YouVersion Logo
Search Icon

Lukas 13

13
Mense moet lewe soos God wil hê
1Toe Jesus vir die mense gesê het dit is belangrik dat hulle moet lewe soos God wil hê, het party van hulle vir Hom vertel dat Pilatus 'n klomp mense in Galilea laat doodmaak het terwyl hulle offers gebring het vir God. 2Jesus het vir hulle gevra: “Hoekom het hierdie mense van Galilea so wreed gesterf? Dink julle hulle het meer sonde gedoen as al die ander mense in Galilea? 3Nee, Ek sê vir julle: Hulle het nie meer sonde gedoen as die ander mense nie. Maar as julle nie verander en lewe soos God wil hê nie, dan sal julle ook sterf. 4En onthou julle daardie 18 mense wat almal gesterf het toe die toring van Siloam op hulle geval het? Dink julle hulle het meer verkeerd gedoen as al die ander mense wat in Jerusalem woon? 5Nee, Ek sê vir julle: Hulle het nie meer verkeerd gedoen nie. Maar as julle nie verander en lewe soos God wil hê nie, dan sal julle ook sterf.”
Die gelykenis van die vyeboom wat nie vye gedra het nie
6Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis. Hy het gesê: “Iemand het 'n vyeboom gehad wat in sy wingerd gegroei het. Hy het gaan kyk of daar vye aan die boom is maar hy het niks vye gekry nie. 7Die man sê toe vir die man wat in die wingerd werk: ‘Dit is nou die derde jaar dat ek kom kyk of daar vye aan die boom is, maar elke jaar kry ek niks. Jy moet nou hierdie vyeboom uitkap, want dit maak net die grond droog.’ 8Toe sê die man wat in die wingerd werk: ‘Meneer, laat die vyeboom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom die boom omspit en ek sal dit mis gee. 9En as die boom volgende jaar vye dra, dan is dit goed. Maar as daar weer niks vye is nie, dan kan jy die boom uitkap.’ ”
Jesus maak op die Sabbatdag 'n vrou gesond
10Jesus was op die Sabbatdag besig om die mense te leer in die sinagoge. 11Daar was 'n vrou wat gebreklik was, 'n onrein gees het haar 18 jaar lank gebreklik gemaak. Sy het krom geloop en sy kon nie regop staan nie. 12Toe Jesus haar sien, het Hy haar geroep en vir haar gesê: “Mevrou, God maak jou gesond.”
13Toe sit Jesus sy hande op haar, en sy het dadelik regop geloop en begin om God te prys. 14Die leier van die sinagoge was baie ontevrede omdat Jesus iemand op die Sabbatdag gesond gemaak het. Die leier het vir die mense gesê: “Daar is ses dae wanneer 'n mens moet werk. Julle kan op daardie dae kom as julle gesond wil word. Julle moenie op die Sabbatdag kom nie.”
15Maar die Here het vir hom gesê: “Julle is skynheilig. Elkeen van julle maak op die Sabbatdag sy bees of donkie los waar hy by die krip staan en vreet, en julle lei hom weg sodat hy kan water drink. 16Dit is dieselfde met hierdie vrou. Sy is een van ons, 'n Israeliet. En onthou, die Satan het haar 18 jaar lank vasgebind. Is dit dan verkeerd om haar op die Sabbatdag los te maak?”
17Toe Jesus dit sê, het sy vyande nie geweet wat om te antwoord nie. Maar al die ander mense was baie bly oor al die wonderlike dinge wat Jesus gedoen het.
Die gelykenis van die mosterd-saad en die suurdeeg
(Ook Matt 13:31-33; Mark 4:30-32)
18Jesus het ook gesê: “Weet julle hoe dit is wanneer God Koning is? Ek sal dit vir julle so verduidelik. 19Dit is soos 'n mosterd-saad wat iemand in sy tuin plant. Die saad groei en dit word 'n boom, en die voëls maak hulle neste in sy takke.”
20-21Toe praat Jesus weer. Hy het gesê: “Ek sal probeer om dit vir julle ook só te verduidelik: Wanneer God Koning is, dan is dit soos 'n vrou wat 'n klein stukkie suurdeeg neem en dit meng met drie sea meel. Die meel word dan deeg, en die suurdeeg laat al die deeg rys en groter word.”
Die klein deurtjie
(Ook Matt 7:13-14,22-23; 8:11; 19:30; Mark 10:31)
22Jesus het deur baie stede en dorpies geloop toe Hy na Jerusalem gegaan het. Oral waar Hy gekom het, het Hy vir die mense geleer. 23Iemand het vir Hom gevra: “Here, sal God net 'n paar mense red?”
Jesus sê toe: 24“Julle moet hard probeer om by die klein deurtjie in te gaan, want Ek sê vir julle: Baie mense sal die deur soek om in te gaan, maar hulle sal dit nie kry nie. 25Die tyd sal kom wanneer die eienaar van die huis sal opstaan en die deur sal toesluit. Dan sal julle buite staan en begin klop aan die deur. Julle sal sê: ‘Meneer, maak oop die deur vir ons.’ Maar die eienaar sal vir julle sê: ‘Ek ken julle nie, ek weet nie van waar julle kom nie.’ 26En dan sal julle sê: ‘Maar ons het saam met jou by die tafel gesit en geëet en gedrink, en jy het vir die mense in ons strate geleer.’ 27Maar die eienaar sal vir julle sê: ‘Ek ken julle nie, ek weet nie van waar julle kom nie. Julle almal moet weggaan van my, julle het gedoen wat verkeerd is.’ 28By die plek waarnatoe julle gaan, sal die mense huil en hard op hulle tande byt van die pyn. Julle sal vir Abraham, Isak en Jakob en al die profete sien daar waar God Koning is, maar God sal julle uitgooi buitetoe. 29Die mense sal van die ooste en die weste kom, en van die noorde en die suide, en hulle sal saam met God eet daar waar Hy Koning is. 30Julle moet dit goed verstaan: Baie mense wat nou onbelangrik is, sal dan belangrik wees, en mense wat nou belangrik is, sal dan onbelangrik wees.”
Jesus kla oor Jerusalem
(Ook Matt 23:37-39)
31Toe kom party van die Fariseërs by Jesus en hulle sê vir Hom: “Dit sal beter wees as U weggaan van hier, want koning Herodes wil U doodmaak.”
32Jesus sê toe vir hulle: “Gaan sê vir daardie man hy is onbelangrik. My werk is nou om duiwels uit mense te jaag en mense gesond te maak. Ek sal my werk klaarmaak wanneer Ek wil. 33Ek weet Ek móét later na Jerusalem gaan, want Jerusalem is die plek waar die mense nog altyd God se profete doodgemaak het. 34Mense van Jerusalem, julle maak die profete dood, julle gooi die boodskappers van God met klippe dood. Ek wou julle baie maal bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie kom nie. 35Julle moet nou goed luister: Daar sal niemand in Jerusalem oorbly wat lewe nie. Ek sê vir julle: Julle sal My nie weer sien nie tot daardie dag wanneer julle sal sê: ‘ Prys die Man wat kom, die Here het Hom gestuur om sy werk te kom doen.’ ”

Currently Selected:

Lukas 13: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy