YouVersion Logo
Search Icon

Johannes 5

5
Jesus maak 'n siek man gesond by die Betesda-dam
1Later was daar weer 'n Joodse fees, en Jesus het na Jerusalem gegaan. 2By die Skaap-poort in Jerusalem was daar 'n dam. Die Hebreeuse naam van die dam was Betesda. 3By die dam was vyf gange met pilare. Daar het baie siek mense gelê. Hulle was blind of verlam of kreupel. 5Daar het 'n man gelê wat 38 jaar lank siek was. 6Jesus het die man daar sien lê en Hy het geweet dat die man baie lank siek was. Toe vra Jesus vir hom: “Wil jy gesond word?”
7Die siek man het vir Jesus gesê: “Meneer, ek het niemand om my in die dam te sit wanneer die water begin beweeg nie. Elke maal wanneer ek probeer om in die water te kom, gaan iemand anders voor my in die water.”
8Jesus sê toe vir hom: “Staan op, neem jou slaapmat en loop!”
9Die man het dadelik gesond geword. Hy het sy slaapmat geneem en begin loop.
Dit het op 'n Sabbatdag gebeur. 10Die Jode sê toe vir die man wat gesond geword het: “Dit is 'n Sabbatdag. Jy mag nie jou slaapmat op die Sabbatdag dra nie!”
11Die man het vir die Jode gesê: “Die man wat my gesond gemaak het, het gesê ek moet my slaapmat neem en loop.”
12Die Jode het vir hom gevra: “Wie is die man wat vir jou gesê het jy moet jou slaapmat neem en loop?”
13Die man wat gesond geword het, het nie geweet wie dit was wat hom gesond gemaak het nie. Jesus was ook nie meer daar nie. Hy het weggegaan omdat daar so baie mense was. 14Later het Jesus die man in die tempel gekry. Jesus het vir hom gesê: “Jy is nou gesond. Jy moenie weer sonde doen nie, want dan sal iets met jou gebeur wat slegter is as die siekte wat jy gehad het.”
15Toe gaan sê die man vir die Jode dit is Jesus wat hom gesond gemaak het. 16Die Jode het begin om slegte dinge te doen aan Jesus omdat Hy die man op 'n Sabbatdag gesond gemaak het. 17Jesus het vir hulle gesê: “My Vader werk nog altyd, ook op die Sabbatdag. Daarom doen Ek dit ook.”
18Die Jode het van toe af hard probeer om Jesus dood te maak. Hulle wou Hom doodmaak omdat Hy nie gedoen het wat die wette oor die Sabbatdag sê nie, maar ook omdat Jesus gesê het God is sy Vader, en dit het beteken Jesus sê Hy is ook God.
Jesus kan lewe gee en mense oordeel
19Jesus het vir die Jode gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek is die Seun, maar die Seun mag nie self besluit om iets te doen nie, Hy doen net wat Hy gesien het sy Vader doen. Alles wat die Vader doen, doen die Seun ook. 20Die Vader is lief vir die Seun en die Vader wys vir die Seun alles wat die Vader self doen. Die Vader sal vir die Seun dinge wys wat wonderliker is as om 'n siek man gesond te maak. Wanneer die Seun hierdie wonderlike dinge doen, dan sal julle verbaas wees.
21“Die Vader laat mense opstaan wat gesterf het, Hy laat hulle weer lewe. Die Seun doen dieselfde, Hy laat ook mense weer lewe, die mense wat Hy wil laat lewe. 22Die Vader oordeel niemand nie. Nee, Hy sê die Seun kan die mense oordeel. 23Daarom moet almal die Seun eer, soos hulle die Vader eer. As iemand die Seun nie eer nie, dan eer hy ook nie die Vader nie, die Vader wat die Seun na die wêreld gestuur het.
24“Ek sê vir julle, en dit is seker: Die mense wat luister na wat Ek, die Seun, sê, en wat glo in God wat My gestuur het, daardie mense het klaar die ewige lewe. Hulle is nie meer geestelik dood nie, hulle lewe. 25Ek sê vir julle, en dit is seker: Daar sal iets gebeur, ja, dit het al klaar begin gebeur: Die mense wat geestelik dood is, sal nou die stem van die Seun van God hoor. Almal wat dit hoor en glo, sal geestelik weer begin lewe.
26“Die Vader lewe en Hy laat mense lewe. Hy het hierdie lewe ook vir die Seun gegee sodat die Seun ook mense kan laat lewe. 27Die Vader het ook gesê die Seun mag oordeel, want Hy is die Seun van die mens. 28Julle moenie verbaas wees hieroor nie. Daar sal 'n tyd kom wanneer almal wat nou klaar dood is en in hulle grafte lê, sal hoor dat die Seun hulle roep. 29Almal wat reg gelewe het, sal uitkom uit hulle grafte. Hulle sal weer begin lewe sodat hulle die ewige lewe kan kry. Almal wat sleg gelewe het, sal weer begin lewe sodat die Seun hulle kan oordeel. 30Ek, die Seun, mag nie self besluit om iets te doen nie. Ek luister eers wat die Vader vir My sê, dan oordeel Ek. Ja, Ek oordeel regverdig, want dit is nie Ék wat besluit wat Ek moet doen nie. Ek doen net wat die Vader wil hê, Hy wat My na die wêreld gestuur het.”
Daar is baie getuies wat sê wie Jesus is
31Jesus het vir die Jode gesê: “As Ek self sê wie Ek is, dan beteken my woorde niks. 32Maar daar is Iemand Anders wat sê wie Ek is. Dit is God. Ek weet dat die dinge wat Hy van My sê, waar is. 33Julle het mense na Johannes die Doper toe gestuur en hy het die waarheid oor My gepraat. 34Maar dit is nie nodig dat mense moet sê wie Ek is nie. Ek sê dit vir julle sodat julle kan glo en sodat God julle kan red. 35Johannes was soos 'n lamp wat brand en helder skyn, en julle was 'n kort tydjie bly oor sy lig.
36“Daar is ander dinge wat sê wie Ek is, daardie dinge sê dit beter as wat Johannes dit gesê het. Dit is alles wat die Vader gesê het Ek moet doen. Die dinge wat Ek doen, wys dat die Vader My na die wêreld gestuur het.
37“Die Vader wat My gestuur het, het ook gesê wie Ek is. Julle het die Vader se stem nog nooit gehoor nie. Julle het nog nooit gesien hoe Hy lyk nie. 38Julle het nie die Vader se boodskap in julle harte nie, want die Vader het My na die wêreld gestuur, maar julle glo nie in My nie. 39Julle lees die Ou Testament om uit te vind hoe julle die ewige lewe kan kry, en dit is die Ou Testament wat sê wie Ek is. 40Maar julle wil nie na My toe kom en die ewige lewe kry nie. 41Ek vra nie dat mense My moet eer nie. 42Ek ken julle. Ek weet daar is nie liefde vir God in julle harte nie.
43“Dit is nie Ek wat besluit het om na die wêreld te kom nie. Die Vader het My gestuur, maar julle aanvaar My nie. Maar as iemand anders self besluit om te kom, dan sal julle hom aanvaar. 44Julle kán nie glo nie, want julle wil eer hê van mekaar, nie eer van die enigste God nie. 45Julle moenie dink dit is Ek wat vir die Vader sal sê wat julle verkeerd gedoen het nie. Julle het gedink Moses sal julle help, maar dit is hý wat vir die Vader sê wat julle verkeerd gedoen het. 46Julle het nie vir Moses geglo nie, Moses wat oor My geskryf het. Daarom glo julle ook nie in My nie. 47As julle nie glo wat Moses geskryf het nie, dan sal julle ook nie glo wat Ek sê nie.”

Currently Selected:

Johannes 5: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy