Psalms 139:1-24
Psalms 139:1-24 AFR20
Vir die •musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm. HERE, U ondersoek my en U ken my. U is die een wat my sit en opstaan ken; U verstaan van ver af wat ek in gedagte het. My omswerwinge en waar ek rus – U het dit afgemeet; al my paaie is aan U bekend. Ja, daar is nog nie 'n woord op my tong nie, kyk, dan ken U, HERE, dit volledig! Van agter en van voor omsluit U my; U plaas u handpalms op my. Om dit te verstaan, is 'n te groot wonder vir my; dit is te hoog, ek kan dit nie begryp nie. Waarheen kan ek gaan, weg van u Gees; waarheen kan ek vlug, weg van u teenwoordigheid? Klim ek op na die hemel – U is daar; gaan lê ek in die •doderyk – ook daar is U! Neem ek die vlerke van die daeraad, gaan woon ek by die einde van die see; ook daar sal u hand my lei, u regterhand my vashou. En al sê ek, “As duisternis my maar net wil verberg en die lig om my nag word”, is selfs duisternis nie vir U donker nie, maar skyn nag so lig soos die dag, is die duisternis soos die lig. Dit is immers U wat my niere geskep het, my in die moederskoot geweef het. Ek prys U omdat ek op 'n ontsagwekkende, wonderbaarlike wyse gemaak is. Wonderbaarlik is u werke en ek besef dit maar te goed. My skelet was nie vir U verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, toe ek kunstig geweef is in die dieptes van die aarde. U oë het my vormloosheid gesien. En in u •boekrol is hulle almal opgeteken – dae wat beplan is, toe nie een daar was nie. En vir my, hoe kosbaar is u gedagtes, o God – hoe oorweldigend is die volle getal daarvan! As ek dit tel, is dit meer as die sand. Word ek wakker, dan is ek steeds by U. As U, o God, goddeloses maar wou ombring! Manne wat bloed vergiet, gaan weg van my af! Dit is hulle wat valshede oor U verkondig, u vyande wat die stem tevergeefs verhef. Sou ek u haters nie haat nie, HERE, in hulle wat teen U opstaan, nie 'n weersin hê nie? Ek haat hulle met 'n intense haat; vyande het hulle vir my geword. Ondersoek my, o God, en ken my hart; toets my, en ken my ontstellende gedagtes. Kyk of ek nie op 'n pad van verdriet is nie, en lei my op die ewige pad.





