YouVersion Logo
Search Icon

AMOS 1

1
Die onafwendbare oordeel.
1DIE woorde van Amos, een van die skaapboere uit Tekóa, wat hy gesien het aangaande Israel in die dae van Ussía, koning van Juda, en in die dae van Jeróbeam, die seun van Joas, koning van Israel, twee jaar voor die aardbewing.
2En hy het gesê: Die Here brul uit Sion en verhef sy stem uit Jerusalem, sodat die weivelde van die herders treur en die top van Karmel verdor.
3So sê die Here: Oor drie oortredinge van Damaskus, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle Gílead met ysterdorssleë gedors het.
4Daarom sal Ek 'n vuur slinger in die huis van Hásael, en dit sal die paleise van Bénhadad verteer.
5En Ek sal die grendel van Damaskus verbreek en die inwoners uit die laagte van Awen uitroei en die wat die septer dra, uit Bet-Eden, en die volk van Aram sal in ballingskap gaan na Kir, sê die Here.
6So sê die Here: Oor drie oortredinge van Gasa, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle 'n ganse bevolking in ballingskap weggevoer het om dit aan Edom uit te lewer.
7Daarom sal Ek 'n vuur slinger in die muur van Gasa, en dit sal sy paleise verteer.
8En Ek sal die inwoners uit Asdod uitroei en die wat die septer dra, uit Áskelon; en Ek sal my hand teen Ekron uitstrek, en die oorblyfsel van die Filistyne sal omkom, sê die Here Here.
9So sê die Here: Oor drie oortredinge van Tirus, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle 'n ganse bevolking as ballinge aan Edom uitgelewer het en nie gedink het aan die broederverbond nie.
10Daarom sal Ek 'n vuur slinger in die muur van Tirus, en dit sal sy paleise verteer.
11So sê die Here: Oor drie oortredinge van Edom, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hy sy broer met die swaard agtervolg het en sy jammergevoel verstik het, sodat sy toorn altyd verskeur en hy gedurigdeur sy grimmigheid behou.
12Daarom sal Ek 'n vuur slinger in Teman, en dit sal die paleise van Bosra verteer.
13So sê die Here: Oor drie oortredinge van die kinders van Ammon, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle die swanger vroue van Gílead oopgesny het om hulle grondgebied uit te brei.
14Daarom sal Ek 'n vuur aansteek in die muur van Rabba, en dit sal sy paleise verteer, met krygsgeskreeu op die dag van stryd, in 'n storm op die dag van die orkaan.
15En hulle koning sal in ballingskap gaan, hy en sy vorste tesame, sê die Here.

Currently Selected:

AMOS 1: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy