YouVersion Logo
Search Icon

I SAMUEL 19

19
Jónatan kies Dawid se kant.
1DAARNA het Saul met sy seun Jónatan en met al sy dienaars gespreek om Dawid dood te maak; maar Jónatan, die seun van Saul, het baie van Dawid gehou;
2en Jónatan het dit aan Dawid meegedeel en gesê: My vader Saul soek geleentheid om jou dood te maak: pas dan nou môre vroeg op en hou jou verborge en steek jou weg.
3Dan sal ek uitgaan en langs my vader gaan staan in die veld waar jy is, en ek sal met my vader oor jou spreek; en as ek iets sien, sal ek jou dit meedeel.
4Jónatan het toe goed van Dawid gespreek by sy vader Saul en vir hom gesê: Laat die koning hom tog nie besondig aan sy dienaar Dawid nie, omdat hy nie teen u gesondig het nie, en omdat sy handelwyse u geheel ten goede kom:
5 hy het sy lewe gewaag en die Filistyn verslaan, en die Here het aan die hele Israel 'n groot oorwinning besorg. U het dit gesien en u was bly; waarom sal u dan aan onskuldige bloed u besondig deur Dawid sonder oorsaak dood te maak?
6En Saul het na Jónatan geluister, en Saul het gesweer: So waar as die Here leef, hy sal nie gedood word nie!
7Daarop het Jónatan Dawid geroep, en Jónatan het al hierdie woorde aan hom meegedeel. En Jónatan het Dawid na Saul gebring, en hy was voor hom soos gister en eergister.
8En toe daar weer oorlog kom, het Dawid uitgetrek en teen die Filistyne geveg en 'n groot slag onder hulle geslaan, sodat hulle voor hom uit gevlug het.
Saul probeer om Dawid uit die weg te ruim, sodat hy na Samuel vlug. Saul onder die profete.
9MAAR 'n bose gees van die Here het oor Saul gekom terwyl hy in sy huis sit met sy spies in sy hand en Dawid met die hand op die snare speel.
10Toe probeer Saul om Dawid met die spies teen die muur vas te steek, maar hy het vir Saul gekoes, sodat hy die spies teen die muur vasgooi. En Dawid het gevlug en daardie nag vrygekom.
11 Maar Saul het boodskappers na Dawid se huis gestuur om hom te bewaak en hom die môre vroeg dood te maak. Maar sy vrou Migal het dit aan Dawid meegedeel en gesê: As jy nie vannag jou lewe red nie, word jy môre gedood.
12Migal het Dawid toe deur die venster laat afsak; en hy het weggegaan en gevlug en vrygekom.
13Daarop neem Migal die huisgod en lê dit op die bed neer, en sy sit die net van bokhaar aan sy koppenent en bedek dit met 'n kombers.
14Toe Saul dan boodskappers stuur om Dawid te gaan haal, sê sy: Hy is siek.
15Daarop stuur Saul die boodskappers om Dawid te besoek met die opdrag: Bring hom met bed en al na my toe, dat ek hom kan ombring.
16Toe die boodskappers inkom, lê die huisgod daar op die bed en die net van bokhaar aan sy koppenent!
17En Saul sê vir Migal: Waarom het jy my so bedrieg en my vyand laat gaan, sodat hy vrygekom het? Maar Migal het Saul geantwoord: Hy het vir my gesê: Laat my gaan, of ek maak jou dood.
18Intussen het Dawid gevlug en vrygeraak en by Samuel in Rama gekom en hom meegedeel alles wat Saul hom aangedoen het. Toe het hy saam met Samuel weggegaan, en hulle het in Najot gebly.
19En aan Saul is meegedeel en gesê: Kyk, Dawid is in Najot by Rama.
20Daarop stuur Saul boodskappers om Dawid te gaan haal. Maar toe hulle die skare profete sien profeteer, met Samuel as leier aan hulle hoof, het die Gees van God oor die boodskappers van Saul gekom, sodat hulle ook geprofeteer het.
21Toe hulle dit aan Saul meedeel, het hy ander boodskappers gestuur, maar hulle het ook geprofeteer; en Saul het die derde keer weer boodskappers gestuur, maar hulle het ook geprofeteer.
22En hy het self ook na Rama gegaan en by die groot put gekom wat by Segu is, en gevra en gesê: Waar is Samuel en Dawid? En hulle antwoord: Daar in Najot by Rama.
23Hierop gaan hy daarheen, na Najot by Rama; en die Gees van God het ook oor hom gekom, sodat hy aldeur geloop en profeteer het totdat hy in Najot by Rama aangekom het.
24Hy het ook self sy klere uitgetrek en ook voor Samuel geprofeteer en ontbloot neergeval daardie hele dag en die hele nag. Daarom sê hulle: Is Saul ook onder die profete?

Currently Selected:

I SAMUEL 19: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy