die klippe in die ark gaan neersit.
6“Israel het op ’n keer in die woestyn by die fonteine van die seuns van Jaäkan gaan woon. Van daar is hulle na Mosera, waar Aäron gesterf het en begrawe is. Sy seun Eleasar het hom as priester opgevolg. 7Van Mosera het hulle na Gor-Gidgad getrek en van daar weer na Jotbata, ’n plek met volop water.
8“In dié tyd het die Here die stam van Levi vir ’n spesiale werk afgesonder. Hulle moes die ark met die getuienis van die ooreenkoms met die Here dra en sy priesters wees. Hulle moes ook die mense in die Naam van die Here seën. Tot vandag toe is die Leviete priesters. 9Dit is ook waarom die Leviete nie ’n stukkie grond in die nuwe land gaan kry nie. Hulle moet net getroue priesters wees; dan sal die Here self vir hulle sorg.
10“Soos ek gesê het, was ek vir 40 dae en nagte bo-op op die berg, net soos die eerste keer. Ek het daar met die Here geworstel omdat Hy jou, Israel, wou vernietig. Die Here het egter my gebede verhoor en jou nie uitgeroei nie. 11Hy het toe vir my gesê om julle na die land toe te lei wat Hy lank gelede al aan julle voorvaders beloof het.”
Wat vra die Here?
12“Israel, wat is dit wat die Here van jou vra? Hy vra net dat jy Hom alleen moet aanbid. Hy vra jou om sy wil te gehoorsaam; om Hom altyd lief te hê; om Hom met jou hele wese en met oorgawe te dien; 13om al die wette wat ek jou vandag gee, jou eie te maak; om die Here se wil ook jou wil te maak. As jy al hierdie dinge doen, sal dit met jou baie goed gaan. 14Aan die Here behoort die hoogste hemel sowel as die aarde met alles wat daarop is. 15En tog het die Here net julle voorvaders liefgehad. Van al die volke op aarde het die Here net vir hulle gekies omdat Hy vir hulle lief was. Tot vandag toe is julle steeds die Here se eiendom. 16Gee julle daarom heeltemal aan die Here oor. Moenie meer soos in die verlede teen die Here in opstand kom nie.
17“Die Here jou God is sterker as enige ander god en Hy is magtiger as alle mense op die aarde. Hierdie groot, magtige en sterk God kies nie kant in hofsake nie en word nooit omgekoop nie. 18Hy sorg dat weeskinders en weduwees regverdig behandel word. Hy het mense van ander volke wat tussen julle bly, lief en Hy gee vir hulle kos en klere. 19Ook jy moet sulke mense liefhê, want jy was self lank ’n vreemdeling in Egipte.
20“Jy moet net die Here jou God aanbid. Jy moet Hom altyd dien, altyd aan Hom vashou en net in sy Naam beloftes maak. 21Die Here is jou God en Hom moet jy altyd loof. Vir jou en vir jou alleen het Hy al hierdie groot dinge gedoen. En jy het alles met jou eie oë gesien. 22Toe jou voorouers destyds Egipte toe is, was hulle maar min. Tog het die Here julle so baie soos die sterre in die hemel laat word.”

Currently Selected:

Deuteronomium 10: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy