YouVersion Logo
Search Icon

PREDIKER 9

9
Lotsgelykheid van die vrome en die goddelose.
1WANT dit alles het ek ter harte geneem en dit alles het ek probeer deurgrond, dat die regverdiges en die wyse manne en hulle dade in die hand van God is, liefde sowel as haat; die mens weet niks van wat hom voorlê nie.
2 Alles is gelyk vir almal: een en dieselfde lot is daar vir die regverdige en die goddelose, vir die goeie en die reine en die onreine, en vir hom wat offer en vir hom wat nie offer nie, die goeie ewe goed as die sondaar, vir hom wat sweer ewe goed as vir hom wat bang is vir 'n eed.
3Dit is 'n verkeerde ding by alles wat plaasvind onder die son, dat een en dieselfde lot almal tref, en ook die hart van die mensekinders vol boosheid is, en dat dwaasheid in hulle hart is gedurende hulle lewe; en daarna gaan dit na die dooies toe!
4Want solank as iemand by al die lewendes behoort, is daar hoop; want 'n lewendige hond is beter as 'n dooie leeu.
5Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet.
6Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.
7Gaan dan heen, eet jou brood met vreugde, en drink jou wyn met 'n vrolike hart, want God het lankal behae in jou werke.
8Laat jou klere altyd wit wees, en laat olie op jou hoof nie ontbreek nie.
9Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, al die dae van jou nietige lewe wat Hy jou gegee het onder die son — al jou nietige dae; want dit is jou deel aan die lewe en aan jou arbeid wat jy met moeite verrig onder die son.
10Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.
Die wysheid is dikwels vir ander beter as vir die besitter.
11 WEER het ek onder die son gesien dat die wedloop nie is vir die vinniges en die oorlog nie vir die helde nie; en ook die brood is nie vir die wyse of ook rykdom vir die slimmes of ook guns vir die verstandiges nie; want tyd en lotgeval tref hulle almal.
12Ja, die mens ken ook sy eie tyd nie, soos die visse wat gevang word in die gevaarlike net, en soos die voëls wat gevang word in die vangnet — soos hulle word die mensekinders verstrik in die tyd van onheil as dit hulle skielik oorval.
13Ook het ek dit as wysheid gesien onder die son, en dit was groot in my oog:
14daar was 'n klein stadjie en min manne daarin, en 'n groot koning het daarteen gekom en dit omsingel en groot beleëringswerke daarteen gebou.
15En daarin is 'n arm wyse man gevind; dié het die stad deur sy wysheid gered, maar geen mens het aan daardie arm man gedink nie.
16Toe het ek gesê: Wysheid is beter as heldekrag; maar die wysheid van die arme word verag, en na sy woorde word nie geluister nie.
17Woorde van wyse manne, wat rustig aangehoor word, is beter as die geskreeu van 'n heerser onder die dwase.
18Wysheid is beter as oorlogswapens, maar een sondaar bederf baie goeie dinge.

Currently Selected:

PREDIKER 9: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy