YouVersion Logo
Search Icon

Matteus 11

11
Jesus antwoord vir Johannes die Doper
(Ook Luk 7:18-23)
1Toe Jesus klaar met sy twaalf dissipels gepraat het en vir hulle gesê het wat hulle moet doen, het Hy van daar na die stede in Galilea gegaan om vir die mense te leer en vir hulle te preek. 2Johannes die Doper was toe in die tronk en hy het gehoor wat Christus alles gedoen het. Johannes het 'n paar van sy dissipels na Jesus toe gestuur om vir Hom te vra: 3“Is U die Christus wat moes kom? Of moet ons vir 'n ander Een wag?”
4Jesus het vir hulle gesê: “Gaan terug na Johannes toe en vertel vir hom wat julle gehoor en gesien het. 5Sê vir hom: Blinde mense kan nou sien, kreupel mense kan nou loop, melaatse mense is gesond, dowe mense kan nou hoor, mense wat gesterf het, lewe weer, en arm mense hoor die goeie boodskap dat Jesus die Christus is. 6En God sal mense seën wat nie twyfel nie en wat aanhou om in My te glo.”
Jesus en Johannes die Doper
(Ook Luk 7:24-28; 16:16)
7Die boodskappers van Johannes het teruggegaan, en toe het Jesus vir die mense iets van Johannes vertel. Jesus vra toe vir hulle: “Wat het julle gedink sal julle sien toe julle in die woestyn na Johannes toe gegaan het? Het julle gedink julle sal iemand sien wat soos 'n riet in die wind heen en weer waai? Nee! 8Het julle gedink julle sal 'n man sien wat mooi en duur klere dra? Nee! Die mense wat mooi en duur klere dra, woon in konings se paleise. 9Maar wat wou julle gaan sien? 'n Profeet? Ja, maar Ek sê vir julle: Julle het meer as 'n profeet gesien. 10God het in die Ou Testament oor Johannes gepraat toe Hy gesê het:
“ Kyk, Ek stuur my boodskapper.
Hy sal voor jou gaan
en die pad gereedmaak vir jou.
11“Ek sê vir julle, en dit is seker: Niemand is belangriker as Johannes die Doper nie, nie een van al die mense wat gebore is nie. Maar waar God is, die Koning wat in die hemel is, daar is die mens wat die minste belangrik is, nog belangriker as Johannes die Doper. 12Johannes die Doper het begin preek in die woestyn. Maar van toe af tot nou toe is mense opstandig teen God, die Koning wat in die hemel is. Hulle wil self konings wees. 13Die hele Ou Testament, al die boeke van die profete en van Moses, het gesê wat sal gebeur totdat Johannes gekom het. 14As julle glo wat die profete gesê het, dan sal julle weet Johannes die Doper is Elia wat moes kom. 15As iemand verstaan wat Ek sê, dan moet hy doen wat Ek sê!”
Mense is nooit tevrede nie
(Ook Luk 7:31-35)
16“Wat kan Ek sê van die mense wat vandag lewe? Hulle is soos kinders wat op die oop stuk grond in die stad sit. 17Party kinders sê:
“ ‘Ons het vir julle trou-musiek
op die fluit gespeel,
maar julle wou nie dans nie.’
“En die ander kinders sê:
“ ‘Ons het vir julle
'n begrafnis-lied gesing,
maar julle wou nie huil nie.’
18“So doen die mense met Johannes en met My. Hulle is nooit tevrede nie. Toe Johannes hier was, het hy nie feesgevier nie. Toe sê die mense: ‘Daar is 'n duiwel in hom.’ 19Nou het Ek, die Seun van die mens, gekom en Ek vier graag fees. Nou sê die mense: ‘Hy is 'n vraat en 'n dronklap. Hy is 'n vriend van tollenaars en van mense wat nie doen wat die Here in sy wette sê nie.’ Die dinge wat Ek en Johannes doen, wys dat ons van God kom. Mense wat in ons glo, weet regtig wat die wysheid van God is.”
Die mense wat nie wil glo nie, sal swaarkry
(Ook Luk 10:12-15)
20Jesus het die meeste van sy wonderwerke gedoen in 'n paar stede. Maar die mense in hierdie stede het nie verander nie en hulle het nie begin lewe soos God wil hê mense moet lewe nie. Jesus het toe kwaai begin praat met hulle en gesê: 21“Dit sal baie sleg gaan met die mense van die stad Gorasin! Dit sal baie sleg gaan met julle wat in Betsaida woon! Ek het baie wonderwerke by julle gedoen. As Ek dieselfde wonderwerke gedoen het in die stede Tirus en Sidon, dan sou al daardie mense hulle lewe verander het. Hulle sou rouklere gedra het en as op hulle koppe gegooi het. So sou hulle wys dat hulle verander het en wil begin lewe soos God wil hê. 22Maar Ek sê vir julle: Op die dag wanneer God sal oordeel, sal Hy die mense van Tirus en Sidon minder straf as vir julle. 23En julle wat in Kapernaum woon, julle dink God sal vir julle eer gee en julle optel tot in die hemel. Nee! Hy sal julle verneder en Hy sal julle laat val tot in die hel. Ek het baie wonderwerke by julle gedoen. As Ek dieselfde wonderwerke in Sodom gedoen het, dan sou daardie mense verander het en begin lewe het soos God wil hê. En dan was Sodom vandag nog daar. 24Maar Ek sê vir julle: Op die dag wanneer God sal oordeel, sal Hy die mense van Sodom minder straf as vir julle.”
Mense moet na Jesus toe kom
(Ook Luk 10:21-22)
25In daardie tyd het Jesus gebid en gesê: “Vader, Here van die hemel en die aarde, Ek sê vir U dankie, want U het kinders en gewone mense gehelp om u woorde en tekens te verstaan. Maar slim en geleerde mense het dit nie verstaan nie, want U het hulle nie gehelp om dit te verstaan nie. 26Ja, Vader, U het dit gedoen omdat U dit graag wou doen.”
27Jesus het ook gesê: “My Vader het alles vir My gegee. Niemand ken regtig vir My, die Seun van God nie, net die Vader ken My. En niemand ken regtig die Vader nie, net Ek, die Seun van God, ken die Vader. En watter mense ken die Vader? Net as die Seun vir mense help om te weet wie die Vader is, dan ken hulle ook die Vader.
28“Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaarkry omdat julle wil doen wat die Wette van Moses sê. Ek sal julle help sodat julle kan rus. 29Julle moet gehoorsaam wees en luister na wat Ek vir julle leer, want Ek het 'n sagte hart en Ek is nederig. Julle sal vir altyd by My kan rus. 30Die wette wat Ek vir julle gee, is nie moeilik nie, en as julle My volg, sal julle nie swaarkry nie.”

Currently Selected:

Matteus 11: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy