YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 27

27
'n Klaaglied oor die stad Tirus
1Ek het gehoor die Here sê vir my: 2“En jy, mens, jy moet 'n klaaglied sing oor die stad Tirus. 3Tirus is by die see en daardie mense koop en verkoop goed aan die volke van baie lande by die see. Jy moet vir Tirus sê:
“Die Here, Hy wat Here is, sê:
Tirus, jy het altyd gesê jy is
'n mooi stad,
so mooi soos die mooiste stad.
4Jy regeer tot ver op die diep see,
en die mense wat jou gebou het,
het jou soos 'n mooi skip gemaak,
so mooi soos die mooiste skip.
5Hulle het jou twee kante gemaak
van sipreshout van die land Senir,
hulle het 'n sederboom
op die Libanon-berg gaan haal
om vir jou 'n maspaal te maak,
6hulle het jou roeispane gemaak van eikehout van Basan,
hulle het jou dek gemaak
van sipreshout van die Kittiër-eilande,
en hulle het stukkies ivoor ingesit
in die dek.
7Jou seile was van bont linne van Egipte.
Die seile het vir ander skepe
gewys wie jy is.
Jy het jou toegemaak met pers
en rooi wol-materiaal
van die Elisa-eilande.
8Mense van die stede Sidon en Arwad
het jou geroei.
Jy self, Tirus, het mense gehad
wat die see geken het,
hulle was jou matrose.
9Leiers van die stad Gebal was die mense
wat die plekke moes toemaak
waar water ingekom het,
hulle kon dit goed doen.
Al die skepe, en die mense op hulle,
het na jou toe gekom
om goed by jou te koop
en om goed aan jou te verkoop.
10Mense van die lande Paras, Lud
en Put was jou soldate.
Hulle het hulle skilde
en hulle helms in jou opgehang.
Almal kon toe sien hoe belangrik jy is.
11Jou soldate was op die mure rondom jou,
by hulle was daar ook manne
van die stad Arwad,
en op jou torings was daar manne
van die stad Gammad.
Hulle het hulle klein ronde skilde
opgehang teen jou mure.
Dit het jou mooi gemaak,
so mooi soos die mooiste stad.
12Mense van die land Tarsis
het vir jou goed gekoop en verkoop.
Jy het baie goed gehad,
hulle het dit geruil vir silwer, yster,
tin en lood.
13Mense van die lande Griekeland,
Tubal en Mesek
was jou handelaars.
Hulle het slawe en bronsgoed
geruil vir jou goed.
14Die handelaars van die stad Bet-Togarma
het perde en muile geruil vir jou goed.
15Mense van die stad Dedan
was jou handelaars.
Mense van baie lande langs die see
het vir jou goed gekoop en verkoop.
Hulle het vir jou ivoor en ebbehout
gegee om te betaal vir die goed.
16Jy het baie goed gemaak,
en mense van die land Aram
het daardie goed vir jou verkoop.
Hulle het turkoois, pers wol-materiaal,
bont materiaal, linne,
koraal en robyne
geruil vir jou goed.
17Mense van die lande Juda en Israel
was ook jou handelaars.
Hulle het koring van die land Minnit,
vye, heuning, olyf-olie en balsemgom
vir jou gegee vir jou goed.
18Jy het baie goed gemaak,
en mense van die stad Damaskus
het daardie goed vir jou verkoop.
Hulle het wyn van die stad Gelbon
en wol van die stad Sagar gekry vir jou goed.
19Mense van die stad Dan
en van Griekeland het goed
van die stad Usal gegee vir jou goed.
Dit was ystergoed, kaneel en kalmoes.
20Mense van die stad Dedan
was jou handelaars vir saalkleedjies.
21Mense van die land Arabië
en die konings van die land Kedar,
het lammers, skaap-ramme
en bok-ramme vir jou gegee
vir jou goed.
22Handelaars van die lande Skeba
en Rama was jou handelaars.
Hulle het van die beste balsem
en kosbare klip
en goud vir jou gegee vir jou goed.
23Mense van die stede Haran,
Kanne en Eden,
handelaars van die lande Skeba,
Assirië en Kilmad
was ook jou handelaars.
24Hulle het baie mooi klere,
skouerdoeke van blou en bont materiaal,
bont matte en sterk, gedraaide tou
vir jou gegee vir jou goed.
25Skepe van Tarsis het geseil
om vir jou goed te koop en te verkoop.
Jy was 'n skip vol swaar goed
in die middel van die see.
26Jou manne wat jou geroei het,
het jou ver in die diep see gebring,
en daar het die sterk oostewind
jou stukkend gebreek
in die middel van die see.
27Toe jy daardie dag sink,
het alles saam met jou gesink
in die middel van die see:
alles wat jy gehad het
en wat jy geruil het, jou matrose,
die manne wat die plekke moes toemaak
waar water ingekom het,
jou handelaars, al jou soldate,
al jou mense wat op jou was.
28Die land het gebewe
toe jou matrose begin skree
en vra dat iemand hulle moet help.
29Al die manne wat roei,
het afgeklim van hulle skepe,
en die matrose het op die land
gaan staan.
30Hulle het hard begin skree oor jou,
hulle het gehuil en gevra
dat iemand hulle moet help,
hulle het stof op hulle koppe gegooi
en hulle het op die ashoop rondgerol.
31Hulle het hulle koppe kaal geskeer
oor jou en hulle het rouklere aangetrek,
hulle was hartseer en hulle het gehuil oor jou.
Hulle was baie hartseer.
32Hulle het gehuil en het begin
om 'n klaaglied te sing oor jou.
Hulle het gesê:
Wie is soos Tirus wat stil geword het
in die middel van die see?
33Die handelaars het die goed
wat jy geruil het,
oor die see gebring,
en toe het baie volke genoeg gehad
om van te lewe, meer as genoeg.
Jy het die konings van die aarde
ryk gemaak met jou baie goed
wat jy geruil het.
34Maar nou lê jy stukkend
in die diep water,
jou goed en al jou mense in jou
het saam gesink.
35Almal wat woon in die lande
langs die see
het baie bang geword
oor wat met jou gebeur het.
Hulle konings het geskrik
en hulle bewe,
hulle gesigte trek skeef.
36Die handelaars van die volke
fluit oor jou,
hulle skrik oor wat met jou gebeur het.
Jy sal nooit weer 'n stad wees nie.”

Currently Selected:

Esegiël 27: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy