YouVersion Logo
Search Icon

Kolossense 1

1
1Ek, Paulus, is 'n apostel van Christus Jesus omdat God dit wil hê. Ek en Timoteus, ons vriend, 2skryf hierdie brief vir julle daar in die stad Kolosse. Vriende, julle behoort aan God, julle glo in Christus en julle behoort ook aan Hom. Ons bid dat God ons Vader genadig sal wees vir julle en dat Hy vir julle vrede sal gee.
Paulus sê dankie vir God
3Ons bid baie vir julle, en dan sê ons elke maal dankie vir God, die Vader van ons Here Jesus Christus, 4want ons het gehoor dat julle in Christus Jesus glo en dat julle lief is vir al die ander mense wat aan God behoort. 5Julle glo en julle weet wat God vir julle in die hemel gebêre het. Julle het daarvan gehoor toe julle die goeie boodskap gehoor het, die boodskap wat waar is. 6Meer en meer mense hoor die goeie boodskap en hulle doen dan wat God wil hê. Julle ook, julle het die goeie boodskap gehoor en julle het besef dat God baie goed is. 7Epafras het vir julle vertel dat God baie goed is. Epafras werk saam met my, en ek is lief vir hom en ek weet hy doen altyd sy werk baie goed. Hy werk vir Christus daar by julle. 8Hy het ook vir ons vertel dat die Heilige Gees julle help om lief te wees vir mekaar.
Paulus bid vir die gelowiges in Kolosse
9Vandat ons gehoor het wat Epafras vir ons gesê het, bid ons elke dag vir julle. Ons bid en vra dat julle sal weet wat God wil hê julle moet doen. Ons bid dat die Heilige Gees vir julle sal help om te verstaan wat God wil hê julle moet doen. 10Dan sal julle so lewe dat die Here altyd tevrede sal wees met julle. Julle sal dinge doen waarvan Hy hou, baie goeie dinge, en julle sal vir God beter en beter leer ken. 11Hy, die Koning, is baie sterk en Hy sal julle geloof sterk maak. Dan sal julle kan aanhou om geduldig te wees wanneer julle swaarkry. En julle sal bly wees 12en vir God die Vader dankie sê, want Hy het julle verander. Hy het vir almal wat aan Hom behoort, belowe dat hulle in die hemel by Hom sal wees. Julle sal ook in die hemel by Hom wees. 13God die Vader het ons gered van die duiwel en nou weet ons dat sy Seun ons Koning is, sy Seun vir wie Hy baie lief is. 14Ja, God het sy Seun gestuur en die Seun het ons vrygemaak. So het God ons sondes vergewe.
Jesus is die Here
15Niemand kan vir God sien nie, maar God se Seun het vir ons kom wys hoe God is. Die Seun is die Eerste, die belangrikste van alles in die hemel en op die aarde, 16want Hy het alles gemaak, God het gesê Hy moet dit doen. Die Seun het alles in die hemel en alles op die aarde gemaak, alles wat 'n mens kan sien en alles wat 'n mens nie kan sien nie, almal en alles wat oor die wêreld wil regeer, in die hemel en op die aarde. Die Seun het hulle almal gemaak, en hulle is daar om Hom te respekteer en te dien. 17Die Seun was daar voordat daar iets anders was en Hy laat alles lewe. 18Die kerk is die Seun se liggaam, Hy is die Hoof van die kerk, en Hy laat die kerk lewe. Hy is die Eerste, die Een wat dood was en wat weer lewe, en daarom is Hy nou die belangrikste van almal en alles. 19Hy, die Seun, is God en Hy kan doen soos God doen, omdat God besluit het om in die Seun te woon. 20Die Seun het aan die kruis gesterf, en so het God vrede gebring. So het God almal se sonde weggeneem, almal op die aarde en almal in die hemel. God het dit gedoen sodat alles reg kan wees tussen God en hulle.
God het die gelowiges in Kolosse verander
21Voorheen was julle ver van God, julle was God se vyande en julle het slegte dinge gedink en gedoen. 22Maar nou het God julle verander. Die Seun het 'n mens geword en Hy het gesterf, en daarom het God julle sonde weggeneem sodat alles reg kan wees tussen God en julle. God het dit gedoen sodat julle aan Hom kan behoort en sodat julle sonder sonde sal wees en onskuldig sal wees wanneer Hy julle oordeel. 23Maar dan moet julle aanhou glo, julle geloof moet baie sterk wees. Toe julle die goeie boodskap gehoor het, het God vir julle gehelp om seker te wees van die dinge wat julle glo, en nou moet julle aanhou om seker te wees. Al die mense in die wêreld het die goeie boodskap gehoor, die goeie boodskap wat ek moet bring.
Paulus se werk
24Ek is bly dat ek nou swaarkry, want dit is vir júlle dat ek swaarkry. Christus het swaargekry, en nou kry ek swaar. Ek maak Christus se swaarkry klaar. Ek kry swaar vir die kerk, die kerk wat Christus se liggaam is. 25Dit was God se plan dat ek vir die kerk moet werk. Hy het vir my die werk gegee om vir julle alles te sê wat Hy vir julle wil sê. 26Mense het voorheen nooit geweet van die boodskap oor Christus nie. Maar nou het God dit vertel vir almal wat aan Hom behoort. 27God wou hê almal wat aan Hom behoort, moet sy boodskap ken. God wou hê hulle moet weet van die groot wonderwerk dat die boodskap oor Christus by die heidene moes kom, 'n boodskap wat niemand voorheen geken het nie. Julle wat heidene is, moet nou weet dat Christus ook in julle is, en daarom kan julle seker wees dat julle ook by God, die Koning, sal wees.
28Ons preek oor Christus en ons gebruik al ons wysheid om al die mense te waarsku en vir hulle te leer. Ons wil hê hulle moet almal aan Christus behoort en hulle moet alles doen wat God wil hê. 29Daarvoor werk ek baie hard, want God gee vir my die krag om dit te doen.

Currently Selected:

Kolossense 1: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy