YouVersion Logo
Search Icon

Rut 3

3
Rut gaan na Boas op die dorsvloer
1Eendag het Rut se skoonma Naomi vir haar gesê: “My dogter, ek moet vir jou 'n man kry wat vir jou kan sorg. 2Ek sal vir jou sê wat ons moet doen. Jy was saam met die vroue wat vir Boas werk, en hy is familie van my. Hy gaan vannag die gars op die dorsvloer in die lug opgooi, sodat die wind die kaf wegwaai. 3Jy moet jou was en lekkerruik-olie aan jou smeer en jou mooi aantrek, en dan moet jy na die dorsvloer gaan. Maar jy moenie dat Boas sien wie jy is nie. Wanneer hy klaar geëet en gedrink het 4en gaan slaap, dan moet jy kyk waar hy gaan lê, en dan moet jy die kombers optel en by sy voete gaan lê. Hy sal vir jou sê wat jy moet doen.”
5Rut het vir Naomi gesê: “Ek sal alles doen wat jy sê.”
6Rut het na die dorsvloer gegaan en sy het alles gedoen wat haar skoonma gesê het. 7Boas het lekker geëet en gedrink en hy het gelukkig gevoel. Hy het gaan lê en slaap langs die hoop gars. Rut het saggies gekom en sy kombers opgetel en by sy voete gaan lê. 8Toe Boas in die middel van die nag wakker word, het hy gesien daar lê 'n vrou by sy voete. 9Hy het gevra: “Wie is jy?”
Rut het gesê: “Ek is Rut, en jy moet vir my sorg, want jy is 'n losser.”
10Boas sê toe: “Dogter, die Here sal jou seën. Jy het by jou skoonma gebly, en nou wil jy ook in die familie bly. Jy kon 'n jongman gekies het, 'n arm of 'n ryk jongman, maar jy het dit nie gedoen nie. 11En nou, dogter, jy moenie bekommerd wees nie. Ek sal alles doen wat jy gevra het, want almal in my stad weet dat jy 'n goeie vrou is. 12Dit is waar dat ek 'n losser is, maar daar is 'n ander man wat nader familie is en wat ook 'n losser is. 13Bly vannag hier, en as hy môre sê hy sal vir jou sorg, dan is dit goed. Maar as hy dit nie wil doen nie, dan sal ek dit doen. Ek belowe dit en die Here is die getuie. Slaap nou tot môre.”
14Rut het by Boas se voete gelê tot die volgende oggend, maar sy het opgestaan toe dit nog donker was, want Boas het gesê niemand moet weet dat daar 'n vrou na die dorsvloer gekom het nie. 15Boas het gesê sy moet die doek bring wat om haar lyf is, en sy moet dit vashou. Sy het dit gedoen, en hy het ses kruike vol gars op die doek gegooi en dit op haar skouers getel. Sy het na die stad gegaan, 16en toe sy by haar skoonma kom, vra Naomi vir haar: “My dogter, hoe het dit gegaan?”
Rut het vir haar alles vertel wat Boas vir haar gedoen het 17en sy het gesê: “Hierdie ses kruike gars het hy vir my gegee en hy het gesê ek mag nie by my skoonma kom en niks vir haar saambring nie.”
18Naomi het gesê: “Nou moet jy wag totdat jy weet wat gebeur. Die man sal nie ophou voordat hy vandag gedoen het wat hy gesê het nie.”

Currently Selected:

Rut 3: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy