YouVersion Logo
Search Icon

JOHANNES 18

18
Jesus word gevange geneem.
(Mt. 26:36,47-56 en ooreenk. pl.)
1NADAT Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor die spruit Kedron gegaan waar daar 'n tuin was, waarin Hy self gegaan het en sy dissipels.
2En Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus daar dikwels met sy dissipels saamgekom het.
3 En Judas het die afdeling soldate en die dienaars van die owerpriesters en die Fariseërs geneem en daar gekom met fakkels en lampe en wapens.
4En omdat Jesus alles geweet het wat oor Hom sou kom, het Hy uit die tuin gegaan en vir hulle gesê: Wie soek julle?
5Hulle antwoord Hom: Jesus, die Nasaréner. Jesus sê vir hulle: Dit is Ek. En ook Judas, sy verraaier, het by hulle gestaan.
6Toe Hy dan vir hulle sê: Dit is Ek, het hulle agteruitgegaan en op die grond geval.
7Hy vra hulle toe weer: Wie soek julle? En hulle sê: Jesus, die Nasaréner.
8Jesus antwoord: Ek het vir julle gesê dat dit Ek is. As julle My dan soek, laat hierdie manne weggaan —
9sodat die woord vervul sou word wat Hy gespreek het: Uit die wat U My gegee het, het Ek niemand verloor nie.
10En Simon Petrus wat 'n swaard gehad het, het dit uitgetrek en die dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy regteroor afgekap. En die naam van die dienskneg was Malchus.
11Toe sê Jesus vir Petrus: Steek jou swaard in die skede. Die beker wat die Vader My gegee het, sal Ek dit dan nie drink nie?
Jesus voor die Joodse Raad. Petrus verloën Hom.
(Mt. 26:57-75 en ooreenk. pl.)
12EN die afdeling en die owerste oor duisend en die dienaars van die Jode het Jesus gevange geneem en Hom geboei;
13en hulle het Hom weggelei, eers na Annas; want Hy was die skoonvader van Kájafas wat daardie jaar hoëpriester was.
14En dit was Kájafas wat aan die Jode die raad gegee het dat dit voordelig is dat een man vir die volk sterwe.
15 En Simon Petrus en 'n ander dissipel het Jesus gevolg; en daardie dissipel was met die hoëpriester bekend en het saam met Jesus ingegaan in die binneplaas van die hoëpriester se paleis.
16 Maar Petrus het buitekant by die deur bly staan. En die ander dissipel wat bekend was met die hoëpriester, het uitgegaan en met die deurwagster gepraat en Petrus ingebring.
17Toe sê die diensmeisie, die deurwagster, vir Petrus: Jy is tog nie ook een van die dissipels van hierdie mens nie? Hy sê: Ek is nie.
18En die diensknegte en die dienaars het by 'n koolvuur gestaan wat hulle gemaak het — want dit was koud — en hulle het hul warm gemaak. En Petrus het by hulle gestaan en hom warm gemaak.
19 Die hoëpriester ondervra Jesus toe oor sy dissipels en oor sy leer.
20Jesus antwoord hom: Ek het ronduit tot die wêreld gespreek; Ek het altyd in die sinagoge geleer en in die tempel waar die Jode van alle kante vergader; en in die geheim het Ek niks gespreek nie.
21Wat ondervra u My? Ondervra hulle wat gehoor het wat Ek tot hulle gespreek het; hulle weet tog wat Ek gesê het.
22En toe Hy dit sê, het een van die dienaars wat daar staan, Jesus in die aangesig geslaan en gesê: Antwoord U die hoëpriester so?
23Jesus antwoord hom: As Ek verkeerd gespreek het, getuig van die verkeerdheid; maar as Ek reg gespreek het, waarom slaan jy My?
24En Annas het Hom geboeid na Kájafas, die hoëpriester, gestuur.
25En Simon Petrus het hom staan en warm maak. En hulle sê vir hom: Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie? Toe ontken hy dit en sê: Ek is nie.
26Een van die hoëpriester se diensknegte wat familie was van die man wie se oor Petrus afgekap het, sê: Het ek jou nie in die tuin by Hom gesien nie?
27En Petrus het dit weer ontken; en dadelik het die haan gekraai.
Jesus voor Pilatus.
(Mt. 27:1,2,11-31 en ooreenk. pl.)
28TOE neem hulle Jesus van Kájafas na die goewerneur se paleis. En dit was vroeg in die môre; en hulle het self nie in die paleis ingegaan nie, dat hulle hul nie sou verontreinig nie, maar dat hulle die pasga kon eet.
29 En Pilatus het na hulle uitgekom en gesê: Watter beskuldiging bring julle teen hierdie man in?
30Hulle antwoord en sê vir hom: As Hy geen kwaaddoener was nie, sou ons Hom nie aan u oorgelewer het nie.
31En Pilatus sê vir hulle: Neem julle Hom en oordeel Hom volgens julle wet. En die Jode sê vir hom: Dit is ons nie geoorloof om iemand dood te maak nie —
32sodat die woord van Jesus vervul sou word wat Hy gesê het om aan te dui hoedanige dood Hy sou sterwe.
33Pilatus gaan toe weer in die goewerneur se paleis en roep Jesus en sê vir Hom: Is U die Koning van die Jode?
34Jesus antwoord hom: Sê u dit uit uself, of het ander u dit van My gesê?
35Pilatus antwoord: Is ek dan 'n Jood? U volk en die owerpriesters het U aan my oorgelewer. Wat het U gedoen?
36Jesus antwoord: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.
37Pilatus sê toe vir Hom: Is U dan tog 'n koning? Jesus antwoord: U sê dat Ek 'n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem.
38Pilatus sê vir Hom: Wat is waarheid? En toe hy dit gesê het, gaan hy weer uit na die Jode en sê vir hulle: Ek vind geen skuld in Hom nie.
39 Maar julle het 'n gewoonte dat ek vir julle op die pasga iemand moet loslaat; wil julle dan hê dat ek vir julle die Koning van die Jode moet loslaat?
40Toe skreeu hulle almal weer en sê: Nie vir Hom nie, maar Barábbas! En Barábbas was 'n rower.

Currently Selected:

JOHANNES 18: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy