YouVersion Logo
Search Icon

LEVÍTIKUS 1

1
Die brandoffer.
1EN die Here het Moses geroep en met hom gespreek uit die tent van samekoms en gesê:
2Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As iemand van julle aan die Here 'n offer wil bring, kan julle jul offer bring van vee — van beeste of van kleinvee.
3As sy offer 'n brandoffer is van beeste, moet dit 'n bul sonder gebrek wees wat hy bring. By die ingang van die tent van samekoms moet hy dit bring, sodat hy welgevalle voor die aangesig van die Here kan vind.
4 En hy moet sy hand op die kop van die brandoffer lê, dan sal dit vir hom met welgevalle aangeneem word om versoening vir hom te doen.
5Dan moet hy die jong bul voor die aangesig van die Here slag; en die seuns van Aäron, die priesters, moet die bloed bring en die bloed rondom teen die altaar uitgooi wat by die ingang van die tent van samekoms is.
6Dan moet hy die brandoffer afslag en dit in sy stukke verdeel.
7En die seuns van Aäron, die priester, moet vuur op die altaar neersit en hout op die vuur reglê.
8Ook moet die seuns van Aäron, die priesters, die stukke, die kop en die vet reglê op die hout wat op die altaarvuur is.
9Maar die binnegoed en die pote moet hy met water was, en die priester moet dit alles op die altaar aan die brand steek as brandoffer, 'n vuuroffer van lieflike geur aan die Here.
10En as sy offer 'n stuk kleinvee is, van skape of van bokke, as brandoffer, moet dit 'n ram sonder gebrek wees wat hy bring.
11En hy moet dit slag aan die noordekant van die altaar, voor die aangesig van die Here; en die seuns van Aäron, die priesters, moet die bloed daarvan rondom teen die altaar uitgooi.
12Daarna moet hy dit in sy stukke verdeel, met die kop en die vet, en die priester moet dit reglê op die hout wat op die altaarvuur is.
13Maar die binnegoed en die pootjies moet hy met water was, en die priester moet dit alles bring en op die altaar aan die brand steek; 'n brandoffer is dit, 'n vuuroffer van lieflike geur aan die Here.
14En as sy offer aan die Here 'n brandoffer is van voëls, moet hy sy offer bring van tortelduiwe of van jong duiwe.
15En die priester moet dit na die altaar bring en die kop afknyp en op die altaar aan die brand steek, en die bloed moet teen die kant van die altaar uitgedruk word.
16Dan moet hy die krop met die vere daaraan verwyder en dit by die altaar gooi, aan die oostekant, op die asplek.
17Dan moet hy dit by die vlerke skeur sonder om hulle af te trek; en die priester moet dit op die altaar aan die brand steek, op die hout wat oor die vuur is; 'n brandoffer is dit, 'n vuuroffer van lieflike geur aan die Here.

Currently Selected:

LEVÍTIKUS 1: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy