YouVersion Logo
Search Icon

Matteus 20

20
Die werkers in die wingerd
1Jesus het gesê: “In die hemel waar God Koning is, is dit soos 'n man wat een oggend vroeg uitgegaan het om werkers te huur om in sy wingerd te werk. 2Hy het met die werkers gepraat en hulle het saamgestem dat hy vir elke werker een silwer geldstuk sal gee. Toe het hy hulle na sy wingerd gestuur om te gaan werk. 3Omtrent nege-uur het hy weer na die mark gegaan en hy het daar nog ander werkers sien staan wat nie gewerk het nie. 4Hy sê toe vir hulle: ‘Julle mag ook in my wingerd gaan werk, dan sal ek vir julle gee wat julle moet kry.’ 5Hulle het toe gegaan. Die man het omtrent twaalfuur en omtrent drie-uur weer gegaan en hy het weer werkers gehuur. 6Toe dit omtrent vyfuur was, het hy weer gegaan en hy het ander werkers gesien wat nog daar staan. Toe sê hy vir hulle: ‘Hoekom staan julle die hele dag hier en julle werk nie?’ 7Hulle sê toe vir hom: ‘Omdat niemand vir ons werk gegee het nie.’ Toe sê hy vir hulle: ‘Julle mag ook in my wingerd gaan werk.’ 8En toe dit aand geword het, sê die man vir sy voorman: ‘Roep die werkers en betaal hulle wat hulle verdien het. Betaal eerste die werkers wat laaste begin werk het en dan die werkers wat eerste begin werk het.’ 9Die werkers wat omtrent vyfuur begin werk het, kom toe en hulle kry elkeen die geld wat 'n werker gewoonlik kry wanneer hy die hele dag gewerk het. 10Die werkers wat eerste begin werk het, kom toe en hulle dink dat hulle meer geld sal kry. Maar hulle het ook elkeen een silwer geldstuk gekry. 11Hulle neem toe die geld, maar hulle het by die man gaan kla 12en gesê: ‘Hierdie werkers wat laaste begin werk het, het net een uur gewerk, maar jy het vir hulle dieselfde gegee as vir ons, ons wat die hele dag hard in die son gewerk het.’ 13Die man sê toe vir een van hulle: ‘My vriend, ek doen niks verkeerd aan jou nie. Onthou jy, jy het met my saamgestem dat jy een silwer geldstuk sal kry. 14Jy moet jou geld neem en gaan. Ek het besluit ek gee vir die werker wat laaste begin werk het, dieselfde as vir jou. 15Ek kan doen met my geld wat ek wil, dit weet jy. Hoekom is jy jaloers omdat ek vir hulle goed is?’ 16Baie mense wat nou onbelangrik is, sal belangrik wees, en mense wat nou belangrik is, sal onbelangrik wees.”
Jesus sê die derde maal Hy sal sterf en weer lewe
(Ook Mark 10:32-34; Luk 18:31-33)
17Jesus was op die pad na Jerusalem. Hy het met die twaalf dissipels alleen gepraat en vir hulle gesê: 18“Luister, ons gaan na Jerusalem. Iemand sal My, die Seun van die mens, vir die priesterleiers en vir die skrifgeleerdes gee, en hulle sal besluit dat Ek moet sterf. 19Dan sal hulle My vir die heidene gee, en die heidene sal My spot en My met 'n sweep slaan en My kruisig. Maar op die derde dag sal God My weer laat lewe.”
Jakobus en Johannes wil langs Jesus sit
(Ook Mark 10:35-45; Luk 22:24-27)
20Die ma van die seuns van Sebedeus het saam met haar seuns na Jesus toe gekom. Sy het voor Hom gekniel om vir Hom iets te vra. 21Jesus het vir haar gevra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”
Sy sê toe vir Hom: “U sal koning wees oor almal. Belowe dat U dan vir hierdie twee seuns van my die sitplekke langs U sal gee, een regs langs U en een links langs U.”
22Jesus het vir haar gesê: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle swaarkry soos Ek moet swaarkry? Kan julle uit die beker drink waaruit Ek moet drink?”
Hulle antwoord Hom: “Ons kan dit doen.”
23Toe sê Jesus vir hulle: “Ja, julle sal uit dieselfde beker drink waaruit Ek moet drink. Maar Ek kan nie besluit wie regs langs My en wie links langs My sal sit nie. My Vader het klaar besluit wie daar moet sit.”
24Toe die ander tien dissipels hoor wat die twee broers se ma gevra het, het hulle kwaad geword vir die broers. 25Jesus het die dissipels na Hom toe geroep en Hy het vir hulle gesê: “Julle weet daar is mense wat oor ander mense regeer en wat hulle verdruk, daar is belangrike mense wat altyd hard wil regeer oor ander mense. 26Dit moenie so wees by julle nie. As een van julle die belangrikste wil wees, dan moet hy die ander dien. 27As een van julle bo die ander wil wees, dan moet hy almal se slaaf wees. 28Julle moet wees soos Ek is. Ek, die Seun van die mens, het gekom, maar nie sodat almal My moet dien nie. Ek het gekom om mense te dien en om my lewe te gee en te sterf. So sal Ek betaal om baie mense vry te maak van hulle sonde.”
Jesus maak twee blinde mense gesond
(Ook Matt 9:27-31; Mark 10:46-52; Luk 18:35-43)
29Toe Jesus en sy dissipels uit Jerigo uitgaan, het baie mense saam met hulle geloop. 30Daar het twee blindes langs die pad gesit. Toe hulle hoor Jesus gaan daar verby, het hulle hard begin skree: “Here, Seun van Dawid, U moet asseblief jammer wees vir ons en ons help!”
31Baie mense het met hulle geraas en vir hulle gesê hulle moet stilbly, maar hulle het nog harder geskree: “Here, Seun van Dawid, U moet asseblief jammer wees vir ons en ons help!”
32Jesus het gaan staan en Hy het hulle geroep en gesê: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?”
33Hulle sê toe: “Here, ons wil graag sien.”
34Jesus was baie jammer vir hulle en Hy het aan hulle oë geraak. Die mans kon dadelik sien en hulle het Jesus gevolg.

Currently Selected:

Matteus 20: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy