GÉNESIS 43
43
1EN die hongersnood was swaar in die land.
2En nadat die koring wat hulle uit Egipte gebring het, opgeëet was, sê hulle vader vir hulle: Gaan koop vir ons weer 'n bietjie voedsel.
3Toe het Juda hom geantwoord: Die man het ons uitdruklik gewaarsku en gesê: Julle sal my aangesig nie sien as julle broer nie by julle is nie.
4As u ons broer saam met ons stuur, sal ons aftrek en vir u voedsel koop;
5maar as u hom nie stuur nie, sal ons nie aftrek nie; want die man het aan ons gesê: Julle sal my aangesig nie sien as julle broer nie by julle is nie.
6Toe sê Israel: Waarom het julle so verkeerd teen my gehandel deur die man te vertel dat julle nog 'n broer het?
7En hulle antwoord: Die man het uitdruklik na ons en ons familie gevra met die woorde: Lewe julle vader nog? Het julle nog 'n broer? Toe het ons hom dit te kenne gegee volgens hierdie woorde. Kon ons dan ooit weet dat hy sou sê: Bring julle broer af?
8Daarop sê Juda aan sy vader Israel: Stuur die seun saam met my; dan sal ons klaarmaak en wegtrek, sodat ons kan lewe en nie sterwe nie — ons en ook u en ons kinders nie.
9Ek sal vir hom borg wees; van my hand kan u hom eis. As ek hom nie na u bring en voor u stel nie, sal ek lewenslank teenoor u skuldig staan.
10Ja, as ons nie getalm het nie, waarlik dan was ons nou al twee maal terug.
11Toe het Israel, hulle vader, vir hulle gesê: As dit so is, doen dan dit: neem van die opbrings van die land in julle sakke en bring vir die man 'n geskenk af — bietjie balsem en bietjie heuning, speserye en gom, neute en amandels;
12en neem dubbel soveel geld met julle saam en bring die geld wat weer bo in julle sakke gesit is, met julle saam terug. Miskien was dit 'n vergissing.
13En neem julle broer — maak julle klaar en gaan terug na die man.
14En mag God, die Almagtige, julle barmhartigheid verleen by die man, sodat hy julle ander broer en Benjamin saam met julle kan laat trek! En ek — as ek van kinders beroof is, dan is ek beroof.
15Daarop neem die manne dié geskenk, en hulle neem dubbel soveel geld saam met hulle en ook Benjamin, en hulle het klaargemaak en na Egipte afgetrek en voor Josef gaan staan.
16Toe Josef Benjamin by hulle sien, sê hy aan die opsigter oor sy huis: Bring die manne in die huis en slag slagvee en maak dit gereed, want die manne moet vanmiddag by my eet.
17En die man het gedoen soos Josef beveel het, en die man het die manne in die huis van Josef gebring.
18En die manne het gevrees, omdat hulle in die huis van Josef gebring is, en gesê: Ter wille van die geld wat die vorige keer in ons sakke teruggekom het, word ons ingebring om ons te oorrompel, ons te oorval en ons as slawe te neem, saam met ons esels.
19Daarom het hulle nader gekom na die man wat oor die huis van Josef was, en met hom gespreek by die ingang van die huis
20en gesê: Ag, my heer, ons het die vorige keer net afgetrek om voedsel te koop,
21maar toe ons in die herberg kom en ons sakke oopmaak, was elkeen se geld bo in sy sak — ons geld volgens sy gewig — en ons het dit saam met ons teruggebring.
22Ons het ook ander geld saam met ons afgebring om voedsel te koop. Ons weet nie wie ons geld in ons sakke gesteek het nie.
23Toe antwoord hy: Vrede vir julle! Moenie bang wees nie! Julle God en die God van julle vader het julle 'n skat in jul sakke gegee. Julle geld het by my gekom. Daarop het hy Símeon na hulle uitgebring.
24En die man het die manne in die huis van Josef gebring en water aan hulle gegee, en hulle het hul voete gewas; hy het ook hulle esels voer gegee.
25En hulle het die geskenk reggemaak teen dat Josef die middag sou kom, want hulle het gehoor dat hulle daar brood sou eet.
26Toe Josef dan in die huis kom, het hulle vir hom die geskenk binnegebring wat by hulle was, en hulle voor hom neergebuig na die aarde toe.
27En hy het hulle na hul welstand gevra en gesê: Gaan dit goed met julle ou vader van wie julle gespreek het? Leef hy nog?
28En hulle antwoord: Dit gaan goed met u dienaar, ons vader; hy lewe nog. En hulle het hul eerbiedig neergebuig.
29Toe slaan hy sy oë op en sien sy broer Benjamin, die seun van sy moeder, en sê: Is dit julle jongste broer van wie julle met my gespreek het? Daarop sê hy: Mag God jou genadig wees, my seun!
30En Josef het gou gemaak, want sy binneste was ontroerd oor sy broer: hy het geleentheid gesoek om te ween en in die kamer gegaan en daar geween.
31Daarna het hy sy gesig gewas en uitgekom en hom bedwing en gesê: Bring die ete op!
32Toe bring hulle dit vir hom besonders op en vir hulle besonders en vir die Egiptenaars wat by hom eet, besonders; want die Egiptenaars mag nie saam met die Hebreërs eet nie, omdat dit vir die Egiptenaars 'n gruwel is.
33En hulle het gaan sit volgens sy bepaling, die eersgeborene na sy eersgeboorte en die jongste na sy jonkheid. Toe kyk die manne mekaar verbaas aan.
34Hierop het hy aan hulle porsies uitgedeel van die ete wat voor hom staan; maar die porsie van Benjamin was vyf maal groter as die porsies van hulle almal. En hulle het gedrink en saam met hom vrolik geword.
Currently Selected:
GÉNESIS 43: AFR53
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.
GENESIS 43
43
Benjamin gaan saam Egipte toe
1Maar dit was 'n kwaai hongersnood, 2en toe die kos begin opraak wat die broers uit Egipte gebring het, sê hulle pa vir hulle: “Julle moet maar weer vir ons 'n bietjie kos gaan koop.”
3Juda het hom geantwoord: “Daardie man het ons nadruklik gewaarsku en vir ons gesê: ‘Julle kom nie weer hier by my sonder julle broer nie!’ 4As Pa instem en ons broer saam met ons stuur, sal ons vir Pa gaan kos koop. 5Maar as Pa nie instem om hom saam te stuur nie, sal ons nie gaan nie, want daardie man het vir ons gesê ons kom nie weer by hom sonder ons broer nie.”
6Toe sê Israel: “Waarom het julle my hierdie onreg aangedoen en vir die man vertel julle het nog 'n broer!”
7Hulle het gesê: “Die man het ons uitgevra na ons familie. Hy het gevra: ‘Leef julle pa nog? Het julle nog 'n broer?’ Ons het net geantwoord op hierdie vrae van hom. Hoe moes ons weet hy sou sê: ‘Bring julle broer hiernatoe’?”
8Juda het vir sy pa Israel gesê: “Stuur tog maar die kind saam met my sodat ons dadelik kan vertrek. Dan kan ons aan die lewe bly. So nie sterf Pa saam met ons en ons kinders. 9Ek waarborg hy sal terugkom. Pa kan hom van my eis. As ek hom nie vir Pa terugbring en hom hier voor Pa kom laat staan nie, sal ek vir altyd by Pa in die skuld wees. 10En as ons nie so getalm het nie, kon ons nou al twee keer terug gewees het.”
11Toe sê hulle pa Israel vir hulle: “Nou ja, as dit dan so is, moet julle dit maar doen. Vat van die beste wat ons land het saam in julle graansakke as 'n geskenk vir die man: 'n bietjie balsem, 'n bietjie heuning, gom, hars, neute en amandels. 12Julle moet die geld verdubbel wat julle saamvat. En die geld wat julle bo in die graansakke teruggebring het, moet julle ook saamvat. Dalk was daar 'n misverstand. 13Vat julle broer en maak klaar en gaan terug na die man toe. 14God die Almagtige sal sorg dat die man julle goedgesind is en julle ander broer terugstuur en ook vir Benjamin. En ek, as ek dan my kinders moet verloor, moet ek hulle maar verloor.”
15Die manne het toe die geskenk gevat en hulle het die geld wat hulle saamgevat het, verdubbel. Hulle het vir Benjamin gevat en klaargemaak en Egipte toe gegaan. Hulle het by Josef gekom, 16en toe hy sien Benjamin is by hulle, sê hy vir sy hoofamptenaar: “Vat die manne na my huis toe. Laat slag en laat 'n ete voorberei, want hulle moet vanmiddag by my eet.”
17Hy het toe gedoen wat Josef gesê het. Hy het die manne na Josef se huis toe gevat, 18en hulle het bang geword omdat hulle na Josef se huis toe gebring is. Toe sê hulle: “Dit is oor die geld wat die vorige keer in ons graansakke teruggesit is. Ons word hierheen gebring om ons te oorval en te oorrompel en van ons slawe te maak en ons donkies te vat.”
19By die deur van die huis het hulle die hoofamptenaar genader 20en vir hom gesê: “Ekskuus, Meneer, ons was al 'n vorige keer hier om kos te koop. 21En toe ons hier weg is en die aand ons graansakke oopmaak, lê elkeen se geld bo in sy sak. Dit was presies die regte bedrag. Maar ons het dit nou weer saamgebring, 22en ook nog geld om weer kos te koop. Ons weet nie wie die geld in ons sakke teruggesit het nie.”
23Toe sê die amptenaar vir hulle: “Wees gerus! Moenie bekommerd wees nie. Julle geld het by my uitgekom, en dit is julle God, die God van julle voorvaders, wat 'n skat in julle sakke gesit het.”
Die amptenaar het toe vir Simeon na hulle toe gebring.
24Nadat die amptenaar hulle in Josef se huis ingebring het, het hy vir hulle water gegee, en hulle het hulle voete gewas. Hy het ook hulle donkies voer gegee. 25Die broers het hulle geskenk gereed gehou vir wanneer Josef die middag kom, want hulle het gehoor dat hulle daar gaan eet. 26Toe Josef inkom, bring hulle vir hom die geskenk wat hulle saamgebring het, na die huis toe. Toe buig hulle diep voor hom.
27Josef het hulle toe gevra hoe dit gaan. Hy het gevra: “Hoe gaan dit met julle pa wat so oud is en van wie julle my vertel het? Leef hy nog?”
28Hulle het geantwoord: “Dit gaan goed met u onderdaan, ons pa. Hy leef nog.”
Hulle het weer voor Josef gebuig en hom so geëer. 29Toe Josef sy broer, sy ma se seun Benjamin, raaksien, vra hy: “Is dit julle jongste broer van wie julle my vertel het?” En Josef sê vir hom: “My seun, God sal jou genadig wees.”
30Toe het Josef haastig padgegee om eenkant te gaan huil, want sy gemoed was vol oor sy broer. Josef is na sy kamer toe en hy het daar gaan huil. 31Daarna het hy sy gesig gewas en teruggegaan. Hy was weer homself en hy het gesê: “Bedien die ete.”
32Hulle het vir Josef afsonderlik bedien en so ook die broers en die Egiptenaars wat daar by hulle geëet het, want die Egiptenaars het 'n afsku daarvan om dieselfde kos as die Hebreërs te eet. 33Die broers het teenoor Josef gesit, volgens hulle ouderdom: van die oudste af tot die jongste. Hieroor het die manne mekaar verbaas aangekyk. 34Elkeen se kos is van Josef se tafel af aangegee, maar Benjamin s'n was vyf keer meer as dié van die ander. Hulle het wyn gedrink en saam met Josef dronk geword.
Currently Selected:
:
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1983, 1992. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.