YouVersion Logo
Search Icon

2 Korintiërs 11

11
Oppas vir mense wat die evangelie verdraai
1Ek wil julle nou iets snaaks vra. Sal julle omgee as ek my vir ’n rukkie soos ’n dwaas gedra? Net so ’n paar oomblikke?
2Julle weet ek gee verskriklik baie om vir julle. Met ’n ywer wat van God af kom, wil ek julle oppas en beskerm. Ja, ek het as’t ware die verlowing tussen julle en Christus gereël. Daarom is dit ook my plig om julle eendag soos ’n bruid aan Christus af te gee. En ek wil julle soos ’n jongmeisie wat nog nie seksuele gemeenskap met ’n man gehad het nie, na haar bruidegom toe vat. Skoon en rein. 3Maar ek is regtig bang dat julle in dieselfde slaggat sal trap as Eva toe sy deur die slang verlei is. Ek is bekommerd dat julle gedagtes nie meer een honderd persent daarop gerig is om Christus opreg te dien nie.
4Julle gee my slapelose nagte! Julle glo elkeen wat deesdae daar by julle kom preek, ook al praat hulle oor heeltemal ’n ander Jesus as ek. Dit maak nie vir julle saak of hulle ’n ander evangelie na julle toe bring as die een wat julle by my gehoor het, en of hulle oor ’n ander gees met julle praat as die Een oor wie ek praat nie, julle eet dit alles vir soetkoek op!
Op die oomblik tree daar juis sulke mense by julle op. Kom ek sê sommer reguit vir julle dat daardie sogenaamde wonderlike apostels nie so belangrik is as wat hulle julle probeer wysmaak nie. 5Ek staan nie ’n enkele tree vir hulle terug nie. 6Selfs al is ek nie so glad met my mond soos hulle nie, weet ek baie goed hoe God se raadsplan werk. Dit het julle tog gehoor toe ek daar by julle was.
Integriteit
7Ek vra my af of ek nie ’n groot fout gemaak het toe ek die goeie nuus oor God daar by julle kom bekendmaak het nie. Ek het julle soos ’n slaaf gedien sodat julle al die eer kon kry. Ek wou nie ’n sent van julle hê nie. 8Ander gemeentes moes vir my sorg. Ek het as’t ware die kos uit hulle mond gevat sodat ek julle met die goeie nuus kon bedien. 9Ek onthou nog die keer toe ek nie ’n sent op my naam gehad het nie. Maar nie eens toe het ek dit gewaag om julle te vra om my te help nie. Nee, ’n groepie Christene uit Masedonië het my uit my geldelike verknorsing kom help.
Ek was nog nooit ’n geldelike las vir julle nie. So sal dit in die toekoms ook bly. 10Ek is baie trots daarop dat ek nie julle geld wil hê nie; Christus weet dit. Niemand daar by julle in die provinsie Agaje sal my oortuig om anders hieroor te dink nie. 11Weet julle hoekom ek nie julle geld wil vat nie? Wel, omdat ek verskriklik baie vir julle omgee. God weet dit. Daarom wil ek vry wees om julle met die goeie nuus te dien sonder dat ek julle weer iets skuld indien ek julle geld sou vat.
12Wat my werkswyse betref: ek is glad nie van plan om die manier waarop ek vir die Here werk te verander nie. Ek sal daardie spul wat nou by julle optree se vals motiewe ontmasker. Hulle vertel glo vir julle dat hulle ook apostels is, net soos ek. 13Maar hulle is ’n spul leuenaars wat net maak asof hulle deur Christus as sy apostels aangestel is. 14Ook g’n wonder nie. Satan doen die hele tyd sulke bedrieglike dinge. Wanneer dit hom pas, verander hy hom selfs in ’n engel van die lig. 15Daarom moet julle glad nie verbaas wees wanneer mense wat vir hom werk presies dieselfde doen nie. Hulle maak maar net asof hulle doen wat God vra. Daar wag groot probleme op sulke mense. Hulle sal die straf kry wat hulle verdien.
Dwase praatjies
16Onthou julle dat ek julle vroeër gevra het om my nie te gou as ’n dwaas af te skryf nie? Of anders, doen dit tog maar sodat ek ook ’n bietjie kan spog. 17Wat ek nou sê, sê ek natuurlik nie met die gesag van die Here agter my nie. Nee, ek doen dit as ’n dwaas, en met die selfvertroue van ’n dwaas. 18Omdat so baie mense oor wêreldse dinge spog, gaan ek nou dieselfde doen.
19In elk geval, julle wat mos so verskriklik slim is, het glad nie ’n probleem om na dwase te luister nie, of hoe? 20Julle hou mos daarvan as mense julle slawe maak van allerhande verkeerde leringe wat hulle in julle kele afdruk. Julle gee ook nie om as hulle julle geld vat met hulle vroom praatjies nie. Dis skynbaar ook nie vir julle ’n probleem dat hulle julle vir hulle eie gewin misbruik nie, of dat hulle op julle neersien en julle soos vloerlappe behandel nie. 21Ek moet nou maar teenoor julle erken dat ek veels te swak is vir sulke behandeling. Ek sal dit nie vat as ander mense sulke dinge aan my doen nie.
Julle hou ook baie daarvan as mense spog met al die groot dinge wat hulle vir die Here doen. Daarom doen ek dit nou ook. (Onthou tog net, dit is “die dwaas” wat nou aan die woord is.) 22Daardie mense wat by julle preek, vertel vir almal dat hulle opregte Hebreërs is wat nog Hebreeus kan praat. Wel, ek ook. Hulle sê hulle is Israeliete. Ek ook. En lede van Abraham se nageslag. Ek ook. 23Dink hulle miskien dat hulle sulke wonderlike dienaars van Christus is? Wel, ek is ’n nog beter dienaar van Christus as hulle. Nou raak ek totaal uitspattig!
Spog oor swaarkry?
24Ek het harder gewerk as al daardie mense. Male sonder tal is ek in die tronk gegooi. Ek is meer kere geslaan as wat ek kan onthou. Dikwels het my lewe aan ’n draadjie gehang. Vyf maal het die Jode my laat gesel deur my die gebruiklike 39 houe te slaan. 25Drie maal is ek met stokke toegetakel. Een keer is ek met klippe gegooi en vir dood agtergelaat. Drie keer het die skip waarop ek was, gesink. ’n Ander keer moes ek ’n hele dag en nag op die oop see ronddryf. 26Ek het ook al die wêreld vol gereis. En ek moes al ’n groot klomp gevare trotseer: vol riviere; rowers wat my wou aanrand; my eie volksgenote en ander mense wat nie aan Israel behoort nie wat my prediking verwerp het; gevare in die stede en in woestyne; storms op die see en vals gelowiges wat my in die steek gelaat het.
27Ek moes ook baie hard werk. Baie nagte het ek nie ’n oog toegemaak nie. Dikwels het ek niks gehad om te eet of te drink nie. Kos was maar altyd ’n skaarste. Ek het ook nie altyd genoeg warm klere gehad om my teen die koue te beskerm nie.
28Asof dit nie genoeg is nie, moet ek ook nog elke dag ’n groot klomp krisisse hanteer. Die verskillende gemeentes se probleme lê swaar op my hart. 29Wanneer party gelowiges wil tou opgooi, voel ek hulle pyn aan my eie lyf. En wanneer hulle in die sonde val, voel dit vir my asof ek self deur die vuur stap.
30As ek dan nou oor myself moet spog, sal ek liewer oor al my swakhede spog. Ek lieg nie as ek al hierdie dinge vir julle sê nie. 31Ons wonderlike God weet dit. Hy is die Vader van ons Here Jesus. Sy Naam moet vir altyd grootgemaak word.
32O ja, toe ek vroeër in Damaskus was, het die goewerneur van koning Aretas sy soldate beveel om die stad op te pas sodat ek nie kon ontsnap nie. 33Toe het die gelowiges my in ’n mandjie versteek en deur ’n venster in die stadsmuur laat afsak. So het ek daarin geslaag om te ontsnap.

Currently Selected:

2 Korintiërs 11: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy