YouVersion Logo
Search Icon

1 Samuel 8

8
Die volk vra ’n koning
1Toe Samuel ’n ou man was, het hy sy seuns aangestel om regters te wees vir die Israeliete. 2Sy oudste seun was Joël en die tweede Abia. Hulle was regters in Berseba. 3Maar hulle het nie hulle pa se voorbeeld gevolg nie. Die twee was net daarop uit om geld te maak. Hulle het omkoopgeskenke by die mense gevat en in die hof sommer net gesê waarvan die mense gehou het.
4Al die familiehoofde van Israel het toe bymekaargekom en na Samuel toe in Rama gegaan. 5Hulle sê vir hom: “U het oud geword en u seuns volg nie u voorbeeld nie. Stel dan nou ’n koning oor ons aan om ons regter te wees soos dit die geval is by al die ander nasies.”
6Samuel het niks gehou van die idee dat hulle gesê het: “Gee vir ons ’n koning om ons regter te wees,” nie. Hy het toe by die Here raad gaan vra.
7Die Here sê toe vir Samuel: “Jy moet maar doen wat hulle sê, want eintlik is dit nie vir jou wat hulle verwerp nie, maar hulle wil My nie meer as koning oor hulle hê nie. 8Hulle doen maar net wat hulle nog altyd gedoen het vandat Ek hulle uit Egipte laat trek het: hulle draai die rug vir My en dien ander gode. Hulle behandel jou nou net so. 9Doen wat hulle sê, maar waarsku hulle ernstig en sê vir hulle wat die regte is van die koning wat oor hulle gaan heers.”
10Samuel het vir die volk wat ’n koning wou hê, alles gesê wat die Here vir hom gesê het, 11en toe bygevoeg: “Die koning wat oor julle gaan heers, sal die reg hê om julle seuns diensplig te laat doen in sy strydwamag en in sy troepe wat op perde ry. Hulle sal as boodskappers voor sy strydwa moet hardloop. 12Hy sal hulle as offisiere oor 50 en oor 1 000 manskappe gebruik. Hulle sal ook sy lande moet ploeg, vir hom moet oes, wapens moet maak en sy strydwaens moet regmaak. 13Julle dogters sal hy gebruik om vir hom salf te meng, te kook en te bak. 14Hy sal julle beste landerye, wingerde en olyfboorde vat en dit vir sy amptenare gee. 15Hy sal tien persent van julle landerye en wingerde se oes vat en dit vir sy paleiswerkers en ander amptenare gee. 16Hy sal julle slawe en slavinne, julle beste jong mans en julle donkies vat om vir hom te werk. 17Hy sal ook tien persent van die aanteel van julle kleinvee vat. Julle sal self eintlik maar sy slawe wees. 18As julle dan in die toekoms by die Here smeek om tog net ontslae te raak van die koning wat julle gekies het, sal Hy nie julle gebede verhoor nie.”
19Maar die volk wou nie na Samuel luister nie. Hulle het gesê: “Nee, ons móét ’n koning hê! 20Dan sal ons ook soos die ander nasies wees: ons koning sal vir ons ’n regter wees; hy sal ons lei en vir ons oorlog maak.”
21Toe Samuel alles hoor wat die volk sê, het hy dit vir die Here gaan vertel. 22Die Here sê toe vir hom: “Luister na hulle en stel ’n koning oor hulle aan.”
Samuel het vir die familiehoofde gaan sê: “Gaan elkeen eers terug na sy dorp toe.”

Currently Selected:

1 Samuel 8: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy