YouVersion Logo
Search Icon

PSALMS 105

105
'n Dankbare terugblik.
1 LOOF die Here, roep sy Naam aan, maak onder die volke sy dade bekend.
2Sing, psalmsing tot sy eer, spreek van al sy wonders.
3Beroem julle in sy heilige Naam; laat die hart van die wat die Here soek, bly wees.
4Vra na die Here en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur.
5Dink aan sy wonders wat Hy gedoen het, aan sy wondertekens en die oordele van sy mond,
6 o nageslag van Abraham, sy kneg, o kinders van Jakob, sy uitverkorenes!
7Hy, die Here, is onse God; oor die hele aarde is sy oordele.
8Hy dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte —
9 die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, en sy eed aan Isak;
10wat Hy ook vir Jakob as insetting bekragtig het, vir Israel as 'n ewige verbond,
11met die woorde: Ek sal aan jou die land Kanaän gee, julle aangewese erfdeel.
12Toe hulle min mense was, min en vreemdelinge daarin,
13en hulle getrek het van nasie tot nasie, van die een koninkryk na die ander volk,
14het Hy geen mens toegelaat om hulle te verdruk nie; ook het Hy konings om hulle ontwil gestraf en gesê:
15 Raak my gesalfdes nie aan en doen my profete geen kwaad nie.
16En Hy het 'n hongersnood oor die land geroep: elke staf van brood het Hy verbreek.
17 Hy het 'n man voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop.
18 Hulle het sy voete in boeie geknel, hy self het in die ysters gekom,
19tot op die tyd dat sy woord uitgekom het, die woord van die Here hom beproef verklaar het.
20 Die koning het gestuur en hom losgemaak, die heerser van die volke, en hom losgelaat.
21 Hy het hom aangestel as heer oor sy huis en as heerser oor al sy goed;
22 om sy vorste te bind na sy begeerte, en aan sy oudstes moes hy wysheid leer.
23 Toe het Israel na Egipte gekom, en Jakob het as vreemdeling vertoef in die land van Gam.
24En Hy het sy volk baie vrugbaar gemaak en dit meer versterk as sy teëstanders.
25Hy het hulle hart verander, om sy volk te haat, om listig teen sy knegte te handel.
26 Hy het Moses, sy kneg, gestuur en Aäron wat Hy uitgekies het.
27 Dié het onder hulle sy aangekondigde tekens gedoen en wonders in die land van Gam.
28 Hy het duisternis gestuur en dit donker gemaak; en hulle was teen sy woorde nie wederstrewig nie.
29 Hy het hulle waters verander in bloed en hulle visse laat sterwe.
30Hulle land het gewemel van paddas, in die kamers van hulle konings.
31Hy het gespreek, en daar het steekvlieë gekom, muskiete in hulle hele grondgebied.
32Hy het hulle reëns hael gemaak, vuurvlamme in hulle land.
33En Hy het hulle wingerdstok en hulle vyeboom geslaan en die bome van hulle grondgebied verbreek.
34Hy het gespreek, en daar het sprinkane gekom en voetgangers sonder getal,
35wat al die plante in hulle land opgeëet het, ja, opgeëet het die vrugte van hulle grond.
36 Hy het ook al die eersgeborenes in hulle land getref, die eerstelinge van al hulle krag.
37Toe het Hy hulle laat uitgaan met silwer en goud, en onder sy stamme was daar niemand wat struikel nie.
38 Egipte was bly toe hulle uittrek, want vrees vir hulle het op hulle geval.
39 Hy het 'n wolk uitgebrei as bedekking en vuur om die nag te verlig.
40Hulle het gebid: toe laat Hy kwartels kom; en Hy het hulle versadig met hemelbrood.
41 Hy het 'n rots oopgemaak, en waters het gevloei; dit het geloop deur die dor plekke — 'n rivier!
42Want Hy het gedink aan sy heilige woord, aan Abraham, sy kneg.
43En Hy het sy volk laat uitgaan met vreugde, sy uitverkorenes met gejubel.
44En Hy het aan hulle die lande van die heidene gegee, en wat deur volke met moeite verwerf is, het hulle in besit geneem,
45 dat hulle sy insettinge kan onderhou en sy wette bewaar. Halleluja!

Currently Selected:

PSALMS 105: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy