YouVersion Logo
Search Icon

1 Samuel 2

2
Hanna se gebed
1Hanna het gebid en gesê:
Ek is opgewonde oor wat U, Here, gedoen het. U, Here, het my sterk gemaak. Ek lag as ek aan my vyande dink. Ek is so bly dat U my gehelp het!
2Daar is geen god soos U nie. Ja, daar is geen god buiten U nie. Daar is nie nog ’n rots soos ons God nie.
3Mense moet ophou met hulle grootpratery, met hulle astrante woorde. Die Here weet alles; Hy kyk wat die mense doen.
4Die boë van die sterk mense is gebreek, maar die swak mense wat wou val, is nou sterk. 5Die mense wat baie kos gehad het, moet nou werk vir ’n bietjie kos, en dié wat honger was, is heeltemal versadig. Die vrou wat nie kon kinders kry nie, het nou sewe kinders, en met die een wat baie kinders gehad het, gaan dit sleg.
6Die Here maak dood en Hy maak lewendig. Hy laat mense afgaan in die graf en Hy laat mense daaruit opstaan. 7Die Here maak arm en Hy maak ryk. Hy verneder en Hy verhoog. 8Hy laat onbelangrike mense uit die stof opstaan; Hy tel die armes van die ashoop af op. Hy laat hulle by belangrike mense sit; Hy gee hulle ’n spesiale plek.
Dit is seker: die pilare van die aarde is die Here s’n; Hy maak die aarde daarop vas. 9Hy help dié wat aan Hom getrou is, dat hulle nie val nie, maar slegte mense se lewe eindig in die donker. ’n Mens word nie met jou eie krag ’n held nie; 10die Here slaan dié wat Hom teëgaan stukkend.
In die hemel dreun die stem van die hoë God; die Here is regter oor die hele wêreld. Hy gee mag aan die koning wat Hy kies; Hy maak sy gesalfde sterk.
Die priesters in Silo
11Elkana het teruggegaan na sy huis in Rama, maar die seuntjie, Samuel, het agtergebly en onder toesig van Eli in die tempel gehelp.
12Eli se seuns was twee niksnutte; hulle het geen respek vir die Here gehad nie. 13Priesters het ’n sekere reg gehad wanneer iemand geoffer het. Terwyl die offervleis gekook word, kom die leerlingpriester met ’n drietandvurk 14en steek dit in die bak of pan of kookpot of kleipot. Alles wat aan die vurk vassit, is die priester s’n. So het hulle met al die Israeliete gemaak wat in Silo kom offer het.
15Maar nie Eli se seuns nie! Nog voor die vet vir die Here op die altaar verbrand word, kom die jong man en sê vir die een wat offer: “Gee van die vleis vir die priester om te braai. Hy wil nie gekookte vleis hê nie; jy moet vir hom rou vleis gee.” 16As die man vir hom sê: “Wag net eers tot die Here se deel verbrand is, dan kan jy vir jou vat wat jy wil,” sê die jong man: “Nee, gee dit dadelik, en as jy dit nie doen nie, vat ek dit met geweld!”
17Dit was ’n baie verkeerde ding wat dié twee jong mans daar in die tempel gedoen het, dat hulle so min respek gehad het vir die offers van die Here.
18Samuel het in die tempel gehelp; ’n klein seuntjie wat die klere van ’n priester dra. 19Sy ma het ook elke jaar vir hom ’n klein manteltjie gemaak en dit saamgevat wanneer sy saam met haar man Silo toe gegaan het vir die jaar se offer.
20Dan het Eli vir Elkana en sy vrou geseën en vir hom gesê: “Mag die Here vir jou by hierdie vrou nog kinders gee in die plek van die een wat sy van die Here gevra en weer aan Hom teruggegee het.” Daarna het hulle huis toe gegaan.
21Die Here hét toe aan Hanna aandag gegee: sy het weer ’n baba verwag. Sy het daarna nog drie seuns en twee dogters gehad. Haar seuntjie Samuel het by die Here grootgeword.
22Eli was al baie oud. Hy het gehoor wat sy seuns alles aan die Israeliete doen, en dat hulle selfs by die vroue geslaap het wat by die ingang van die tempel werk. 23Hy het vir hulle gesê: “Hoekom doen julle dit? Ek moet by al die mense net altyd slegte dinge van julle hoor. 24Nee, my seuns, dis regtig nie ’n mooi storie wat die volk van die Here rondvertel nie. 25As ’n mens teen iemand anders iets verkeerds doen, kan die regters jou miskien help. Maar wie sal jou help as jy teen die Here sondig?”
Maar hulle het hulle nie aan hulle pa gesteur nie. Die Here was vir seker van plan om hulle dood te maak.
26Samuel het groter geword en die Here en die mense het baie van hom gehou.
’n Profesie teen Eli en sy familie
27Daar het ’n man wat God gestuur het by Eli gekom met hierdie boodskap van die Here af: “Toe jou familie in Egipte, in die land van die farao was, het Ek vir hulle mooi gesê dat Ek die Here is. 28Ek het jou familie gekies uit al die families van Israel om by my altaar te werk, om wierook te brand, om my priesters te wees en om vir die mense te sê wat Ek wil hê. Ek het ook vir jou familie ’n deel van die offers gegee wat die Israeliete bring. 29Hoekom het julle dan nie respek vir die diere- en graanoffers wat Ek gesê het die mense na my woonplek toe moet bring nie? En hoekom is jou seuns vir jou belangriker as wat Ek is? Julle voer julleself vet met die beste deel van die geskenke wat my volk Israel bring om My te eer.
30“Daarom sê Ek, die Here, die God van Israel: Ek het vir seker gesê dat jou familie geslag na geslag vir altyd in my tempel sal werk. Maar nou is Ek klaar met julle, want Ek eer die wat My eer, maar wie nie vir My respek het nie, sal self geminag word.
31“Daar kom ’n tyd wanneer Ek die mag wat jy het en die mag van jou familie gaan kortknip, almal in jou familie sal jonk doodgaan. 32Jy sal baie bekommerd wees oor die tempel. Dit sal met Israel goed gaan, maar van jou familie sal niemand ooit oud word nie. 33As daar iemand van jou mense oorbly wat Ek nie van my altaar af wegvat nie, sal hy vir jou net hartseer en verdriet bring. Maar die meeste van jou familie sal jonk doodgaan. 34En hier is die bewys daarvan: jou twee seuns Hofni en Pinehas sal al twee op een dag doodgaan.
35“Ek sal vir My ’n betroubare priester aanstel wat sal doen wat Ek wil hê hy moet doen. Ek sal vir sy nageslag ’n priesterskap gee wat sal aanhou: hulle sal altyd vir die koning werk wat Ek gaan kies. 36Elkeen wat van jou familie oorbly, sal voor my priester gaan kniel vir ’n bietjie geld en ’n broodjie en vir hom sê: ‘Deel my asseblief in by een van die priestergroepe sodat ek tog ook iets kan hê om te eet.’”

Currently Selected:

1 Samuel 2: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy