YouVersion Logo
Search Icon

Genesis 34

34
Sigem verkrag vir Dina en hy wil met haar trou
1Dina was Jakob en Lea se dogter. Sy het gaan kuier by die ander meisies wat daar naby gewoon het. 2Sigem was die seun van die Hewiet Gamor wat oor daardie deel van die land regeer het. Sigem het vir Dina gesien en hy het haar gegryp en verkrag.
3Sigem het toe verlief geraak op Dina, Jakob se dogter, en hy het dit vir haar gesê. 4Sigem het vir sy pa Gamor gesê: “Sê vir hierdie meisie se ouers dat ek met haar wil trou, ek wil haar hê.”
5Jakob het gehoor dat Sigem sy dogter Dina verkrag het. Sy seuns was in die veld by die diere, en Jakob het stilgebly totdat hulle teruggekom het.
6Sigem se pa Gamor het na Jakob toe gekom om met hom te praat. 7Toe Jakob se seuns uit die veld kom, het hulle gehoor wat gebeur het. Hulle was geskok en baie kwaad omdat Sigem so 'n baie verkeerde ding gedoen het toe hy seks gehad het met Jakob se dogter. In Israel was dit baie verkeerd om so iets te doen.
8Gamor het vir hulle gesê: “My seun Sigem is verlief op julle dogter. Gee haar asseblief vir my seun sodat hy met haar kan trou. 9As julle nou julle dogters vir ons gee, dan sal ons ook ons dogters vir julle gee sodat julle met hulle kan trou. 10Julle moet altyd hier by ons woon. Die land is oop voor julle. Julle mag rondtrek in die land en julle mag woon waar julle wil.”
11Sigem het vir Dina se pa en haar broers gesê: “Ek wil een van julle familie word. Ek sal vir julle alles gee wat julle vir my vra. 12Julle mag sê hoeveel ek moet betaal om haar te kry, dit maak nie saak as dit baie is nie. Sê ook vir my watter ander presente ek vir julle moet gee. Maar gee Dina asseblief vir my sodat ek met haar kan trou.”
Simeon en Levi vermoor die mense van Sigem
13Jakob se seuns het vir Sigem en sy pa Gamor geantwoord, maar hulle was vals, want hulle wou iets doen omdat Sigem hulle suster Dina verkrag het. 14Hulle sê toe: “Ons mag nie ons suster gee vir 'n man wat nie besny is nie. Dit sal 'n skande wees. 15Ons sal net inwillig en ja sê as julle soos ons word, julle moet al julle mans en seuns laat besny. 16Dan sal ons ook ons dogters vir julle seuns gee en ons sal julle dogters vir ons seuns neem sodat hulle kan trou. Ons sal dan by julle woon en ons sal een volk word. 17Maar as julle nie na ons luister en julle laat besny nie, dan sal ons ons suster vat en weggaan.”
18Gamor en sy seun Sigem was tevrede met Jakob en sy seuns se antwoord. 19Sigem was haastig om te doen wat hulle gevra het, want hy was baie lief vir Jakob se dogter. Hy was die belangrikste man in sy pa se familie.
20Gamor en sy seun Sigem het na die stad se poort gegaan. Hulle het met die stad se manne gepraat en gesê: 21“Hierdie mense is vriendelik met ons. Laat hulle in die land woon en hier rondtrek. Die land is baie groot, dit lê oop voor hulle. Ons seuns kan dan met hulle dogters trou, en ons kan ons dogters vir hulle seuns gee. 22Maar ons moet eers al ons mans besny soos hulle dit doen, dan sal hierdie manne inwillig en ja sê om by ons te woon en om saam met ons een volk te word. 23Hulle diere, al hulle goed en al hulle vee sal dan aan ons behoort, maar dan moet ons inwillig en doen wat hulle vra. Dan sal hulle by ons woon.”
24Almal wat deur die poort van die stad gekom het, het geluister na Gamor en sy seun Sigem. Al die mans het hulle laat besny, almal wat deur die poort van die stad gekom het. 25Drie dae later, toe dit nog baie seer was nadat die mans hulle laat besny het, het Jakob se seuns Simeon en Levi, die broers van Dina, hulle swaarde gevat en hulle het na Sigem se stad gegaan. Hulle het maklik in die stad ingekom, niemand het hulle gekeer nie. Hulle het al die mans doodgemaak. 26Hulle het ook vir Gamor en sy seun Sigem doodgesteek. Hulle het vir Dina uit Sigem se huis gevat en weggegaan. 27Jakob se seuns het by die dooie mans verbygegaan en hulle het al die goed van die mense in die stad gevat omdat Sigem hulle suster verkrag het. 28Hulle het die skape en die bokke, die beeste en die donkies gevat, alles wat in die stad en in die veld was. 29Simeon en Levi het al die goed gevat wat in die huise was, ook al die kinders en vroue. Hulle het alles saam met hulle weggevat.
30Jakob het vir Simeon en vir Levi gesê: “Julle het nou vir my groot probleme gemaak. Ek moet nou skaam wees voor die mense van hierdie land, die Kanaäniete en die Feresiete. Ons is min, en as die mense van die land almal saamwerk, dan sal hulle ons oorwin en doodmaak, vir my en my huisgesin.”
31Maar Simeon en Levi het geantwoord: “Hy moes nie dinge aan ons suster gedoen het wat iemand aan 'n slegte vrou doen nie.”

Currently Selected:

Genesis 34: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy