YouVersion Logo
Search Icon

Lukas 9

9
Jesus stuur die twaalf dissipels om te gaan preek
(Ook Matt 10:1,7-14; Mark 6:7-13)
1Jesus het die twaalf dissipels geroep. Hy het vir hulle krag gegee om duiwels uit mense te jaag en siek mense gesond te maak. 2Hy het die dissipels gestuur om vir die mense te vertel God is Koning en Hy regeer. Die dissipels moes ook siek mense gesond maak. 3Jesus het vir die dissipels gesê: “Julle mag niks saamneem wanneer julle gaan nie. Julle mag nie 'n kierie of 'n rugsak of kos of geld saamneem nie. Julle mag net die klere saamneem wat julle aanhet. 4As mense julle uitnooi om in hulle huis te bly, dan moet julle daar bly totdat julle weggaan uit daardie stad. 5En as die mense julle nie daar wil laat bly nie, dan moet julle weggaan van daardie stad en julle moet die stof van julle voete afskud. So sal julle vir hulle waarsku dat God hulle sal straf.”
6Die dissipels het na al die dorpies gegaan en hulle het die goeie boodskap vir die mense gebring. Hulle het ook oral mense gesond gemaak.
Koning Herodes wonder wie is Jesus
(Ook Matt 14:1-2; Mark 6:14-16)
7Koning Herodes het gehoor van al die dinge wat gebeur het. Hy het baie gewonder wie Jesus is, want die mense het baie verskillende dinge oor Jesus gesê. Party mense het gesê: “Jesus is Johannes die Doper. Johannes het gesterf, maar hy lewe weer.”
8Party mense het gesê: “Jesus is Elia wat nou gekom het.”
Ander mense het gesê: “Jesus is 'n profeet, hy is een van die profete wat lank gelede gelewe het, en wat nou weer lewe.”
9Maar Herodes het gesê: “Nee, Ek het Johannes die Doper se kop laat afkap. Ek hoor al die dinge van hierdie man, maar ek weet nie wie hy is nie.”
Herodes wou graag self vir Jesus sien.
Jesus gee vir 5 000 mense kos
(Ook Matt 14:13-21; Mark 6:30-44; Joh 6:1-14)
10Toe die apostels terugkom, het hulle vir Jesus vertel wat hulle alles gedoen het. Daarna het Jesus gesê hulle moet saam met Hom gaan na die stad Betsaida sodat hulle alleen kon wees. 11Maar toe die mense hoor waarnatoe hulle gaan, het hulle ook daarnatoe gegaan. Jesus het vir hulle gewag. Toe praat Hy met hulle en sê vir hulle God is Koning en Hy regeer. Jesus het ook die mense gesond gemaak wat graag gesond wou word. 12Dit het laat geword, en die twaalf dissipels het na Jesus toe gekom en gesê: “Stuur die mense weg sodat hulle na die dorpies en plase hier naby kan gaan om slaapplek en kos te kry. Hier waar ons is, is niks kos nie.”
13Maar Jesus het vir hulle gesê: “Júlle moet vir hulle kos gee om te eet.”
Die dissipels het gesê: “Ons het net vyf brode en twee visse. Ons kan nie vir al hierdie mense kos gee nie, ons sal moet gaan kos koop.”
14Daar was baie mense. Die mans was omtrent 5 000. Maar Jesus het vir sy dissipels gesê: “Sê vir die mense hulle moet in groepe van omtrent 50 bymekaar sit.”
15Die dissipels het dit gedoen en hulle het gesê al die mense moet sit. 16Toe het Jesus die vyf brode en twee visse geneem. Hy het opgekyk na die hemel en Hy het God geprys en dankie gesê vir die kos. Daarna het Hy die kos in stukke gebreek en Hy het dit vir die dissipels gegee. Die dissipels het dit vir die mense gegee. 17Almal het genoeg geëet. Toe die mense klaar geëet het, het die dissipels twaalf mandjies vol stukkies kos opgetel wat oorgebly het.
Wie is Jesus? Jesus sê Hy sal sterf en weer lewe
(Ook Matt 16:13-16,20-21; Mark 8:27-31)
18Eendag was Jesus alleen, Hy was besig om te bid. Die dissipels was daar naby Hom. Jesus vra toe vir hulle: “Wat sê die mense, wie is Ek?”
19Die dissipels het vir Hom gesê: “Party mense sê U is Johannes die Doper, party mense sê U is Elia, en ander mense sê U is een van die profete wat lank gelede gelewe het en wat nou weer begin lewe het.”
20Jesus het vir hulle gevra: “Maar julle, wat sê júlle? Wie sê júlle is Ek?”
Petrus het geantwoord: “U is die Christus van God.”
21Jesus het toe vir sy dissipels gesê hulle mag nie vir ander mense vertel dat Hy die Christus is nie. 22Hy het ook gesê dat die familieleiers, die priesterleiers en die skrifgeleerdes baie slegte dinge sal doen aan Hom, die Seun van die mens. Hulle sal Hom nie aanvaar nie, hulle sal Hom doodmaak, maar op die derde dag sal God Hom weer laat lewe.
Hoe 'n mens vir Jesus moet volg
(Ook Matt 16:24-28; Mark 8:34 – 9:1; Joh 12:25)
23Jesus het vir al die mense gesê: “As iemand saam met My wil kom, dan moet hy nie dink aan wat hy self graag wil hê nie. Hy moet elke dag lewe soos iemand wat weet hy sal aan 'n kruis sterf. Dit is hoe hy My moet volg. 24Want as iemand homself wil red, dan sal hy sy lewe verloor. Maar as iemand sy lewe verloor omdat hy lief is vir My, dan sal hy sy lewe red. 25As jy alles in die wêreld kry maar jy verloor jou lewe vir altyd, dan help dit jou niks. 26As iemand My nie wil ken nie en nie wil glo wat Ek sê nie, dan sal Ek, die Seun van die mens, hom ook nie wil ken nie. Ek sal hom nie wil ken nie wanneer Ek saam met die heilige engele kom en Koning is soos my Vader Koning is. 27Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat hier staan, sal sien dat God Koning is, hulle sal dit sien voordat hulle sterf.”
God sê Jesus is sy Seun
(Ook Matt 17:1-5,8; Mark 9:2-8; Joh 12:28-30)
28Omtrent ag dae nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy vir Petrus, Johannes en Jakobus saam met Hom geneem. Hy het teen 'n berg opgegaan om daar te bid. 29Jesus se gesig het anders begin lyk terwyl Hy besig was om te bid. Sy klere het baie wit geword en dit het geblink. 30Skielik was daar twee mans wat met Jesus gepraat het. Dit was Moses en Elia, 31en hulle het soos konings gelyk. Hulle het gepraat oor Jesus wat 'n paar dae later in Jerusalem sou sterf. 32Petrus, Johannes en Jakobus het aan die slaap geraak. Hulle het later wakker geskrik en hulle het vir Jesus en die twee mans by Hom gesien. Jesus het ook soos 'n koning gelyk. 33Moses en Elia het gereedgemaak om weg te gaan van Jesus, en Petrus het vir Jesus gesê: “Meneer, dit is goed dat ons hier is. Ons moet drie tente opslaan, een tent vir U, een tent vir Moses en een tent vir Elia.”
Petrus het nie besef wat hy sê nie. 34Petrus was nog besig om te praat, toe kom daar 'n wolk wat vir hulle almal toegemaak het. Die drie dissipels het bang geword toe die wolk oor hulle kom. 35Die dissipels het gehoor God praat uit die wolk. Hy het gesê: “Dit is my Seun wat Ek gekies het. Julle moet doen wat Hy sê.”
36Toe God klaar gepraat het, het die drie dissipels net vir Jesus daar gesien. Die dissipels het stilgebly, en terwyl Jesus by hulle op die aarde was, het hulle vir niemand vertel van die dinge wat hulle gesien het nie.
Daar was 'n onrein gees in 'n seun, en Jesus het die seun gesond gemaak
(Ook Matt 17:14-18; Mark 9:14-27)
37Die volgende dag het Jesus en die drie dissipels afgekom van die berg. Baie mense het na Hom toe gekom. 38Een van die mense het hard gepraat en gesê: “Meneer, ek soebat U, help asseblief my seun. Hy is my enigste seun. 39Daar is 'n onrein gees wat my seun aanval, dan begin my seun dadelik skree. Die gees laat hom ruk en skop, en skuim kom by sy mond uit. Die gees los my seun amper nooit nie, en hy is besig om my seun dood te maak. 40Ek het u dissipels gevra om die gees uit te jaag, maar hulle kon nie.”
41Toe sê Jesus: “Julle glo nie en julle is sleg! Hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek nog geduldig wees met julle? Bring jou seun hiernatoe.”
42Toe die seun nader kom, het die duiwel hom op die grond laat val en hom laat ruk en skop. Jesus het hard met die onrein gees gepraat en Hy het hom uit die seun gejaag. Jesus het die seun gesond gemaak en hom vir sy pa teruggegee. 43Al die mense was verbaas omdat God so sterk is en dit alles kan doen.
Jesus praat die tweede maal oor sy dood
(Ook Matt 17:22-23; Mark 9:30-32)
Al die mense was verbaas oor alles wat Jesus gedoen het. Maar Jesus het vir sy dissipels gesê: 44“Julle moet goed luister na wat Ek vir julle sê. Die tyd is nou naby wanneer God vir My, die Seun van die mens, vir die mense sal gee sodat hulle My kan doodmaak.”
45Maar die dissipels het nie verstaan wat Jesus gesê het nie. God het nog nie vir hulle gewys wat hierdie woorde beteken nie, en hulle kon dit nie verstaan nie. Hulle was te bang om vir Jesus te vra wat hierdie woorde beteken.
Wie is die belangrikste?
(Ook Matt 18:1-2,5; Mark 9:33-34,36,37; Joh 13:20)
46Die dissipels het met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is. 47Maar Jesus het geweet wat hulle dink. Hy neem toe 'n kindjie en Hy laat die kindjie by Hom staan. 48Jesus het vir die dissipels gesê: “Wanneer iemand vir hierdie kindjie wat aan My behoort, sê hy is welkom, dan sê hy Ek is ook welkom by hom. En wanneer Ek by iemand welkom is, dan is my Vader wat My gestuur het, ook welkom by hom. Die een wat die minste belangrik is van julle almal, hy is die belangrikste by God.”
As iemand nie teen die dissipels is nie, dan help hy vir hulle
(Ook Mark 9:38-40)
49Johannes het vir Jesus gesê: “Meneer, ons het iemand gesien wat u Naam gebruik om duiwels uit mense te jaag. Ons het hom probeer keer omdat hy nie saam met ons by U is nie.”
50Maar Jesus het vir Johannes gesê: “Julle moet hom nie keer nie, want as hy nie teen julle is nie, dan help hy vir julle.”
Die Samaritane wil nie luister na Jesus nie
51Dit was amper Jesus se tyd om na die hemel te gaan. Hy het besluit om na Jerusalem te gaan. 52Hy het boodskappers gestuur en hulle het by 'n Samaritaanse dorpie gekom en vir die mense gevra hulle moet vir Jesus slaapplek en kos gereedmaak. 53Maar die mense wou nie vir Jesus daar hê nie, omdat Hy na Jerusalem wou gaan. 54Jakobus en Johannes, twee van Jesus se dissipels, het dit gesien, en hulle het vir Jesus gevra: “Here, wil U hê ons moet bid dat vuur uit die hemel kom en hierdie mense verbrand?”
55Maar Jesus het omgedraai en met Jakobus en Johannes geraas. 56Jesus en sy dissipels het toe na 'n ander dorpie gegaan.
Wat beteken dit om Jesus te volg?
(Ook Matt 8:18-22)
57Toe Jesus en sy dissipels besig was om na Jerusalem te gaan, het iemand vir Jesus gesê: “Ek sal saam met U gaan, oral waar U gaan.”
58Jesus sê toe vir hom: “Jakkalse woon in gate, en voëls het neste. Maar Ek, die Seun van die mens, het nie 'n plek waar Ek kan woon nie.”
59Jesus het vir iemand anders gesê: “Kom saam met My.”
Maar die man het gesê: “Here, ek sal saam met U gaan, maar ek moet eers wag tot my pa dood is sodat ek hom kan begrawe.”
60Maar Jesus het vir hom gesê: “Dit is belangriker om My te volg as om te wag totdat jy jou pa begrawe het. Jy moet vir die mense gaan vertel God is Koning.”
61Iemand anders het ook vir Jesus gesê: “Ek sal saam met U gaan, maar ek wil asseblief eers vir my familie gaan totsiens sê.”
62Maar Jesus het vir hom gesê: “Iemand wat begin ploeg en aanhou om agtertoe te kyk, is nie gereed om vir God te werk nie, God wat Koning is.”

Currently Selected:

Lukas 9: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy