YouVersion Logo
Search Icon

GÉNESIS 28

28
Droom en gesig van Jakob by Bet-el.
1TOE het Isak Jakob geroep en hom geseën; en hy het hom bevel gegee met die woorde: Jy mag geen vrou neem uit die dogters van Kanaän nie.
2Maak jou klaar, gaan na Paddan-Aram, na die huis van Bétuel, jou moeder se vader, en gaan haal vir jou daar 'n vrou uit die dogters van Laban, jou moeder se broer.
3En mag God, die Almagtige, jou seën en jou vrugbaar maak en jou vermeerder, sodat jy 'n menigte van volke kan word.
4En mag Hy jou gee die seën van Abraham, aan jou en jou nageslag saam met jou, dat jy die land van jou vreemdelingskap in besit kan neem wat God aan Abraham gegee het.
5So het Isak Jakob dan weggestuur, en hy het na Paddan-Aram gegaan, na Laban, die seun van Bétuel, die Arameër, die broer van Rebekka, die moeder van Jakob en Esau.
6Toe Esau sien dat Isak Jakob geseën en hom na Paddan-Aram weggestuur het om daar vir hom 'n vrou te gaan haal, terwyl hy hom geseën en hom bevel gegee het met die woorde: Jy mag geen vrou uit die dogters van Kanaän neem nie;
7en dat Jakob na sy vader en sy moeder geluister het om na Paddan-Aram te gaan;
8en toe Esau sien dat die dogters van Kanaän sleg was in die oë van sy vader Isak,
9het Esau na Ismael gegaan en Máhalat, die dogter van Ismael, die seun van Abraham, die suster van Nébajot, by sy vroue vir hom as vrou geneem.
10En Jakob het uit Berséba vertrek en na Haran gegaan.
11Daarop kom hy by 'n plek waar hy die nag oorgebly het, want die son was al onder. En hy neem een van die klippe van die plek en sit dit onder sy hoof, en hy gaan lê en slaap op dié plek.
12En hy het gedroom — daar is 'n leer op die aarde opgerig waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het.
13 En kyk, die Here het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die Here, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee;
14en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word.
15En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het.
16Daarop word Jakob uit sy slaap wakker en sê: Waarlik, die Here is op hierdie plek, en ék het dit nie geweet nie.
17En hy het bevrees geword en gesê: Hoe vreeslik is hierdie plek! Dit is hier niks anders as 'n huis van God nie, en dit is hier die poort van die hemel.
18Toe staan Jakob die môre vroeg op en neem die klip wat hy onder sy hoof gesit het, en rig dit as 'n gedenksteen op; en hy het olie daaroor uitgegiet.
19En hy het die plek Bet-el genoem; maar die naam van die stad was tevore Lus.
20 En Jakob het 'n gelofte gedoen en gesê: As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek,
21en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die Here my God wees.
22En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal 'n huis van God wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan.

Currently Selected:

GÉNESIS 28: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy