YouVersion Logo
Search Icon

2 Kronieke 31

31
1Toe die fees verby was, het die Israeliete wat die fees bygewoon het, na al die dorpe in Juda, Benjamin, Efraim en Manasse gegaan. Hulle het die heilige pilare stukkend geslaan en die Asjerapale afgekap. Hulle het die heidene se heilige plekke en die altare afgebreek en toe het almal na hulle eie dorpe en huise toe teruggegaan.
Hiskia organiseer die priesters en die Leviete
2Hiskia het die priesters en die Leviete weer in diensgroepe ingedeel. Daar was groepe wat die brandoffers en die vredesoffers moes versorg, ander was verantwoordelik vir die erediens en die dank- en lofgesange vir die Here by die tempel.
3Volgens die Here se reëls het die koning self ook diere geskenk vir die oggend- en aandoffers. Hy het ook diere gegee vir die weeklikse sabbatsfeeste en die maandelikse nuwemaansfeeste en vir die jaarlikse feeste. 4Hy het ook vir die mense in Jerusalem opdrag gegee om die voorgeskrewe deel van hulle inkomste aan die priesters en die Leviete af te staan sodat hulle voltyds vir die Here kon werk.
5Die mense het dadelik positief gereageer. Hulle het in oorvloed van die eerste oes van hulle graan, hulle nuwe wyn, olyfolie, heuning en ander landbouprodukte na die tempel toe gebring. 6Die Israeliete en Judeërs wat in die dorpe van Juda gebly het, het ook bydraes gebring in die vorm van beeste en skape, asook spesiale geskenke wat hulle vir die Here hulle God gegee het. 7Hulle het dié bydraes in die derde maand begin insamel en teen die sewende maand was hulle klaar daarmee.
8Toe Hiskia en sy amptenare na die bydraes kom kyk, het hulle die Here en vir Israel geprys. 9Terwyl Hiskia die hope goed met die priesters en Leviete bespreek het, 10het Asarja, die hoëpriester uit Sadok se familie, vir hom gesê: “Sedert hulle begin het om die bydraes na die tempel van die Here te bring, het ons nog altyd genoeg gehad om te eet. Daar het nog altyd ’n hoeveelheid oorgebly, want die Here was goed vir sy mense.”
11Hiskia het beveel dat hulle stoorkamers by die tempel moes inrig. 12Die Leviet Kenanja moes oor al die geskenke toesig hou. Simi was tweede in bevel. 13Die amptenare wat vir Kenanja en Simi gewerk het, was Jegiël, Asasja, Nagat, Aseal, Jerimot, Josabad, Eliël, Jismakja, Magat en Benaja. Dit was koning Hiskia en die hoëpriester Asarja, wat die hoof van die tempel was, se reëlings. 14Die Leviet Kore seun van Jimna, wat die wag by die Oospoort was, moes toesig hou oor die geskenke aan God, asook oor die aanwending van al die bydraes vir die Here en oor die spesiale geskenke wat aan Hom gegee is. 15Sy helpers was Eden, Minjamin, Jesua, Semaja, Amarja en Sekanja. Hulle het die bydraes onder die priesterfamilies in hulle eie dorpe uitgedeel. Hulle het gesorg dat oud en jonk almal regverdig behandel word. 16Hulle het ook gesorg dat elke man wat daagliks inkom om sy werk by die Here se tempel te doen sy geskenke kry. 17Die priesters is volgens hulle familie in die register aangeteken, en van die Leviete is dié wat twintig jaar en ouer was volgens hulle diensgroepe en beurte aangeteken. 18Hulle hele gesin is ook in die register aangeteken, dit is die vroue, seuns en dogters van die hele tempelgemeenskap. 19Die priesters uit die familie van Aäron wat in die dorpe rondom die stede gewoon het, is ook voorsien van hulle deel van die tempelbydraes deur mense wat daarvoor aangestel is. Hulle moes ook sorg vir die Leviete wat in die familieregisters aangeteken was.
20Koning Hiskia se verspreiding van die tempelbydraes deur die hele Judea het die Here sy God tevrede gestel. 21Hiskia het baie moeite vir die tempel van God gedoen en het met oorgawe die Here se wet en opdragte probeer uitvoer. Daarom was hy baie suksesvol.

Currently Selected:

2 Kronieke 31: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy