YouVersion Logo
Search Icon

GÉNESIS 14

14
Abram verlos Lot. Melgisédek.
1EN in die dae van Ámrafel, die koning van Sínear, Áriog, die koning van Ellásar, Kedor-Laómer, die koning van Elam, en Tídeal, die koning van die nasies,
2het hulle oorlog gevoer teen Bera, die koning van Sodom, en teen Birsa, die koning van Gomorra, Síneab, die koning van Adma, en Seméber, die koning van Sebóim, en teen die koning van Bela, dit is Soar.
3Hulle het almal hulle leërs verenig in die laagte Siddim, dit is die Soutsee.
4Twaalf jaar lank het hulle Kedor-Laómer toe al gedien, maar in die dertiende jaar het hulle opstandig geword.
5Toe kom Kedor-Laómer in die veertiende jaar, en die konings wat saam met hom was, en hulle verslaan die Refaïete in Ásterot-Karnaim en die Susiete in Ham en die Emiete in die vlakte van Kirjatáim
6en die Horiete op hulle gebergte Seïr, tot by El- Paran wat aan die woestyn lê.
7Daarop het hulle omgedraai en by En-Mispat, dit is Kades, gekom en die hele land van die Amalekiete verower en ook die Amoriete wat in Háseson-Tamar woon.
8Toe trek die koning van Sodom uit en die koning van Gomorra en die koning van Adma en die koning van Sebóim en die koning van Bela, dit is Soar, en stel hulle in die laagte Siddim in slagorde teen hulle op,
9teen Kedor-Laómer, die koning van Elam, en Tídeal, die koning van die nasies, en Ámrafel, die koning van Sínear, en Áriog, die koning van Ellásar: vier konings teen vyf.
10Maar die laagte Siddim was vol gate in die lymgrond; en toe die konings van Sodom en Gomorra wegvlug, het hulle daarin geval, en die wat oorgebly het, het na die gebergte gevlug.
11En hulle het al die goed van Sodom en Gomorra en al hulle voedsel geneem en weggetrek.
12Hulle het ook Lot, Abram se broerskind, en al sy goed geneem en weggetrek — want hy was in Sodom woonagtig.
13Toe kom daar een wat vrygeraak het, en vertel dit aan Abram, die Hebreër, wat woonagtig was by die terpentynbome van Mamre, die Amoriet, broer van Eskol en broer van Aner; en hulle was bondgenote van Abram.
14Toe Abram hoor dat sy broer as gevangene weggevoer is, het hy sy geoefende manne wat in sy huis gebore is, laat uittrek, driehonderd-en-agtien, en hulle tot by Dan agtervolg —
15hy het hulle in die nag van verskillende kante aangeval, hy en sy dienaars, en hulle verslaan en hulle agtervolg tot by Hoba wat noord van Damaskus lê.
16En hy het al die goed teruggebring, en ook sy broer Lot en sy goed teruggebring; en ook die vroue en die manskappe.
17Ná sy terugkoms van die oorwinning op Kedor-Laómer en die konings wat saam met hom was, het die koning van Sodom uitgetrek hom tegemoet na die laagte Sawe, dit is die Koningslaagte.
18En Melgisédek, die koning van Salem, wat 'n priester van God, die Allerhoogste, was, het brood en wyn gebring
19en hom geseën en gesê: Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde.
20En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Toe gee hy hom die tiende van alles.
21En die koning van Sodom sê vir Abram: Gee my die mense, maar neem die goed vir uself.
22Toe antwoord Abram die koning van Sodom: Ek hef my hand op tot die Here, God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde,
23dat ek geen draad en geen skoenriem, ja, dat ek niks sal neem van alles wat uwe is nie, sodat u nie kan sê nie: Ek het Abram ryk gemaak.
24Niks vir my nie! Net wat die dienaars geëet het en die deel van die manne wat saam met my getrek het, Aner, Eskol en Mamre, laat dié hulle deel neem.

Currently Selected:

GÉNESIS 14: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy