YouVersion Logo
Search Icon

Markus 16

16
Jesus lewe weer
(Ook Matt 28:1,3,5-8; Luk 24:1-6,9; Joh 20:1-2)
1Nadat die Sabbatdag verby was, het Maria Magdalena en Maria, die ma van Jakobus, en ook Salome lekkerruik-olie gaan koop. Hulle wou dit op Jesus se liggaam gaan uitgooi. 2Baie vroeg die Sondag-oggend, net nadat die son opgekom het, het hulle by die graf gekom. 3Hulle het aangehou om vir mekaar te vra: “Wie sal vir ons die klip voor die graf wegrol?”
4Die klip was baie groot, maar toe hulle kyk, sien hulle iemand het klaar die klip voor die graf weggerol. 5Toe hulle in die graf ingaan, sien hulle 'n jongman wat regs in die graf sit. Hy het lang wit klere aangehad. Die vroue was baie bang. 6Die man het vir hulle gesê: “Moenie skrik nie. Julle soek vir Jesus van Nasaret wat gekruisig is. Hy lewe weer, Hy is nie hier nie. Kyk, hier is die plek waar hulle sy liggaam gesit het. 7Gaan sê vir sy dissipels en vir Petrus: ‘Jesus gaan voor julle na Galilea, en julle moet ook gaan. Julle sal Hom daar sien. Dit is soos Hy vir julle gesê het.’ ”
8Die vroue het uit die graf gegaan en weggehardloop. Hulle het gebewe, want hulle het groot geskrik. Hulle het vir niemand iets vertel nie, want hulle was baie bang.
Jesus verskyn aan mense
(Ook Matt 28:9-10,16-20; Luk 24:10-11,13-43,50-51; Joh 20:14-29)
9Jesus het vroeg die Sondag-oggend weer begin lewe. Hy het eerste aan Maria Magdalena verskyn. Dit is die vrou uit wie Jesus voorheen sewe duiwels uitgejaag het. 10Sy het vir die dissipels wat altyd saam met Hom was, gaan vertel dat Jesus aan haar verskyn het. Hulle was nog besig om te huil en te treur. 11Toe hulle hoor Jesus lewe en Maria het Hom gesien, het hulle dit nie geglo nie.
12Daarna het Jesus verskyn aan twee van sy dissipels wat buite die stad was. Jesus het toe anders gelyk. 13Die twee dissipels het teruggegaan na die stad en hulle het vir die ander dissipels daarvan vertel, maar die ander dissipels het hulle ook nie geglo nie.
14Later het Jesus verskyn aan die elf dissipels terwyl hulle besig was om te eet. Hy het met hulle geraas omdat hulle nie geglo het nie. Hulle was hardkoppig en wou nie die mense glo nie wat gesê het dat hulle Hom gesien het nadat Hy weer begin lewe het. 15Jesus het vir hulle gesê: “Gaan na die hele wêreld en bring die goeie boodskap vir al die mense. 16As iemand glo en gedoop is, dan sal God hom red, maar as iemand nie glo nie, dan sal God hom straf. 17Die mense wat glo, sal wonderwerke kan doen: Hulle sal my Naam gebruik om duiwels uit te jaag en hulle sal nuwe tale kan praat. 18Hulle sal slange met hulle hande optel, en as hulle iets drink wat giftig is, dan sal dit hulle nie siek maak nie. Hulle sal hulle hande op siek mense sit, en die siek mense sal gesond word.”
19Nadat die Here Jesus met die dissipels gepraat het, het God Hom na die hemel geneem, en Jesus het langs God gaan sit, op die belangrikste plek. 20Sy dissipels het oral die goeie boodskap gebring. Die Here het met hulle saamgewerk sodat hulle wonderwerke kon doen. So het God bewys dat die goeie boodskap waar is.

Currently Selected:

Markus 16: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy