YouVersion Logo
Search Icon

Genesis 29

29
Jakob werk vir Laban
1Jakob het verder gegaan en hy het aangekom in die land van die mense van die ooste. 2Hy sien toe 'n put in die veld, en drie troppe skape en bokke rondom die put. Die skape en bokke het altyd water gedrink uit hierdie put, maar daar was 'n groot klip op die put. 3Wanneer al die troppe skape en bokke daar bymekaar was, dan het die skaapwagters die klip weggerol van die put en dan het hulle vir die diere water gegee. Daarna het hulle die klip op die put teruggesit.
4Jakob het vir die skaapwagters gevra: “My vriende, van waar kom julle?”
En hulle het geantwoord: “Ons kom van Haran.”
5Toe vra Jakob vir hulle: “Ken julle vir Laban, die seun van Nahor?”
En hulle antwoord: “Ja, ons ken hom.”
6Hy vra toe vir hulle: “Gaan dit goed met hom?”
En hulle sê: “Ja, dit gaan goed met hom. Daar kom sy dogter Ragel nou met die skape en bokke.”
7Jakob het gesê: “Dit is nog vroeg, dit is nog nie tyd om die skape en bokke bymekaar te maak nie. Julle moet vir hulle water gee, en dan moet hulle weer gaan wei.”
8Maar die skaapwagters het gesê: “Nee, ons mag dit nie doen nie, ons moet wag totdat al die troppe skape en bokke bymekaar is. Dan rol ons die klip van die put af en ons gee vir die skape en bokke water.”
9Jakob was nog besig om met hulle te praat toe Ragel daar kom met haar pa se skape en bokke. Sy was die skaapwagter. 10Jakob het sy oom Laban se dogter Ragel gesien met Laban se skape en bokke. Hy het na die put gegaan en hy het die klip afgerol. Hy het vir sy oom Laban se skape en bokke water gegee.
11Jakob het vir Ragel gesoen en hy het begin huil. 12Hy het vir Ragel vertel dat hy familie is van haar pa, en dat hy Rebekka se seun is. Ragel hardloop toe huis toe en vertel dit vir haar pa.
13Toe Laban hoor van sy suster se seun Jakob, hardloop hy na hom toe en omhels hom en soen hom. Laban het hom na sy huis gebring en Jakob het vir Laban alles vertel. 14Laban het vir hom gesê: “Ons is familie.”
Jakob het 'n maand lank by hom gebly. 15Toe sê Laban vir Jakob: “Jy is familie van my, maar jy moenie vir my verniet werk nie. Sê vir my wat ek jou moet betaal.”
Jakob trou met Lea en Ragel
16Laban het twee dogters gehad. Die oudste dogter was Lea, en die jongste was Ragel. 17Lea se oë was nie mooi nie, maar Ragel was 'n baie mooi vrou. 18Jakob het verlief geraak op Ragel. Hy sê toe vir Laban: “Ek sal sewe jaar vir jou werk om jou jongste dogter Ragel te kry.”
19Laban het gesê: “Goed. Dit is beter dat ek haar vir jóú gee as vir 'n ander man. Jy mag hier by my woon.”
20Jakob het sewe jaar lank gewerk om Ragel te kry, maar dit het vir hom so kort gevoel soos 'n paar dae, want hy was baie lief vir haar. 21Ná die sewe jaar sê Jakob vir Laban: “Gee nou my vrou vir my, want die sewe jaar is verby en ek wil met haar trou.”
22Laban het al die mense van daardie plek bymekaargemaak en hulle het 'n groot fees gehou. 23Maar daardie aand het Laban sy dogter Lea vir Jakob gegee. Jakob het seks gehad met Lea. 24Laban het sy slavin Silpa vir sy dogter Lea gegee. 25Die volgende oggend het Jakob gesien dit is Lea wat sy vrou geword het. Toe sê hy vir Laban: “Wat het jy aan my gedoen? Ek het by jou gewerk om vir Ragel te kry. Hoekom het jy my bedrieg?”
26Toe sê Laban: “Hier by ons laat ons nie die jongste dogter voor die oudste trou nie. 27Wanneer hierdie week verby is, dan sal ek my jongste dogter ook vir jou gee, maar dan moet jy nog sewe jaar vir my werk.”
28Jakob het gedoen wat Laban gevra het. Jakob het gewag totdat die week verby was. Toe gee Laban sy dogter Ragel vir Jakob en sy het ook Jakob se vrou geword. 29Laban het sy slavin Bilha vir sy dogter Ragel gegee. 30Jakob het ook met Ragel seks gehad, en hy was meer lief vir Ragel as vir Lea. Hy het nog sewe jaar lank vir Laban gewerk.
Lea kry vier seuns
31Die Here het gesien dat Jakob minder lief is vir Lea as vir Ragel. Die Here het vir Lea kinders gegee, maar Ragel kon nie kinders kry nie. 32Lea het swanger geword en sy het 'n seun gekry. Sy het hom Ruben genoem. Sy het gesê: “Die Here het gesien dat ek swaarkry. Nou sal my man vir my ook lief wees.”
33Later het sy weer swanger geword en sy het nog 'n seun gekry. Toe sê sy: “Die Here het gesien dat Jakob minder lief is vir my, en Hy het vir my ook hierdie seun gegee.”
Daarom het sy hom Simeon genoem.
34Toe Lea weer swanger word en nog 'n seun kry, sê sy: “Nou sal my man baie meer lief wees vir my, want ek het drie seuns vir hom gekry.”
Daarom het sy hom Levi genoem.
35Sy het weer swanger geword en nog 'n seun gekry en gesê: “Nou prys ek die Here.”
Daarom het sy hom Juda genoem. Sy het nie gou weer kinders gekry nie.

Currently Selected:

Genesis 29: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy