YouVersion Logo
Search Icon

PSALMS 147

147
'n Lofpsalm.
1LOOF die Here, want dit is goed om onse God te besing, ja lieflik; 'n loflied is gepas!
2 Die Here bou Jerusalem op; Hy versamel van Israel die wat verdryf is.
3Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde.
4 Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name.
5Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig.
6 Die Here rig die ootmoediges weer op; die goddelose mense verneder Hy tot die grond toe.
7Sing 'n danklied tot eer van die Here, psalmsing tot eer van onse God met die siter;
8wat die hemel met wolke oordek, wat vir die aarde reën berei, wat op die berge gras laat uitspruit,
9wat aan die vee hulle voedsel gee, aan die jong rawe as hulle roep.
10Hy het geen welbehae in die krag van die perd, geen welgevalle in die bene van die man nie.
11Die Here het 'n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop.
12 o Jerusalem, prys die Here! o Sion, loof jou God!
13Want Hy het die grendels van jou poorte sterk gemaak; Hy het jou kinders binne-in jou geseën.
14Hy wat aan jou grondgebied vrede verskaf, wat jou versadig met die beste van die koring,
15wat sy bevel na die aarde stuur — sy woord loop baie vinnig.
16Hy gee sneeu soos wol; Hy strooi ryp soos as.
17Hy werp sy ys heen soos stukke — wie kan bestaan voor sy koue?
18Hy stuur sy woord en laat hulle smelt; Hy laat sy wind waai — die waters loop.
19Hy maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en sy verordeninge.
20So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge, dié ken hulle nie. Halleluja!

Currently Selected:

PSALMS 147: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy