Jeremia 19
19
Gebreekte kruik as teken
1 So het die Here vir my gesê: “Gaan koop 'n kruik by 'n pottebakker; van die oudstes van die volk en die oudstes van die priesters moet by wees. 2Gaan dan uit na die Ben-Hinnomdal by die ingang na die Potskerfpoort en verkondig daar die woorde wat Ek vir jou sê. 3Jy moet sê, ‘Hoor die woord van die Here, konings van Juda en inwoners van Jerusalem! So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Kyk, Ek gaan onheil bring oor hierdie plek, sodat elkeen wat dit hoor, se ore sal tuit. 4Want hulle het My verlaat, hierdie plek geskend en daarin offers verbrand vir ander gode wat hulle, hulle voorouers en die konings van Juda nie geken het nie. Hulle het hierdie plek gevul met die bloed van onskuldiges. 5 Hulle het offerhoogtes vir Baäl gebou om hulle seuns as brandoffers vir Baäl te verbrand – iets wat Ek nie beveel of gesê het nie, en wat nie in my gedagtes opgekom het nie. 6Daarom, kyk, daar kom dae,” ’ is die uitspraak van die Here, ‘ “dat hierdie plek nie meer Tofet en Ben-Hinnomdal genoem sal word nie, maar Moorddal. 7Ek sal Juda en Jerusalem se planne op hierdie plek verydel; Ek sal hulle deur die swaard voor hulle vyande laat val, en deur die hand van dié wat hulle lewens soek. Ek sal hulle lyke as voedsel gee vir die voëls van die hemel en die diere van die aarde. 8 Ek sal hierdie stad 'n skrikbeeld en die rede vir 'n gefluit maak. Elkeen wat by haar verbygaan, sal verslae wees en fluit oor al haar wonde. 9 Ek sal hulle die vleis van hulle seuns en dogters laat eet; en hulle sal mekaar se vleis eet tydens die beleg en die teistering waarmee hulle vyande en die mense wat hulle lewens soek, hulle sal teister.” ’
10“Jy moet dan die kruik breek voor die oë van die manne wat saam met jou gaan. 11Jy moet vir hulle sê, ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Só sal Ek hierdie volk en hierdie stad breek – soos mens die kleipot van 'n pottebakker breek, sodat dit nie weer heelgemaak kan word nie. In Tofet sal mense begrawe word weens gebrek aan begraafplek. 12Dit sal Ek aan hierdie plek en sy inwoners doen,” ’ is die uitspraak van die Here, ‘ “om hierdie stad soos Tofet te maak. 13 Die huise van Jerusalem en die huise van die konings van Juda sal, wat onreinheid betref, soos die plek Tofet word – ja, al die huise waar hulle op die dakke offers verbrand het vir al die hemelliggame, en drankoffers uitgegiet het vir ander gode.” ’ ”
14Jeremia het van Tofet af, waarheen die Here hom gestuur het om te profeteer, gekom en in die voorhof van die huis van die Here gaan staan. Hy het vir die hele volk gesê: 15“So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Kyk, Ek gaan oor hierdie stad en al haar dorpies al die onheil bring wat Ek oor haar uitgespreek het, want hulle was hardnekkig deur nie na my woorde te luister nie. ’ ”
Currently Selected:
Jeremia 19: AFR20
Highlight
Copy
Compare
Share
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
JEREMIA 19
19
Verbreking van die pottebakkerskruik. Verwoesting van Jerusalem.
1SO sê die Here: Gaan koop vir jou 'n pottebakkerskruik, saam met oudstes uit die volk en oudstes uit die priesters.
2En gaan uit na die dal van die seun van Hinnom wat voor die ingang van die Potskerwepoort lê, en roep daar uit die woorde wat Ek met jou sal spreek.
3En jy moet sê: Hoor die woord van die Here, o konings van Juda en inwoners van Jerusalem! So sê die Here van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek bring onheil oor hierdie plek waarvan elkeen wat dit hoor, se ore sal tuit;
4 omdat hulle My verlaat het en hierdie plek onherkenbaar gemaak het en vir ander gode, wat hulle nie geken het nie, daarin rook laat opgaan het — hulle en hulle vaders en die konings van Juda; en hulle het hierdie plek gevul met die bloed van onskuldiges.
5 En hulle het die hoogtes van Baäl gebou om hulle seuns met vuur te verbrand as brandoffers aan Baäl — iets wat Ek nie beveel of uitgespreek het nie, of wat in my hart nie opgekom het nie.
6Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat hierdie plek nie meer sal genoem word Tofet en die dal van die seun van Hinnom nie, maar Moorddal.
7En Ek sal die plan van Juda en Jerusalem in hierdie plek uitskud, en Ek sal hulle voor hul vyande deur die swaard laat val en deur die hand van die wat hulle lewe soek; en Ek sal hulle lyke gee as voedsel vir die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde.
8En Ek sal hierdie stad maak 'n voorwerp van verbasing en bespotting; elkeen wat daar verbytrek, sal hom verbaas en spot met al sy plae.
9En Ek sal hulle die vlees van hul seuns en die vlees van hul dogters laat eet, en hulle sal elkeen die vlees van sy naaste eet, in die beleëring en in die benoudheid waarmee hulle vyande en die wat hulle lewe soek, hulle benoud sal maak.
10Dan moet jy die kruik breek voor die oë van die manne wat saam met jou gegaan het,
11en vir hulle sê: So spreek die Here van die leërskare: Net so sal Ek hierdie volk en hierdie stad verbreek, soos 'n mens 'n erdepot breek, wat nie meer heelgemaak kan word nie; en hulle sal in Tofet begrawe, omdat daar geen plek sal wees om te begrawe nie.
12So sal Ek met hierdie plek maak, spreek die Here, en met sy inwoners, en hierdie stad maak soos Tofet.
13En die huise van Jerusalem en die huise van die konings van Juda sal word soos die plek Tofet, onrein; naamlik al die huise op die dakke waarvan hulle rook laat opgaan het vir die hele leër van die hemel en drankoffers uitgegiet het vir ander gode.
14Toe het Jeremia uit Tofet gekom, waarheen die Here hom gestuur het om te profeteer, en hy het gaan staan in die voorhof van die huis van die Here en aan die hele volk gesê:
15So spreek die Here van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek bring oor hierdie stad en al sy stede al die onheil wat Ek daaroor gespreek het, omdat hulle hul nek verhard het om na my woorde nie te luister nie.
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.