YouVersion Logo
Search Icon

SPREUKE 16

16
1DIE planne van die hart is van die mens, maar die antwoord van die tong kom van die Here.
2 Al die weë van 'n man is suiwer in sy oë, maar die Here toets die geeste.
3Laat jou werke aan die Here oor, dan sal jou planne uitgevoer word.
4 Alles het die Here gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.
5Elke hoogmoedige van hart is vir die Here 'n gruwel; sekerlik, hy sal nie ongestraf bly nie.
6Deur liefde en trou word die skuld versoen, en deur die vrees van die Here wyk 'n mens af van die kwaad.
7As die Here behae het in die weë van 'n man, dan laat Hy selfs sy vyande met hom vrede hou.
8 Liewer 'n bietjie met geregtigheid, as 'n menigte van inkomste met onreg.
9 Die hart van die mens dink sy weg uit, maar die Here rig sy voetstappe.
10Die beslissing is op die lippe van die koning; in die regspraak handel sy mond nie ontrou nie.
11'n Regte weegtoestel en weegskaal kom van die Here, al die weegstene in die sak is sy werk.
12Dit is 'n gruwel vir konings om goddeloosheid te doen, want deur geregtigheid word die troon bevestig.
13 Die konings het behae in regverdige lippe, en hulle het hóm lief wat regte dinge spreek.
14Die grimmigheid van die koning is soos boodskappers van die dood, maar 'n wyse man bring dit tot bedaring.
15 In die vriendelike blik van die koning is lewe, en sy welgevalle is soos 'n wolk van die laat reëns.
16 Hoeveel beter is dit om wysheid te verkry as goud, en verkiesliker om verstand te verwerf as silwer.
17Die gemaakte pad van die opregtes is om van die kwaad af te wyk; hy wat op sy wandel ag gee, bewaar sy lewe.
18 Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val.
19Dit is beter om nederig van gees te wees saam met die ootmoediges as om buit te verdeel met die trotsaards.
20Wie ag gee op die Woord, sal die goeie vind; en hy wat op die Here vertrou, is gelukkig.
21'n Wyse van hart word verstandig genoem, en soetheid van lippe vermeerder die lering.
22 'n Fontein van die lewe is die verstand vir sy besitter, maar die tugtiging van die sotte is sotheid.
23Die hart van die wyse maak sy mond verstandig en vermeerder die lering op sy lippe.
24 Vriendelike woorde is soos 'n heuningkoek: soet vir die siel en 'n genesing vir die gebeente.
25 Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.
26Die honger van die werksman arbei vir hom, want sy mond jaag hom aan.
27'n Deugniet grawe 'n kuil van onheil, en op sy lippe is soos 'n brandende vuur.
28'n Man van valse streke saai tweedrag, en 'n kwaadstoker skei vriende van mekaar.
29'n Man van geweld verlei sy naaste en lei hom op 'n weg wat nie goed is nie.
30Hy wat sy oë toemaak om valsheid te bedink, wat sy lippe vasknyp, het die kwaad alreeds gedoen.
31 Grysheid is 'n sierlike kroon; dit word gevind op die weg van geregtigheid.
32 Die lankmoedige is beter as 'n held; en hy wat sy gees beheers, as een wat 'n stad inneem.
33 In die skoot word die lot gewerp, maar elke beslissing daarvan kom van die Here.

Currently Selected:

SPREUKE 16: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy