YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 66

66
Julle was nie gehoorsaam nie
1Die Here sê:
“Wanneer Ek in die hemel
op my troon sit,
dan is my voete op die aarde.
Dink julle dat julle vir My 'n huis kan bou
waar Ek kan woon?
2Ek het alles gemaak
met my eie hande,
en toe was dit daar.”
Dit sê die Here.
“Die mense wat hulleself
nie kan help nie,
is belangrik vir My.
Hulle is mense wat weet
dat hulle nie belangrik is nie,
hulle bewe wanneer Ek praat.
3Julle offer bulle vir My,
maar julle vermoor ook mense.
Julle offer lammers vir My,
maar julle offer ook honde vir die afgode.
Julle bring koring-offers vir My,
maar julle offer ook varkbloed
vir die afgode.
Julle offer wierook vir My
en julle prys My,
maar julle prys ook die afgode.
Julle het besluit om te doen
wat júlle wil doen,
julle hou van die slegte dinge
wat julle doen.
4Ek het ook besluit,
Ek het besluit om julle te straf
en julle baie swaar te laat kry.
Ek doen dit omdat Ek julle geroep het,
maar julle het nie geantwoord nie.
Julle was nie gehoorsaam
toe Ek gepraat het nie.
Julle het dinge gedoen
waarvan Ek nie hou nie.”
Jerusalem sal vir julle soos 'n ma wees
5Julle wat bewe
wanneer die Here praat,
julle moet luister na wat die Here sê:
“Party van julle eie mense haat julle
en hulle wil julle nie ken nie
omdat julle My dien.
Hulle sê: ‘Die Here moet vir ons wys
Hy is God,
sodat ons kan sien
hoekom julle so bly is.’
Maar die mense wat dit sê,
sal jammer wees.”
6Luister hoe raas dit in die stad
en in die paleis.
Dit is die Here wat sy vyande straf
oor die dinge wat hulle gedoen het.
7Dink julle 'n vrou kan 'n baba kry
en nie geboortepyne hê nie?
8Nee, wie het al gehoor
dat so iets gebeur?
Dit het nog nooit gebeur nie.
'n Land en 'n volk begin nie lewe
in een dag nie.
Maar Sion het nog net begin
geboortepyne kry,
toe was haar kinders klaar gebore.
9Jou God die Here sê:
“Al die kinders kom van My af,
dit is Ek wat besluit
dat 'n vrou kinders sal kry.
10Julle wat lief is vir Jerusalem,
julle almal wat oor die stad huil en treur,
julle moet vrolik en bly wees,
11want Jerusalem is soos 'n vrou
wat haar kinders aan haar borste
laat drink en hulle
veilig laat voel.
Sy sal julle laat drink en laat lewe,
want sy is baie sterk.”
12Ja, die Here sê: “Ek sal kom,
Ek sal dit goed laat gaan
en al die duur en mooi dinge
van die volke vir Jerusalem gee.
Dit sal soos 'n vol rivier na die stad kom.
Jerusalem sal vir julle wees
soos 'n ma wat haar kinders laat drink
en hulle dra
en hulle op haar skoot laat sit.
13Soos 'n seun veilig voel by sy ma,
so sal Ek julle veilig laat voel.
Julle sal veilig wees in Jerusalem.
14Julle sal sien dit gebeur met julle
en julle sal bly wees,
julle sal nuwe lewe kry
soos groen gras.”
Almal sal sien
die Here is by sy dienaars,
maar Hy is kwaad vir sy vyande.
Die Here sal sy vyande straf
15Ja, julle moet kyk,
die Here sal kom.
Hy sal kom,
Hy sal sy oorlogkarre bring en Hy sal kom,
Hy sal kom in vuur en stormwinde.
Hy is kwaad en Hy sal sy vyande straf
en hulle brand.
16Die Here sal kom in vuur
om al die mense te straf.
Hy sal hulle doodmaak met sy swaard.
Hy sal baie mense laat sterf.
17Die Here sê:
“Die mense sal sterf,
al die mense wat hulleself reinig
en wat gereedmaak om ná mekaar in die tuine te gaan offer,
al die mense wat varkvleis eet
en akkedisse en muise.
18Ek weet wat hulle doen en wat hulle dink.
Ek sal kom
en al die volke bymekaarmaak.
En hulle sal kom en hulle sal weet
dat Ek God is.”
Julle nageslag en julle naam sal altyd voor My wees
19“Ek sal 'n teken vir hulle gee, en Ek sal party van hulle wat oorgebly het, stuur na die volke wat ver is en wat nog nie gehoor het van My nie, die volke wat nie weet dat Ek God is nie. Hulle sal vir die mense van die lande Tarsis en Pul vertel dat Ek God is, ook vir die mense van Lud wat so goed met 'n pyl en boog kan skiet, en ook vir die mense van Tubal en Griekeland. 20Hulle sal julle familie bring uit al die volke. Hulle sal kom op perde en oorlogkarre en dra-stoele en muile en kamele. Hulle sal kom na my gewyde berg, na Jerusalem. Hulle sal 'n present vir My wees, soos die koring-offer wat die Israeliete na die tempel bring in 'n rein skottel. 21Ek sal party van hulle kies om my priesters en Leviete te wees.” Dit sê die Here.
22Die Here sê ook: “Julle nageslag en julle naam sal altyd by My wees, soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek sal maak. 23Al die mense sal elke Nuwemaan-fees en elke Sabbatdag kom om voor My te buig. 24Wanneer hulle weer uit die stad gaan, dan sal hulle die lyke sien van die mense wat opstandig was teen My. Die wurms sal aanhou om die lyke te vreet, en die vuur sal aanhou om hulle te brand. Almal wat hulle sien, sal bewe en bang wees.”

Currently Selected:

Jesaja 66: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy